loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
solidariteit-rig-weer-skrywe-aan-dmo-die-keer-aan-waarnemende-minister

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit rig wéér skrywe aan DMO – dié keer aan waarnemende minister   

Deur Kyla-Ann du Toit

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) opnuut genader oor die uitgerekte vertraging in die finalisering van regulasies vir die registrasie van skoolmaatskaplikewerk as ʼn spesialisveld.

Dit volg nadat ʼn vorige skrywe wat in Maart vanjaar aan die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Sisisi Tolashe, gerig is, onbeantwoord gebly het. Ná die onlangse afdanking van Tolashe het Solidariteit die saak nou onder die aandag van die waarnemende minister, Sindisiwe Chikunga, gebring in die hoop dat dié departement uiteindelik duidelikheid sal verskaf oor die toekoms van hierdie belangrike beroepsveld.

Volgens die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is dit kommerwekkend dat daar reeds ses jaar verloop het sedert die voorgestelde regulasies vir skoolmaatskaplikewerk vir openbare kommentaar gepubliseer is, sonder dat dit nog afgekondig is.

“Ons hoop die waarnemende minister beskou hierdie as belangrik genoeg aangesien haar voorganger nie het nie. Skoolmaatskaplikewerk is krities en om hierdie ʼn spesialisveld te verklaar sal nie net beskerming vir hierdie maatskaplike werkers bied nie, maar ook duidelike riglyne stel van wat benodig word,” sê Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Die voorgestelde regulasies is reeds in 2020 vir openbare kommentaar gepubliseer. Tog is daar tot op hede geen duidelikheid oor wanneer die proses afgehandel sal word nie. Solidariteit voer aan die vertraging skep onsekerheid in die beroep en belemmer die ontwikkeling van skoolmaatskaplikewerk as ʼn erkende spesialisveld.

Skoolmaatskaplikewerkers speel ʼn kernrol in skole deur leerders met sosiale-, emosionele- en gedragsuitdagings te ondersteun, gesinne by te staan en kwesbare kinders teen probleme soos mishandeling, verwaarlosing, boeliegedrag en emosionele nood te help beskerm.

“Maatskaplike werkers binne skole word daagliks met unieke situasies gekonfronteer. Die vertraging met die regulasies laat hulle sonder die nodige duidelikheid en ondersteuning,” sê Smit.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk meen die gebrek aan vordering raak nie net die beroep nie, maar ook die breër onderwys- en maatskaplike stelsel.

Die versoek aan die departement vra onder meer vir duidelikheid oor die huidige status van die regulasies, die redes vir die vertraging en die verwagte tydraamwerk vir die finalisering daarvan. Solidariteit het ook aangedui dat die organisasie sy regte voorbehou om verdere stappe te oorweeg indien geen reaksie ontvang word nie.

Smit sê die verandering in politieke leierskap bied ʼn geleentheid om die fokus terug te skuif na die werklike uitdagings in die sektor.

“Die afgelope paar maande is die departement oorheers deur berigte oor beweerde onreëlmatige aanstellings, swak bestuur en politieke omstredenheid. Terwyl dié kwessies aandag geniet het, het belangrike beroepsake soos die finalisering van regulasies vir skoolmaatskaplikewerk na die agtergrond geskuif,” sê Smit.

“Die erkenning van skoolmaatskaplikewerk as ʼn spesialisveld is noodsaaklik vir ʼn funksionerende en ondersteunende onderwysstelsel. Ons doen dus ʼn dringende beroep op die departement om hierdie proses te prioritiseer.”

Lees die skrywe hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel