loading
avatar
Blogs
1 week gelede
dit-gaan-oor-meer-as-net-punte-wees-jou-kind-se-ondersteuningsnetwerk

Fotokrediet: Okay Deer

Dit gaan oor meer as net punte: Wees jou kind se ondersteuningsnetwerk

Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod

Kwartaal 4 is hier, en daarmee saam kom die eindeksamen, akademiese druk en, vir baie skoliere, ʼn mengsel van spanning, onsekerheid en moegheid.

Ek het onlangs met Johan Laten, stigter van Reboot Your Resilience, gesels oor die belangrikheid van ʼn sterk ondersteuningsraamwerk vir skoliere, veral gedurende eksamentyd. Ons gesprek het beklemtoon hoe belangrik dit is dat skoliere weet daar is mense rondom hulle na wie hulle kan uitreik wanneer die druk begin toeneem.

In hierdie tyd het jou tiener nie net iemand nodig wat vra: “Het jy geleer?” nie. Hulle het ook iemand nodig wat vra: “Hoe gaan dit regtig met jou?”

ʼn Sterk ondersteuningsnetwerk kan ʼn belangrike verskil maak. Dit kan ouers, familielede, onderwysers, afrigters, geestelike leiers en ander vertroude volwassenes insluit. Die belangrikste is dat ʼn tiener weet: Ek hoef nie alleen hierdeur te gaan nie.

Wees beskikbaar om te luister

Tieners vra nie altyd direk vir hulp wanneer hulle swaarkry nie. Hulle kan stiller raak, hulself onttrek, geïrriteerd optree of belangstelling in gewone aktiwiteite verloor.

Dit beteken nie noodwendig dat iets verkeerd is nie, maar dit kan ʼn geleentheid wees om uit te reik.

Jy hoef nie met ʼn groot gesprek te begin nie. Soms is ʼn eenvoudige vraag soos “Ek het opgemerk dat jy die afgelope tyd stiller is. Hoe gaan dit regtig met jou?”genoeg om die deur oop te maak.

Wanneer jou kind begin praat, probeer om nie dadelik die probleem op te los nie. Sit jou foon neer, gee jou volle aandag en luister eers. Erken wat hulle voel en vra: “Wil jy hê ek moet net luister, of wil jy hê ons moet saam na ʼn oplossing kyk?”

Bou vertroue voordat daar ʼn krisis is

ʼn Veilige ruimte word nie tydens een groot gesprek geskep nie. Dit word mettertyd gebou.

Wees konsekwent. Hou jou beloftes. Moenie dadelik oordeel nie. Erken jou foute wanneer jy verkeerd gereageer het. Toon ook belangstelling in jou kind se lewe wanneer daar nie ʼn probleem is nie.

Gereelde, alledaagse gesprekke oor vriende, skool, sport, belangstellings en die dinge wat vir jou kind belangrik is, help om ʼn verhouding te bou waarin moeiliker gesprekke later makliker kan plaasvind.

En as jou tiener nie wil praat nie? Gee ruimte, maar moenie verdwyn nie. Sê eenvoudig: “Dit is oukei as jy nie nou wil praat nie. Ek is hier wanneer jy gereed is.” Vra later weer.

Jy hoef nie alles te kan regmaak nie

As ouer hoef jy nie ʼn terapeut, onderwyser of kenner te wees om ʼn verskil te maak nie.

Soms is die belangrikste ding wat jy kan gee, jou tyd, jou aandag en die versekering dat jou kind nie alleen daardeur hoef te gaan nie.

Wanneer ʼn tiener se emosionele of gedragsveranderinge voortduur, vererger of hul daaglikse funksionering beïnvloed, kan professionele ondersteuning nodig wees. Indien ʼn tiener oor selfbesering of selfdood praat, moet dit altyd ernstig opgeneem word en moet toepaslike hulp dringend verkry word.

Sterkte vir kwartaal 4!

Ouers, julle hoef nie hierdie kwartaal alleen aan te pak nie. Jou kind se ondersteuningsnetwerk strek verder as net die mense rondom die etenstafel.

Solidariteit se Skoliere-aanbod bied ʼn verskeidenheid gratis hulpbronne om skoliere en ouers deur die laaste kwartaal en eksamentyd te ondersteun – van leer- en studiewenke tot loopbaan- en vakkeusehulp.

Maak van hierdie hulpbronne gebruik, deel dit met jou kind en herinner hulle daaraan dat hulle nie alleen deur hierdie tyd hoef te gaan nie. Wanneer die druk toeneem, wees die veilige plek waar jou kind kan kom asemhaal, praat en weer moed skep. Onthou ook dat Solidariteit hierdie pad saam met julle stap.

Sterkte met die laaste kwartaal – ons is hier om te help!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel