Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Uitstel van internskapplasings laat jong dokters sonder inkomste en ontspoor loopbane
Robin-Lee Maré
Solidariteit se mediese beroepsnetwerk doen ʼn beroep op mediese interns wat deur die verskuiwing van hul 2027-internskapplasings geraak word om dringend met die netwerk in verbinding te tree.
Verskeie mediese gegradueerdes wat vir internskapplasings vanaf 1 Januarie 2027 aansoek gedoen het, het eers ná die aanvaarding van hul plasings ontdek dat hul aanvangsdatum na 1 April 2027 verskuif is.
Volgens inligting wat die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) ontvang het, het minstens 94 aansoekers reeds aangedui dat hulle deur dié uitstelling geraak word. Die gevalle sluit gegradueerdes van die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van KwaZulu-Natal in.
Die werklike getal kan egter aansienlik hoër wees, aangesien sommige aansoekers na bewering opgehou het om plasings te aanvaar nadat die probleem met die aanvangsdatums aan die lig gekom het.
Petria Pottas, organiseerder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerk, sê die manier waarop die veranderde aanvangsdatums gekommunikeer word, wek ernstige kommer.
“Hierdie jong dokters het vir plasings met ʼn aanvangsdatum van 1 Januarie 2027 aansoek gedoen. Sommige het hul eerste keuse ontvang en die plasing aanvaar met die redelike verwagting om op daardie datum te begin werk. Eers ná aanvaarding word hulle met ʼn brief gekonfronteer wat aandui dat hulle eers op 1 April 2027 kan begin. Dit plaas jong dokters in ʼn uiters moeilike posisie,” sê Pottas.
Die Nasionale Departement van Gesondheid erken ook probleme met aanvangsdatums in sy jongste opdatering oor die Internskap- en Gemeenskapsdiensprogram (ICSP). Volgens die Nasionale Departement van Gesondheid is 94% van 8 533 aansoekers aan wie plasings toegeken is, vir hul versoekte aanvangsdatum geplaas. Die oorblywende 6%, oftewel 528 aansoekers, het alternatiewe aanvangsdatums ontvang. Die departement noem die verskil tussen aansoekers se aangeduide aanvangsdatums en die aanvangsdatums van beskikbare poste uitdruklik as een van die bekommernisse wat geopper is.
Wat mediese interns betref, toon die departement se syfers dat daar 2 126 aansoekers en 2 166 beskikbare internskapposte was. Die opdatering dui verder aan dat 147 mediese interns ʼn alternatiewe aanvangsdatum ontvang het.
“Die vraag is dus nie bloot of daar poste beskikbaar is nie. Ons moet weet waarom dokters wat gereed is om op 1 Januarie te begin, eers drie maande later kan begin, en volgens watter kriteria die verskillende aanvangsdatums toegeken word,” sê Pottas.
Solidariteit is veral bekommerd oor gevalle waarin interns binne dieselfde plasingsreëlings dieselfde toewysing ontvang het, maar verskillende aanvangsdatums gekry het. Daar moet duidelikheid wees oor die kriteria waarvolgens hierdie besluite geneem word.
Die gevolge van die uitstelling strek veel verder as net drie maande sonder werk.
ʼn Intern wat eers op 1 April 2027 begin, sal die internskap eers op 31 Maart 2028 voltooi. Dit kan die daaropvolgende gemeenskapsdiensplasing uitstel, asook registrasie in die toepaslike beroepskategorie en toegang tot verdere opleiding.
“Hierdie uitstelling veroorsaak ʼn sneeubaleffek in ʼn jong dokter se loopbaan. Hulle verloor nie net drie maande se inkomste nie; die hele volgende fase van hul professionele ontwikkeling kan ook uitgestel word. Dit raak uiteindelik ook die gesondheidsfasiliteite en gemeenskappe wat hierdie dokters broodnodig het,” sê Pottas.
Die tekort aan befondsde poste bly boonop ʼn wesenlike uitdaging binne die breër ICSP-stelsel. In sy opdatering van 16 Oktober het die Departement van Gesondheid self aangedui dat die grootste onmiddellike uitdaging ʼn tekort aan befondsde poste vir mediese gemeenskapsdiens is. Die dokument wys ook op ʼn afname in die beskikbare gemeenskapsdiensposte vir dokters en die behoefte aan bykomende poste in verskeie provinsies.
Solidariteit se mediese beroepsnetwerk is reeds by die situasie betrokke en wil vasstel hoe wydverspreid die probleem onder sy lede en ander mediese interns is.
“Ons vra enige dokter wat vir 1 Januarie 2027 aansoek gedoen het, maar ʼn plasing met ʼn latere aanvangsdatum ontvang het, om met Solidariteit se mediese beroepsnetwerk in verbinding te tree. Ons wil die omvang van die probleem behoorlik bepaal en seker maak die stemme van diegene wat direk hierdeur geraak word, word gehoor,” sê Pottas.
“Jong dokters wat hul studies voltooi het en gereed is om te werk, behoort nie maande lank in onsekerheid gelaat te word oor wanneer hulle hul verpligte opleiding kan begin nie. Daar moet dringend duidelikheid wees oor die redes vir die verskuiwings, die kriteria wat gebruik word en hoe die probleem reggestel gaan word.”