Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
‘Quiet cracking’: Die waarskuwingstekens wat elke werkgewer moet raaksien
Deur Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling
Jou mees toegewyde werknemer kom elke dag betyds werk toe. Hulle lewer goeie werk. Hulle kla nie. Maar iets het verander. Die entoesiasme is weg. Hulle is stiller, emosioneel afwesig en begin stadig onttrek. Hierdie verskynsel word al hoe meer normaal en staan internasionaal beter bekend as “quiet cracking”.
“Quiet cracking” of “crashing out” word beskryf as die stadium voordat sigbare uitbranding plaasvind. Dit is wanneer werknemers steeds funksioneer en hul werk doen, maar emosioneel begin afskakel weens langdurige stres, oorlading en konstante druk.
Hoe verskil uitbranding en “quiet quitting” van “quiet cracking”?
Al hierdie kondisies word veroorsaak deur langtermynspanning, maar verskil in hoe dit by persone manifesteer. Uitbranding word gekenmerk aan dalende prestasie omdat die persoon uitgeput is.
“Quite quitting” is waar personeel bewustelik kies om slegs die minimum te doen omdat hulle moeg en ongewaardeerd voel. “Quiet cracking” is wanneer werknemers steeds presteer, maar emosioneel besig is om te verbrokkel.
Hoekom maak hierdie saak?
Vir organisasies is “Quiet Cracking” gevaarlik omdat dit dikwels onsigbaar is. Teen die tyd wat bestuur agterkom dat daar iets fout is, het produktiwiteit reeds begin daal, betrokkenheid afgeneem en die werknemer oorweeg moontlik reeds om die organisasie te verlaat.
Die moderne werkplek verlang vandag baie meer van personeel as wat redelik is. Daar word van mense verwag om meer met minder te doen. Werkplekke waar werk-lewe-balans slegs ’n mite is, ongesonde werkplekkultuur en gewoontes, en werkplekke waar boelies floreer is van die grootste drywers van hierdie tendens.
Tekens waarna bestuurders moet oplet:
- • Werknemers wat emosioneel onttrek.
- • Minder deelname tydens vergaderings.
- • Verhoogde irritasie of kortaf antwoorde.
- • Kreatiwiteit en inisiatief neem af.
- • Meer foute as gewoonlik.
- • Gereelde afwesigheid of laat kom.
- • Werknemers wat konstant uitgeput lyk.
Wat kan werkgewers doen?
- • Skep ʼn kultuur waar mense veilig voel om probleme te bespreek.
- • Lei bestuurders op om vroeë waarskuwingstekens raak te sien.
- • Beloon nie net resultate nie, maar ook gesonde werksgewoontes.
- • Stel realistiese werksverwagtinge en bestuur werkslading.
- • Moedig behoorlike verlof en rustyd aan.
- • Maak gereelde een-tot-een gesprekke deel van jou bestuurspraktyk.
- • Onthou dat die beste werknemers dikwels dié is wat die langste stilbly voordat hulle breek.
Hoewel “quiet cracking” nie ʼn amptelike kliniese diagnose is nie, beskryf dit ʼn groeiende tendens wat baie organisasies wêreldwyd begin raaksien.
Bou én behou ʼn span van staatmakers
ʼn Sterk span begin by die aanstelling van die regte mense, maar word gebou deur ʼn werksomgewing te skep waarin werknemers ondersteun en gewaardeer voel. Deur die vroeë tekens van “quiet cracking” raak te sien en betyds op te tree, kan werkgewers waardevolle personeel behou en ʼn gesonder, meer betrokke werksmag ontwikkel.
Solidariteit se aanlyn werkgemeenskap verbind jou met duisende gemotiveerde en gekwalifiseerde werksoekers. Op Solidariteit-aanlyn kry jy toegang tot kandidate wat gereed is vir hul volgende loopbaangeleentheid en saam met jou onderneming wíl groei.
Maak jou werwingsproses makliker en vind mense wat by jou onderneming pas danksy Solidariteit se aanlyn werksgemeenskap.