Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
23 uur gelede
solidariteit-waarsku-teen-nasionalisering-van-privaat-onopgeeiste-pensioengeld

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit waarsku teen nasionalisering van privaat onopgeëiste pensioengeld

Solidariteit waarsku teen die sentralisering van enige privaat onopgeëiste pensioengeld en ander finansiële bates deur die staat.

Die Nasionale Tesourie het in Augustus 2026 ʼn konsepraamwerk vir die sentralisering van onopgeëiste finansiële bates bekend gemaak, met ʼn aanvanklike fokus op aftreefondse. Na raming beloop dié bates meer as R88 miljard.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het tydens die mediumtermynbegrotingsrede aangekondig dat die regering voortgaan met verdere tegniese werk om die institusionele, wetlike en operasionele raamwerk vir die sentraliseringsproses daar te stel.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit, kom dié sentralisering neer op die nasionalisering van privaat finansiële bates.

“Dit is vir Solidariteit duidelik dat die plan om privaat onopgeëiste bates te sentraliseer ʼn manier is waarop die staat bates in privaat besit deur die agterdeur wil nasionaliseer.

“Alhoewel voorgehou word dat die doel is om begunstigdes te help om die geld op te eis, is die werklike uitkoms dat die staat eienaarskap van privaat geld, veral van pensioengeld, wil neem.

“Dit laat die rooi ligte flikker en kan as die kaping van privaat eiendom beskou word,” sê Croucamp.

Volgens Solidariteit behoort die staat se rol beperk te wees tot die daarstelling van ʼn regulatoriese raamwerk waarbinne privaat finansiële instellings self die eisproses kan bestuur, eerder as om beheer oor privaat geld oor te neem.

Pensioenfondse beskik reeds oor bestuurstrukture, waaronder rade en trustees, wat verantwoordelik is vir die bestuur en beskerming van hul lede se belange.

“Dit is belaglik dat die staat nou dié funksie van fondse wil wegneem en hul lede só wil benadeel. Privaat fondse is die eiendom van die regmatige begunstigdes en nie dié van die staat nie.

“Enige poging om privaat pensioengeld in staatsbesit te plaas, moet teengestaan word,” sê Croucamp.

Die regering se planne sluit ook die sentralisering van dormante bankrekeninge, beleggings en onopgeëiste versekeringsvoordele in.

Solidariteit beplan om verdere insette tot die proses te lewer en sal alle moontlike stappe oorweeg om privaat eienaarskap van aftreegeld en ander finansiële bates te beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel