loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
rassebeleid-dit-is-wat-werkgewers-moet-weet

Foto Krediet: Solidariteit

Rassebeleid: Dit is wat werkgewers moet weet

Deur Nico Strydom

Dit is nou uiters belangrik dat werkgewers alle rassebeleide en rasplanne wat in hul werkplek geld, aanpas om seker te maak dit voldoen aan die hofbevel wat onlangs uitgevaardig is nadat Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering ʼn skikkingsooreenkoms rakende rassebeleide in die werkplek bereik het.

Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering wat maatskappye se rassebeleide ingrypend verander, is einde Oktober in die Johannesburgse arbeidshof ʼn bevel van die hof gemaak. Volgens die hofbevel moet die bepalings van die ooreenkoms as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word.

Die ooreenkoms en bevel van die hof bepaal dat geen absolute hindernis geplaas mag word op enige indiensnemingspraktyke wat enige persone van enige groep raak nie.

Vir die doel van die voorbereiding en implementering van ʼn diensbillikheidsplan (oftewel ʼn rasplan) en verslagdoening oor en voldoeningsontleding van regstellendeaksiepraktyke in ʼn werkplek, moet die volgende kriteria voortaan in ag geneem word:

  • die inherente vereistes verbonde aan die pos;
  • die poel van toepaslik gekwalifiseerde persone;
  • kwalifikasies, vaardighede, ervaring en kapasiteit en die vermoë om die werk te doen binne ‘n redelike tydraamwerk te bekom;
  • die tempo van personeelomset en natuurlike personeelafname by ʼn werkplek; en
  • werwing- en bevorderingsneigings by ʼn werkplek.

Regverdige of redelike gronde vir die nienakoming van rasseteikens, sluit in:

  • onvoldoende werwingsgeleenthede;
  • onvoldoende bevorderingsgeleenthede;
  • onvoldoende teikenindividue uit die aangewese groepe wat oor die relevante kwalifikasies, vaardighede en ervaring beskik;
  • KVBA-beslissings/ʼn hofbevel;
  • die oordrag van ʼn onderneming;
  • die oorname of samesmelting van ʼn onderneming; en
  • die impak op bedryfsekonomiese omstandighede.

ʼn Werkgewer sal nie aanspreeklik wees vir enige boetes of enige vorm van benadeling indien billike of redelike gronde bestaan waarom daar nie aan teikens voldoen is nie. Geen diensbeëindiging van enige aard mag gebruik word om regstellende aksie te bewerkstellig nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, benadruk dat die ooreenkoms en hofbevel bepaal dat niemand op grond van hulle ras of enige rasplanne afgedank of afgelê mag word nie.

“Dit bepaal ook onder meer dat rassebeleide tydelik moet wees, dat ras nie die enigste faktor mag wees wat geld by die opstel van rasplanne nie en dat die poel van beskikbare vaardighede én die maatskappye se unieke omstandighede ook in die proses in ag geneem moet word. Die ooreenkoms wat bereik en by wyse van ʼn hofbevel geformaliseer is, bepaal ook in watter omstandighede ʼn maatskappy nievoldoening daaraan kan motiveer.

“Solidariteit sal nie huiwer om die regering of enige maatskappy se nienakoming van die inhoud van dié bevel in die hof te toets nie.”

Volgens Hermann is die era waarin slegs rassedemografie as teikens gestel is nou verby. Die sakrekenaar-rassebenadering is nou bloot onwettig.

Hermann glo baie onsekerhede in die werkplek is na dese uit die weg geruim. Hermann sê hierdie ooreenkoms is ʼn belangrike deurbraak.

“Dit is ʼn historiese gebeurtenis dat ʼn internasionale liggaam gehelp het om ʼn skikking oor ras in ʼn land te fasiliteer. Alhoewel hierdie ooreenkoms die rassebeleidlandskap in die land totaal gaan verander en ʼn oorwinning op ʼn belangrike slagveld behaal is, is die oorlog teen die regering se rasse-ideologie nog nie gewen nie.”

Solidariteit en die regering verskyn weer aan die einde van November voor die Verenigde Nasies. “Solidariteit het weer ʼn verslag oor regstellende aksie in Suid-Afrika by die VN ingedien en vra duidelikheid oor ʼn einddatum vir rassebeleide in Suid-Afrika. Maatskappye kan reeds begin om bepalings in hul planne aan te bring oor ʼn einddatum vir hul rassebeleide.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel