Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Bou, plant en skep self
Deur Ernst van Zyl
Toe God die mens geskape het, het Hy ’n wese op aarde geplaas wat by uitstek ook self skeppend kan dink en doen. Die wil om te bou en die wil om te plant is inherent deel van die mens se geaardheid om hul omstandighede te verbeter deur kreatief te skep. ’n Voorbeeld van ’n gemeenskap wat vir eeue hierdie natuurlike aspek van menswees duidelik uitleef, is die Afrikaners. As ons nie boer deur te ploeg, plant en teel nie, dan skryf en skep ons alles van musiek en letterkunde tot skilderye en digkuns. Só woeker ons deur goeie en slegte tye met die talente wat God ons elkeen mee geseën het.
Wat ʼn skande en strategiese fout sou dit nie wees nie om hierdie talente, vaardighede en die vermoë om goed self te doen te verontagsaam en te verwaarloos deur eerder hierdie take van bou, plant, en skep aan die regering uit te kontrakteer. Vir die afgelope 100 jaar het al hoe meer mense hul om die bos laat lei en begin swig voor die verleidelike, gemaksugtige versoeking van die delegering van hul verantwoordelikhede en magte aan die staat.
Deur jou Godgegewe talente en behoefte om te skep, te plant en te bou ten volle uit te leef en te gebruik, lewe jy tot eer van God en tot voordeel van jou geliefdes en gemeenskap. Om hierdie talente van jou en jou roeping onder die maatemmer van onbetrokkenheid te begrawe sal nie sonder onaangename gevolge wees nie.
Plant self
Metafories plant ons kultuursade deur ons dade vir die volgende geslag, maar daar is baie maniere hoe ons ook fisies kan plant om ons huidige en toekomstige gemeenskap te dien. Die plant van bome dra by tot die verfraaiing van jou woonbuurt, verskaf skaduwee in die hitte en ʼn habitat vir voëls wat jou buurt se lug inkleur met hulle vrolike sang. ’n Antieke Griekse gesegde lui: “’n Samelewing word groot wanneer mense bome plant onder wie se skadu hulle weet hulle nooit self sal sit nie.” As jy gelukkig is en jou huis het ’n tuin, hou dit netjies en mooi – maak dit ’n aangename plek waar jy tyd saam met vriende, familie of selfs alleen kan deurbring. Die plant van gemeenskap-groentetuine help om minderbevoorregtes te voed en dra ook by tot waardevolle oordrag van kennis en vaardighede aan die volgende geslag. Hierdie aktiwiteit maak jou ook onafhanklik en selfstandig in tye van nood en swaarkry. Die effektiewe bewerking van sy grond is ʼn voorvereiste vir die voortbestaan van enige gemeenskap. Ons sal en moet self plant.
Skep self
Elke kultuur benodig kultuurgoedere om dit lewendig te hou. Ons almal het tot ʼn mate ’n talent vir kreatiewe uitdrukking in een of ander vorm ontvang. Skilder, musiek, sang, houtwerk of beeldhouwerk, letterkunde, digkuns, poësie, toneelspel, stories vertel ensovoorts is alles maniere waarop ons kultuurgoedere skep wat ons kultuur ryker maak en lewendig hou. Gebruik en ontwikkel hierdie talente van jou om mooi goed mee te skep en deel dit met jou vriende, familie en die gemeenskap om die harde swoeg en sweet van ons alledaagse lewe met iets strelends en stimulerend af te wissel. Kuns en kreatiwiteit kry ’n nuwe dimensie en word so na nuwe hoogtes geneem as dit gedeel word met ander by wie die prikkeling van al hul sintuie diep emosies kan wakker maak. Skryf, lees en sing in Afrikaans en dra sodoende by tot die bewaring van ons kultuur en taal se erfenisskatkis, sodat dit nie ophou groei en dan in onbruik verval en uitsterf nie. Ons sal en moet self skep.
Bou self
Daar is min dinge so lekker soos om agteroor te sit, te ontspan en terug te kyk na ’n lang dag se goeie werk, veral wanneer jy boonop gebou het aan iets vir jou gesin of gemeenskap. Van die asemrowende katedrale wat mens in Europa kan besigtig, het honderde jare geneem om te voltooi. Die oorspronklike bouers en argitekte wat daarmee begin het, het dit gedoen met die volle wete dat hulle beslis nie hul werk se eindproduk gaan aanskou nie. Ten spyte daarvan het hulle dit steeds aangepak, want hulle het gebou vir iets groter as hulself en vir toekomstige geslagte. Hierdie land staan vol monumente wat ons voorouers vir ons en ander help bou het. Kom ons neem inspirasie uit daardie edele ingesteldheid en doen elkeen ons deel om te help bou aan ’n beter toekoms vir onsself en vir ons nageslag, sodat hulle, soos ons, vry en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voorbestaan. Ons bou om te bly. Ons sal en moet self bou.
Slot
Hoe nader jy aan jou natuurlike aard leef, hoe gelukkiger en tevrede sal jy voel. Deel van jou aard as mens is om te skep en te bou deur te sukkel en deur hard te werk. ʼn Wyse ou man het vir my gesê: “Mense wat die meeste sukkel, sukkel omdat hulle nie hou daarvan om te sukkel nie.” Plant ywerig vir die toekoms, skep blymoedig wat mooi is en bou sonder ophou wat nodig is want die Bybel sê vir ons in die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien.
Solidariteit is gegrond op die basiese beginsels van skeppende vernuwing, die handhawing van beproefde waardes en #OnsBou aan ’n toekoms. Deur te skep leef jy volledig, volgens jou aard. C.J. Langenhoven het dit mooi opgesom: “Elke artikel wat [jy] maak is ‘n nuwe skoonheid waarvan [jy] die skepper is: dis [joune] en ‘n ander kon dit nie so gemaak het nie, want [jou] siel het [jy] daarin uitgegiet.”
Ernst van Zyl is ʼn veldtogbeampte by AfriForum vir strategie en inhoud. Ernst het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending “In alle Ernst” aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.