Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
nog-n-verslag-oor-koste-plaas-seb-in-spervuur

Foto Krediet: ChatGPT

Nóg ʼn verslag oor koste plaas SEB in spervuur

Nóg ʼn verslag oor die buitensporige koste van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) beklemtoon hoe die tyd vir werkbare alternatiewe tot SEB in Suid-Afrika aangebreek het.

Solidariteit verwelkom alle navorsing oor die impak van SEB en neem veral kennis van die jongste verslag deur Codera Analytics en XA Global Trade Advisors.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit bemoedigend dat ander onafhanklike instellings en navorsingsgroepe ook die erns van hierdie vernietigende beleid besef en begin om dit te ontleed.

Hy glo kritiese besprekings oor SEB was vir te lank deur ontleders en beleidsmakers as taboe beskou.

In hierdie verslag word 126 ondernemings se ervaring van SEB ontleed en word bevind dat SEB-voldoening firmas tussen 0,4% en 4% van omset kos.

Dit behels verder dat ʼn volgehoue jaarlikse koste van tussen 1% en 1,5% van omset of tussen 6,35% en 32% van netto wins ná belasting. Hierdie navorsing het bevind dat sommige ondernemings soveel as drie keer hul netto wins ná belasting aan SEB-voldoening spandeer.

“Dit strook met navorsing wat die Solidariteit Navorsingsinstituut in 2025 in samewerking met die Vryemarkstigting gedoen het.

“Hierin is bevind dat SEB-voldoeningskoste die land se ekonomiese groeipotensiaal jaarliks met tussen 2% en 4% inperk,” sê Du Buisson.

Die Codera-verslag meld verder dat meer as twee derdes van die firmas in hul navorsing aangedui het dat hulle geen waarde daarin sien om na ʼn hoër SEB-vlak op te skuif nie, veral as die hoë koste van so ʼn opgradering in ag geneem word.

Boonop het slegs 4% aangedui dat SEB volgens hulle nuwe werksgeleenthede skep, terwyl 35% aangedui het dat dit werksgeleenthede verminder. Ongeveer die helfte van die respondente het aangedui dat SEB-voldoening beleggings verminder.

Du Buisson beskryf dit as ʼn skokkende statistiek.

“Belegging deur swart aandeelhouers is immers die kern van wat SEB wil bereik. As dit sulke beleggings verminder, nie werk skep nie en geen beduidende voordele vir ondernemings inhou nie, moet ons regtig vra hoekom dit nog hoegenaamd bestaan.

“Dit is tyd dat SEB in al sy vorms geskrap word,” sê Du Buisson.

Die verslag se fokus op hoe besteding aan ander, belangriker, prioriteite afgeneem het, is iets wat Du Buisson spesifiek opval.

“Die verslag wys byvoorbeeld dat navorsing en ontwikkeling baie minder befondsing as in die verlede ontvang. Die uiteinde daarvan is dat ondernemings nie vernuwe of groei nie.”

Solidariteit hoop dat ander instellings ook die gevolge van SEB sal ondersoek en tot die gesprek sal toetree om alternatiewe te vind wat werklik die mense van Suid-Afrika bemagtig, sonder om ondernemings onder druk te plaas.

Sien Solidariteit se SEB-verslag hier.
Sien Solidariteit se padkaart na ‘n rasvrye Suid-Afrika teen 2030 hier.
Sien Codera Analytics en XA Global Trade Advisors se verslag hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel