Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
19 uur gelede
bbp-syfers-stel-diep-teleur

Foto Krediet: ChatGPT

BBP-syfers stel diep teleur

Die nuutste BBP-syfers is net so teleurstellend as dit waaraan Suid-Afrikaners sedert 2012 gewoond moes raak. Dit lyk nie of die regering enige poging wil aanwend om Suid-Afrika van verdere verarming te red nie. Kwartaallikse groei van 0,5%, of jaarlikse groei van 1,9% is nie genoeg om aan Suid-Afrikaners se behoeftes te voldoen nie.

Veral teen die agtergrond van xenofobie en voortdurende ongelykheid en ontevredenheid, kan Suid-Afrika nie bekostig om teen hierdie lae groeikoers voort te ploeter nie. Lae groei is die oorsaak van bykans al die land se grootste probleme. Daarom moet die regering dringend luister na wat sakelui se uitdagings is, en daadwerklik optree om hierdie uitdagings te verminder.

“As groot ondernemings vir die regering sê dat duur elektrisiteit ʼn probleem is, is die regering stil. As hele industrieë kla oor duur vervoerkoste en die verval by Transnet, sukkel hulle om meer as halfgebakte beloftes uit die regering te kry. As hulle kla oor die kostes van swart ekonomiese bemagtiging, belowe die regering om hierdie wetgewing nóg strenger te maak. Die grootste vyand van groei is die regering self,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie versuim om te luister na die behoeftes van sakelui kom veral deur in die afname van -0,8% in vervaardiging. Vervaardiging was in die 1980’s omtrent ʼn kwart van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Vandag is dit minder as 12% en steeds aan die krimp. Omdat dit ʼn arbeidsintensiewe bedryf is, moet daar juis hieraan aandag gegee word om die bedryf te herstel en werksgeleenthede te skep.

“Die nuwe syfers wys weer vaste kapitaalvorming op ʼn neerdrukkende -1,1%. Die nasionale ontwikkelingsplan wil dit op 30% van BBP per jaar hê, maar die regering hou aan om beleid in te stel wat kapitaal straf eerder as om dit te beloon. Dit is lank reeds tyd om veral kapitaalbelasting drasties te verlaag en om aansporings deel van die prentjie te maak.”

As die Suid-Afrikaanse regering dit nie lonend gaan maak om hier te belê nie sal beleggers aanhou om belegging te weerhou, soos wat die syfers van vaste kapitaalvorming wys.

“Hierdie volgehoue lae groei behoort ʼn wekroep vir die regering te wees. Op hierdie tydstip word buitelanders toenemend blameer, maar dit is bloot ʼn kwessie van tyd voor Suid-Afrikaners as gevolg van ekonomiese druk teen mekaar draai. Alles moet in die stryd gewerp word om dít af te weer.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel