loading
avatar
Mediaverklarings
13 uur gelede
druk-op-tieners-verslag-en-statistiekoor-tienerwelstand-moe-twekroep-wees

Foto Krediet: Okay Deer

Druk op tieners: verslag en statistiek oor tienerwelstand moet wekroep wees

ʼn Nuwe verslag oor Skolierewelstand wat deur Solidariteit uitgereik is, waarsku teen hoë vlakke van druk, angs en gebrekkige ondersteuning vir hoërskoolleerders in Afrikaanse skole.

Die verslag, die eerste van sy soort wat uitgereik word, wek ernstige kommer met statistieke wat wys hoe hierdie faktore ʼn ganse generasie negatief kan raak.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is daar geen twyfel oor die boodskap wat deur die bevindinge oorgedra word nie.

“Die bevindinge in hierdie verslag is nie geïsoleerde waarnemings nie. Dit is harde syfers wat duidelik wys hoe leerders se welstand besig is om te verswak en hoe sowel skole as ouers sukkel om by te hou,” sê Prinsloo.

Van die mees ontstellende bevindinge sluit in:

  • 81% van ouers sê akademiese druk is die grootste uitdaging vir hul kinders
  • 74% van ouers wys op ernstige emosionele uitdagings onder leerders
  • 77% van onderwysers identifiseer sosiale media as ʼn groot negatiewe invloed
  • 68% van onderwysers sê dissipline is ʼn kernprobleem in die klaskamer
  • 59% van ouers voel hulle is nie voldoende toegerus om hul kinders emosioneel en akademies te ondersteun nie
  • 45% van onderwysers beskryf leerders se motivering as neutraal, terwyl 31% dit as negatief beskou

Volgens Prinsloo is hierdie generasie tieners ʼn generasie onder druk en wys die verslag op ʼn gevaarlike kombinasie van druk en verwagtinge.

“Ons sien ʼn perfekte storm: hoë akademiese druk, intense sosialemedia-invloede, emosionele spanning en onvoldoende ondersteuning – by die huis én by die skool,” sê sy.

Prinsloo wys egter daarop dat blaam nie voor die deur van ouers, onderwysers of skole gelê moet word nie.

“Klein persentasies ouers en onderwysers is van mening dat skoolprogramme voldoende en effektief is. Nog meer ouers én onderwysers glo dat samewerking tussen die huis en die skool slegs in sekere gevalle werk, maar tot 95% van onderwysers sê hulle wil help met leerders se welstand.

“Die meerderheid voel egter hulle het nie die nodige vaardighede nie. Ouers voel dieselfde,” verduidelik sy.

Die uitdaging is dus nie dat skole, onderwysers of ouers nie bereid is om te help nie, maar eerder dat hulle nie noodwendig toegerus voel of die nodige hulpmiddels het om voldoende ondersteuning te bied nie. Prinsloo waarsku dat hierdie tendense nie geïgnoreer kan word nie.

“Elke persentasiepunt verteenwoordig duisende kinders wat sukkel. Dit is nie net statistiek nie, maar ʼn ganse generasie wat gevaarlike hoë vlakke van druk ervaar,” sê Prinsloo.

Volgens haar moet die verslag ʼn wekroep wees en moet meer gedoen word om ouers en onderwysers te bemagtig om leerders doeltreffend te ondersteun en in staat te stel om suksesvolle hoërskoolloopbane voort te sit.

“Dit moet gebeur terwyl daar steeds tyd is vir kinders om te ontspan en kinders te wees.

“Hierdie syfers wys dat ons nie meer tyd het vir ontkenning nie. As ons nie nou optree nie, gaan die gevolge lank ná skool gevoel word.

“Ons kan nie bekostig om nog ʼn generasie aan sulke vlakke van druk, angs en swak ondersteuning, soos tans die geval is, bloot te stel nie.”

Die volledige SNI-verslag oor tienerwelstand is aangeheg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel