loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
r630-miljoen-terug-na-staatskas-terwyl-onderwysposte-bedreig-word

Fotokrediet: Okay Deer

R630 miljoen terug na staatskas terwyl onderwysposte bedreig word

Solidariteit se Onderwysernetwerk eis antwoorde nadat die Departement van Basiese Onderwys sowat R630 miljoen aan onbestede voorwaardelike toelaes aan die Nasionale Tesourie terugbetaal het.

Dit gebeur terwyl skole met onderwysertekorte worstel en subsidiebesnoeiings tot die aflegging van onderwysers kan lei.

Volgens Johan Botha, hoof van dié netwerk, is dit onaanvaarbaar dat beskikbare onderwysgeld onbestee bly terwyl skole onder toenemende finansiële druk verkeer.

“Skole moet elke rand omdraai om onderwysers in die klaskamer te behou, maar die Departement betaal miljoene terug omdat dit nie bestee is nie.

“Onderwysers en leerders kan nie telkens die prys vir gebrekkige beplanning en uitvoering betaal nie,” sê Botha.

Die netwerk het reeds gewaarsku dat subsidiebesnoeiings onderwysposte bedreig en bestaande tekorte kan vererger. Minder onderwysers beteken groter klasse, ʼn swaarder werklading en minder individuele aandag aan leerders.

Volgens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) is R630 miljoen gelykstaande aan die beraamde indiensnemingskoste van ongeveer 900 onderwysers vir ʼn jaar. Hoewel voorwaardelike toelaes nie noodwendig vir salarisse aangewend mag word nie, illustreer dié vergelyking die omvang van die bedrag wat onbestee gebly het.

“Die Departement moet kom en verduidelik watter toelaes en projekte geraak is, waarom die geld nie bestee is nie en watter stappe gedoen is om onderbesteding te voorkom.

“Ons verwag ʼn herstelplan met duidelike sperdatums en aanspreeklikheid. Onderwysgeld moet betyds aangewend word om onderrig te ondersteun,” sê Botha.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel