loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
kan-ki-jou-reputasie-by-die-werk-skaad

Foto Krediet: Pexels

Kan KI jou reputasie by die werk skaad?

Deur Nico Strydom

Van e-posse en aanbiedings tot CV’s, werksaansoeke en beleidsdokumente, al hoe meer werkers gebruik generatiewe (of skeppende) kunsmatige intelligensie (KI) en dit het ʼn alledaagse hulpmiddel geword.

“Daar is egter ʼn belangrike verskil tussen mense wat KI as ʼn hulpmiddel gebruik en dié wat hul denke daaraan uitkontrakteer,” sê Regine le Roux, stigter en besturende direkteur van Reputation Matters.

“Die probleem is nie KI nie. Die probleem is wanneer mense bloot kopieer en plak sonder om self te dink, te verfyn of eienaarskap van hul kommunikasie te neem.”

Volgens die resultate van ʼn peiling wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) gedoen is, sê vier uit vyf werknemers wat KI gebruik dat dit hul werkverrigting verbeter, terwyl drie uit vyf meen dit maak hul werk meer aangenaam. Terselfdertyd waarsku die verslag dat die voordele slegs volhoubaar sal wees indien ondernemings duidelike riglyne daarstel en opleiding verskaf, en dat menslike oorsig noodsaaklik bly.

Al hoe meer ondernemings stel reeds interne KI-beleide op wat bepaal wanneer werknemers KI mag gebruik, watter inligting nie met openbare KI-platforms gedeel mag word nie en wanneer menslike oorsig en hersiening nodig is.

Volgens Le Roux gebruik mense toenemend KI om werksaansoeke, e-posse en selfs professionele kommunikasie op te stel.

“Daar ʼn paar onmiskenbare tekens dat iemand KI met min of geen redigering gebruik het,” sê Le Roux. Dit sluit in onnodig lang verduidelikings, herhaling van dieselfde gedagte, oordrewe formele taal, ʼn neutrale, onpersoonlike skryfstyl en absolute sekerheid, selfs wanneer die inligting verkeerd is.

Le Roux waarsku dat ʼn professionele reputasie uiteindelik nie deur perfekte grammatika gebou word nie.

“Vertroue, verhoudings, emosionele intelligensie en goeie oordeel bly die boustene van ʼn sterk reputasie.”

Volgens haar behoort KI ʼn hulpmiddel te wees om idees te ontwikkel, nie ʼn plaasvervanger vir kritiese denke nie.

“Ek gebruik self KI om my te help dink, struktureer en verfyn, maar ek aanvaar nooit die eerste weergawe nie. Jy moet dit uitdaag, verander en jou eie maak.”

Namate KI vinnig deel van die moderne werkplek word, beweeg die gesprek al hoe meer na die bestuur en regulering daarvan.

Die Europese Kommissie se KI-wet plaas reeds groter klem op deursigtigheid en aanspreeklikheid vir die gebruik van KI, veral waar dit mense se regte of loopbane kan raak.

Hoewel Suid-Afrika nog nie spesifieke KI-wetgewing het nie, verwag kenners dat ondernemings toenemend hul eie interne KI-beleide sal ontwikkel. Hierdie beleide sal waarskynlik fokus op aspekte soos databeskerming, vertroulikheid, menslike goedkeuring en verantwoordelike gebruik van KI in die werkplek.

Volgens Le Roux is die vraag nie of mense KI moet gebruik nie, maar eerder of hulle dit verstandig gebruik.

“Die mense wat in die toekoms gaan uitstaan, gaan nie noodwendig dié wees wat nooit KI gebruik nie. Dit gaan die mense wees wat KI gebruik sonder om hul eie stem, oordeel en geloofwaardigheid prys te gee.”

Le Roux meen KI kan mense help om vinniger te werk, maar dat dit uiteindelik steeds mense is wat reputasies bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel