Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die middelklas is moeg – en die staat druk nóg harder
Deur Reon Janse van Rensburg
Daar is ʼn groeiende moegheid onder gewone werkende Suid-Afrikaners. Nie die soort moegheid wat ʼn naweek in die bosveld of ʼn wegbreek langs die kus kan oplos nie, maar die soort wat stadig oor jare opbou wanneer mense voel hulle werk harder, kry minder terug, maar betaal meer.
Vir baie middelklasgesinne begin die gevoel posvat dat hulle voortdurend moet “uithou”. Salarisse rek nie so ver soos voorheen nie. Elektrisiteit raak duurder, brandstofpryse bly die hoogte inskiet, mediesefondsbydraes styg jaarliks, skoolgeld raak al moeiliker om te bekostig en belasting bly een van die grootste uitgawes in ʼn huishoudelike begroting.
Terselfdertyd voel dit vir baie mense asof dienslewering op talle plekke agteruitgaan en hoef mens net in jou onmiddellike omgewing te loer om dit raak te sien. Mense betaal belasting, maar moet dan steeds privaat opdok vir veiligheid, kragoplossings, mediese sorg en dikwels selfs basiese dienslewering wat die staat eintlik behoort te voorsien.
Die gevolg is dat baie Suid-Afrikaners voel hulle betaal dubbel om bloot ʼn normale lewe te probeer handhaaf.
Daarom gaan die frustrasie in die middelklas nie net oor geld nie. Dit gaan oor die gevoel dat harde werk nie meer noodwendig sekuriteit bring nie. Mense werk langer ure, dra meer verantwoordelikhede en absorbeer groter finansiële druk, maar voel steeds of hulle stilstaan.
Vir baie gesinne gaan dit ook oor die emosionele druk wat daarmee gepaardgaan. Ouers probeer om hul kinders in goeie skole te hou. Mense moet elke maand begrotings sny om net kop bo water te hou. Jong professionele persone besef hulle werk voltyds, maar het steeds nie noodwendig dieselfde stabiliteit as hul ouers se generasie nie.
Intussen plaas nuwe beleide en regulasies nóg druk op werkende mense en ondernemings. Die gesprek rakende kwessies soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), rassewetgewing en ekonomiese stagnasie laat baie Suid-Afrikaners wonder hoeveel meer die middelklas nog kan absorbeer voordat mense eenvoudig moed verloor.
Hierdie toenemende las veroorsaak dat baie mense vra wie bereid is om op te staan wanneer beleide en staatsbesluite die middelklas verder benadeel. Dit is juis waarom Solidariteit toenemend ʼn groter rol speel en nie meer net oor arbeidskwessies bekommerd is nie, maar ook oor die groter stryd vir ekonomiese welvaart, meriete en die beskerming van mense wat steeds werk, belasting betaal en probeer bou aan ʼn toekoms in Suid-Afrika.
Solidariteit se Regsfonds is dus vir baie mense meer as net ʼn regsmeganisme – dit is ʼn manier om terug te veg teen beleide en besluite wat gewone Suid-Afrikaners al hoe verder vasdruk. Die Regsfonds gaan uiteindelik oor iets groter as hofsake of beleid. Dit gaan oor die beskerming van die regsorde, billikheid en die beginsel dat gewone burgers nie bloot magteloos hoef toe te kyk hoe druk op die middelklas bly toeneem nie.
Solidariteit se boodskap is duidelik: As mense nie saamstaan en terugveg vir hul regte nie, gaan die druk net toeneem.
Daarom het Solidariteit die afgelope paar jaar herhaaldelik gefokus op onder meer die las wat belastingbetalers dra en waarom die Regsfonds toenemend voorgestel word as iets wat ondersteun en versterk moet word.
Mense wil bloot weet dat hul harde werk steeds iets beteken; dat verantwoordelikheid steeds beloon word; dat daar steeds mense is wat bereid is om op te staan wanneer die druk eenvoudig te veel raak, want wanneer die mense wat die ekonomie dra begin moed verloor, raak dit uiteindelik die hele land.
Sluit vandag aan en veg saam met Solidariteit!