Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Die president weier om ‘dit’ te veroordeel
Nicolien Welthagen
Ek begin gewoonlik my dag deur die nuus te lees. Natuurlik is ek al lank bewus van hierdie netelige kwessie en ja, dit is al tot vervelens toe beskryf en bespreek, maar vandag wonder ek tog:
Hoe laat dit Afrikaners werklik voel as jou president nie die oortuiging, moed en leierskap het om die lied en die woorde “Kill the boer” te veroordeel nie?
Vandag in Newsday lui die opskrif van ʼn plasing “President Cyril Ramaphosa refuses to condemn an incitement to kill white farmers in South Africa”. Die berig handel oor die siening van die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, wat hy in ʼn onderhoud op Fox News gedeel het.
Ek voel gespanne wanneer ek sulke opskrifte lees. Nie net omdat die lied en taalgebruik toegelaat word nie, maar ook omdat dit nie veroordeel word nie. President Cyril Ramaphosa skuil agter “die Konstitusionele Hof het dan reeds beslis dit IS NIE HAATSPRAAK NIE!”
Voel die reaksie uit die hoogste politieke geledere vir jou ook vaag, ontwykend en onvoldoende? Ja, ek beleef dit diep persoonlik!
Vir baie Afrikaners gaan dit nie net oor een lied, een hofsaak of een, eintlik talle, nuusopskrif nie. Dit gaan oor wat sulke oomblikke kommunikeer. Dit laat ons twyfel of ons vrese gehoor en ernstig opgeneem word. Praat ons met iemand wat ons ignoreer en sy rug op ons draai? Is daar werklik politieke wil om ook ons kwesbaarheid duidelik te erken? Of moet ons maar gewoond raak daaraan dat sekere dreigende taal teenoor ons gemeenskap altyd ontken of as niksseggend afgemaak gaan word?
Hierdie vrae laat ons nie net diep gefrustreerd nie, maar ook emosioneel wantrouig. Dit is wanneer jy begin voel dat die regering jou nie werklik beskerm, raaksien of ernstig opneem nie. Dit het ʼn paar beduidende gevolge.
Die eerste is natuurlik dat jy minder veilig voel. Selfs mense wat nie direk deur geweld geraak is nie, kan begin voel dat daar nie meer op die staat se simboliese beskerming staatgemaak kan word nie. In ʼn gesonde samelewing behoort leierskap nie net fisieke veiligheid na te streef nie, maar ook morele duidelikheid te gee oor taal wat spanning, vervreemding of dreigemente aanwakker.
Die tweede gevolg is emosionele moegheid. As ʼn gemeenskap herhaaldelik ervaar dat sy vrese bevraagteken, afgewater of wegverduidelik word, begin mense emosioneel afskakel. Hulle volg steeds die openbare debat, maar verwag al hoe minder regverdige erkenning of daadwerklike optrede. Dit is gevaarlik, aangesien emosionele moegheid maklik tot ʼn siniese, verbitterde en passiewe gemeenskap kan lei.
Dan volg die verbrokkeling van nasionale samehorigheid en die gevoel dat jy hier hoort en hier wil wees. Mense se verhouding met ʼn land word nie net deur wette en beleide gevorm nie, maar ook deur die gevoel dat hul waardigheid en veiligheid in die land se openbare diskoers erken word. Sulke kwessies laat mense voel asof hulle slegs in naam formeel burgers is, maar dat hulle emosioneel aan hulself oorgelaat word.
Terselfdertyd is dit belangrik om nugter oor die saak te dink. ʼn Mens moet versigtig wees om nie elke vae of swak politieke reaksie outomaties as bewys van totale vyandigheid te beskou nie. Openbare taal is kompleks, partypolitiek is dikwels berekend, en politieke leiers vermy soms direkte uitsprake om ander redes. Juis daarom is die impak op gewone mense so belangrik: wat ook al die politieke berekening is, die belewenis aan die ontvangkant is dikwels een van vervreemding en onveiligheid.
Die vraag is dan: hoe moet Afrikaners hieroor dink?
Eerstens het jy die reg om sulke reaksies van die president en ander politici ernstig op te neem. As mense voel dat morele duidelikheid ontbreek wanneer dit by dreigende taal en uitsprake kom, is dit nie bloot oorgevoeligheid nie. Woorde dra simboliese krag; dit vorm die klimaat waarin mense hul plek, hul veiligheid en hul toekoms begin interpreteer.
Tweedens is dit belangrik om nie in totale emosionele oordrywing of wanhoop te verval nie. Nie elke teleurstellende politieke reaksie beteken dat alle hoop verlore is nie. Dit beteken egter wel dat mense hul hoop nie uitsluitlik op politieke leierskap kan vestig nie.
Gemeenskapsweerbaarheid en persoonlike weerbaarheid is uiters belangrik. Die kernpunt is miskien dit: die grootste skade van vae of onvoldoende politieke reaksies, lê nie net in die woorde self nie, maar ook in wat dit aan mense se emosionele welstand doen. Dit leer hulle om minder te vertrou, minder te verwag en soms minder te hoop.
Die regte reaksie is dus nie histerie nie, maar helderheid. Nie paniek nie, maar waaksaamheid. Nie emosionele afskakeling nie, maar sterker gemeenskaps- en persoonlike ankers.
As politieke leierskap en hul uitsprake jou onseker en onrustig laat voel, help dit om doelbewus terug te beweeg na dit waar jy wel nog invloed het. Praat met jou gesin of vriende oor wat julle ervaar, eerder as om elkeen stil met sy eie spanning rond te loop. Beperk ook hoe gereeld jy ontstellende nuus inneem, aangesien konstante blootstelling jou senuweestelsel in ʼn staat van spanning hou.
Bly naby aan mense en ruimtes wat vir jou stabiliteit gee – jou huisgesin, geloofsgemeenskap, vriende, werksverpligtinge en jou plaaslike gemeenskap. Doen klein, konkrete dinge wat jou ʼn gevoel van rigting gee: help iemand, raak betrokke by ʼn plaaslike saak, hou by gesonde daaglikse roetines en fokus op dit wat jy vandag nog kan bou en beskerm.
Dit sal nie die hele land oornag verander nie, maar wanneer ʼn mens begin fokus op wat jy wel kan beskerm, versorg en opbou, skuif jy van ʼn toestand van magteloosheid na weerbaarheid.
Nicolien Welthagen is ʼn senior navorsingsielkundige verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.