Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Is jy belastingvoos?
Deur Nico Strydom
Suid-Afrika se belastingstelsel verlam sy ekonomie – Suid-Afrikaners is heeltemal oorbelas en kan dit nie meer bekostig om die staat se sakke vol geld te stop nie.
Terwyl Suid-Afrika se BTW-koers van 15% betreklik vergelykbaar is met dié van verskeie ander lande, bied daardie lande gewoonlik beweegruimte aan belastingbetalers deurdat laer persoonlike of korporatiewe inkomstebelasting gehef word. Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), eis die Suid-Afrikaanse staat egter hoë belasting op alle fronte – en dít van ʼn bevolking wat reeds belastingvoos is.
Die SNI het ʼn verslag oor belasting op toegevoegde waarde (BTW) in Suid-Afrika saamgestel wat wys hoe elke rand in die ekonomie stelselmatig belas word.
“Ons kan dit aan die hand van ʼn voorbeeld verduidelik waar ʼn verbruiker R1 by ʼn onderneming bestee en waarvan 27% dan vir korporatiewe belasting gehef word. Daarna wend die onderneming die orige 73c aan om ʼn middelklaswerknemer se salaris te betaal. Só ʼn werknemer moet dan weer inkomstebelasting van 26% betaal. En sou die salaristrekker daarna die oorblywende 54c in ʼn winkel bestee, volg BTW van 15%. Wat bly oor? Net 45c van die oorspronklike R1,” sê Du Buisson.
Hy glo dit is ʼn voorbeeld van hoe mense se besteebare inkomste verdwyn, maar ook waarom ekonomiese groei in Suid-Afrika nie moontlik is nie. “Nuwe siklusse van hierdie aard kan eenvoudig nie begin nie, want daar is nie meer geld oor om te bestee of te belê nie. Heelwat meer as 50% van elke R1 beland só in die staat se sak wat gereeld ʼn bodemlose put is,” sê Du Buisson.
“BTW is ook maar net ʼn deel van die probleem. In Suid-Afrika betaal ons hoë belasting. Hoe dit ook al sy, korporatiewe belasting, persoonlike belasting én BTW is hoog. Suid-Afrikaners is heeltemal oorbelas en kan dit nie verder bekostig om die staat se sakke vol te stop nie.”
Net meer as 2,5 miljoen mense betaal 84% van alle persoonlike inkomstebelasting in Suid-Afrika. Ekonome waarsku al lank dat die belastinglas op ʼn kleiner aantal individue al swaarder word, met die ekonomie wat nie groei nie en talle belastingbetalers wat die land verlaat.
Baie belastingbetalers word ook in werklikheid dubbel belas aangesien hulle private dienste moet bekom omdat die regering nie die dienste verskaf waarvoor belastinggeld aangewend moet word nie. Dit sluit in geprivatiseerde veiligheidsdienste en geprivatiseerde mediese dienste.
Belastingbetalers moet verder toekyk hoe ʼn groot gedeelte van hul swaarverdiende geld deur die regering gevat word, en in ruil daarvoor kry hul geen dienste nie of swak dienste terwyl daar amper daagliks berigte is van hoe belastinggeld gesteel of vermors word.
Die regering maak grootliks op hierdie klein groepie belastingbetalers staat, en die antwoord is nie om hulle al swaarder te belas nie, maar eerder om die belastingbasis te vergroot deur die ekonomie te laat groei.