loading
avatar
Artikels
3 jaar gelede
solidariteit-binne-die-solidariteit-beweging

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit binne die Solidariteit Beweging

Die ontstaan van die Solidariteit Beweging kan tot sover as Junie 1902 teruggevoer word toe die Transvaal Miners’ Association gestig is wat later Solidariteit geword het. Die Solidariteit Beweging is uit die vakbond Solidariteit gebore, en in dié sin is die vakbond as ’t ware die Beweging se ouboet.

Solidariteit het mettertyd sterk onder die besef gekom dat ʼn eng fokus op die werkplek nie voldoende gaan wees vir ons lede nie. Ons het besef dat ons lede nie net werkende wesens is nie. Hulle moet elke dag in hul omgewings leef, hulle moet veilig wees, daar is nood onder hulle en hulle is ook kulturele wesens.

Ná 1997 was Solidariteit daarom aktief betrokke by die vestiging van die Solidariteit Beweging. Die Solidariteit Beweging is die sambreelorganisasie wat ʼn klomp verskillende instellings soos AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, Maroela Media en ander insluit wat ten doel het om ʼn toekoms te help bou waarin die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is. Elke instelling het hierdie doel in hul stigtingsakte vervat of deur resolusies aanvaar. In 2015 het Solidariteit se Nasionale Raad ook hierdie doel aanvaar.

Die onderskeie instelling word in die Solidariteit Beweging Trust saamgebind.

Dié instellings het almal selfstandig geword met ʼn karakter van hul eie en hulle vorm ʼn hele nuwe Beweging waarvan Solidariteit met trots deel is.

Intussen fokus Solidariteit ook op die vestiging van opleidingsinstellings. Behalwe dat ons geweet het dat daar nie op die staat gesteun kan word vir opleiding nie, veral nie in Afrikaans nie, het ons geweet dat kennis die beste mededingende voordeel aan ʼn minderheid in ʼn meerderheidsomgewing bied. Ons geheime wapen vir werk vir die toekoms is dus kennisinstellings. #OnsSalSelf.

Die Beweging, en dus ook Solidariteit, is daarom nie bloot ʼn algemene Suid-Afrikaanse beweging nie, maar dit is ʼn beweging úít en vír ʼn spesifieke taal- en kultuurgemeenskap. Dit beteken geensins dat die Solidariteit Beweging in isolasie bestaan nie, want baie van dit wat ons doen, is ten behoewe van ander wat in Suid-Afrika woon.

Die chronologiese ontwikkeling van die groot instellings van die Solidariteit Beweging is soos volg:

Solidariteit: 1902

Die FAK: 1929 (vanaf 2011 deel van die Beweging)

Helpende Hand: 1949 (vanaf 2001 deel van die Beweging)

AfriForum: 2006

Sol-Tech: 2007

Maroela Media: 2011

Akademia: 2012

Die formalisering van die Beweging Trust: 2013

Die Skoleondersteuningsentrum: 2015

Kanton: 2019

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy: 2020

Die Mynwerkersunie het in 1997 uit 20 000 betalende lede bestaan. In 2022 het al die instellings van die Solidariteit Beweging saam sowat 570 000 lede en ʼn bedryfsbegroting van meer as R1 miljard.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel