loading
avatar
Blogs
1 jaar gelede
regsfondslede-maak-solidariteit-se-hande-sterk

Foto Krediet: Solidariteit

Regsfondslede maak Solidariteit se hande sterk

Deur Heléne Mocke

Solidariteit-lede wat bydra tot die Regsfonds het in die afgelope paar jaar só baie ondersteuning vir ons regsaangeleenthede gebied. Hierdie bydraes dien as ʼn kragtige ondersteuningstelsel vir individue, werknemers en gemeenskappe wat voel dat hulle onregverdig behandel word. staan Die Regsfonds staan in die voorste linies van verskeie kritieke regsgedinge, van taalregte en gesondheidsorg tot arbeidsregtelike kwessies, om onreg te beveg.

NGV: Die stryd om toegang tot gratis gesondheidsorg

Een van die mees prominente regsgedinge waarby Solidariteit betrokke is wat deur lede se geld wat hulle aan die Regsfonds skenk moontlik gemaak word, is die teenkanting teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV). Solidariteit is al geruime tyd besig om dié wet te kritiseer as die implementering van ʼn stelsel wat nie net die gesondheidsorgstelsel in gevaar stel nie, maar ook die kwaliteit van gesondheidsorg vir almal benadeel.

Solidariteit se regspan het reeds verskeie regsaksies van stapel gestuur om te verhoed dat hierdie omstrede wet geïmplementeer word. In die volgende paar maande gaan Solidariteit die hof nader om die NGV-saak onbetwis op die rol te plaas, aangesien die regering se hofstukke al vir maande lank nie gereed is nie.

Bela: Oorwinning vir Afrikaans

Solidariteit se Regsfonds het ook ʼn beduidende oorwinning behaal in sy stryd teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, oftewel die Bela-wet. Twee omstrede artikels wat Afrikaanse skole sou benadeel (artikels oor die taal- en toelatingsbeleide), is vir eers suksesvol teruggehou danksy Solidariteit se regsaksie. Hierdie oorwinning verseker vir nou dat skole steeds beheer het oor hul taalbeleid en dat Afrikaans as onderrigtaal beskerm word, wat ouers in staat stel om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig.

Die stryd om Afrikaans as prominente taal in ons land te beskerm strek verder as net die skole. Solidariteit speel ook ʼn sleutelrol in die beskerming van Afrikaans as akademiese taal aan universiteite. Solidariteit veg vir die reg van Afrikaanse gemeenskappe om hul moedertaal uit te leef, daarin te werk en te leer. Hierdie veldtog om die behoud van moedertaalonderrig is ʼn kernprioriteit vir Solidariteit en die Regsfonds is die belangrikste ondersteuningsmiddel in hierdie geveg.

Solidariteit se regspan staan  natuurlik ook gereed om Solidariteit-lede by te staan in ander arbeidsregtelike sake. Dit sluit in hulp met onregverdige afdankings en ander arbeidsverwante uitdagings. Wanneer werkers onregverdig afgedank word, tree die Regsfonds in om ondersteuning d.m.v. regsverteenwoordiging te bied en sodoende het Solidariteit al verskeie oorwinnings in arbeidsrade behaal, wat Solidariteit-lede help om geregtigheid te kry in hul werksomgewings.

Deur hierdie oorwinnings en deurlopende regsgedinge, het die Regsfonds keer op keer bewys dat dit ʼn noodsaaklike ondersteuningsmiddel is wanneer dit kom by die beskerming van Afrikaners se regte en die bevordering van gelykheid in Suid-Afrika.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel