Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
‘Ek kan nie meer byhou nie’ – die onsigbare druk wat tieners ervaar
Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod
Daar word baie van jong mense verwag. Hulle moet goed presteer op skool, hul toekoms begin beplan, sosiaal inpas, goed lyk, hul talente ontwikkel en terselfdertyd ontdek wie hulle werklik is.
Maar wat gebeur wanneer dié verwagtinge begin voel soos ʼn las wat jou kind nie meer kan dra nie? Wanneer “Ek wil graag goed doen” verander in: “Ek móét goed doen, anders is ek nie goed genoeg nie.”
Solidariteit se Skoliere-aanbod wil jong mense bemagtig om hul toekoms én hul welstand met selfvertroue te hanteer. Daarom het ek met Johan Laten, stigter van Reboot Your Resilience, gesels oor die druk wat tieners ervaar en hoe ouers hulle kan help wanneer dit voel asof hulle nie meer kan byhou nie.
Die druk wat niemand sien nie
Tieners hoef nie noodwendig direk deur iemand anders gedruk te word om druk te ervaar nie. Hulle sien klasmaats wat beter presteer, ander tieners op sosiale media wat gewilder of gelukkiger lyk, en vriende wat reeds hul toekoms beplan.
Voeg hierby matriekpunte, studiegeleenthede, loopbaankeuses en onsekerheid oor werk en finansies. Dit kan ʼn jong mens maklik laat dink: “As ek nie nou suksesvol is nie, gaan ek agter raak.”
Ambisie is egter nie die probleem nie. Die probleem begin wanneer gesonde ambisie in ongesonde druk verander.
As ouer kan dit help om op frases soos die volgende te let:
- • “Ek mag nie ʼn fout maak nie.”
- • “Almal is beter as ek.”
- • “Ek moet ʼn sekere punt behaal.”
- • “Ek lyk nie goed genoeg nie.”
Gedragsveranderinge soos perfeksionisme, uitstel, onttrekking, geïrriteerdheid, slaapprobleme of voortdurende uitputting kan ook tekens wees dat die druk te veel raak. Soms is die grootste druk egter nie buite die tiener nie, maar in hul eie kop.
Help jou kind om na die stem in hul kop te luister
Wanneer ʼn tiener dink: “Ek móét alles regkry,” kan die eerste stap wees om te stop en te vra:
“Wag. Plaas ek dalk te veel druk op myself?” Nie elke gedagte is ʼn feit nie. Wanneer jy ʼn fout maak, met ander vergelyk word of voel dat jy nie byhou nie, vra jouself: “Wat sê ek nou vir myself? Is dit waar – of is dit die druk wat praat?”
Een van die belangrikste dinge wat ʼn jong mens kan leer, is om dit wat met hulle gebeur, te skei van wie hulle is.
“Ek is nie gekies nie” beteken nie “Ek het geen waarde nie.”
“Iemand hou nie van my nie” beteken nie “Ek is onwaardig nie.”
Prestasie, voorkoms, punte of ander mense se menings behoort nie die maatstaf van ʼn jong mens se waarde te word nie.
STOP. SKEI. KIES. DOEN.
Wanneer jou tiener oorweldig voel, kan hierdie vier eenvoudige stappe help om die druk in kleiner dele op te breek:
1. STOP
Moedig jou kind aan om eers stil te staan voordat die gedagtes verder opbou: “Wag. Ek hoef nie nou alles reg te kry nie.”
2.SKEI
Help jou tiener om te onderskei tussen wat gebeur het en wat hulle daaroor dink: “Wat het gebeur, en wat sê ek nou daaroor?”
ʼn Swak punt, fout of teleurstelling is bloot iets wat gebeur het. Dit bepaal nie wie jou kind is nie.
3. KIES
Laat jou kind hulself vra: “Wat sou ek vir ʼn goeie vriend sê as hulle nou in my situasie was?”
Help hulle om daardie selfde eerlikheid en deernis ook op hulself toe te pas.
4. DOEN
Jou kind behoort te vra: “As ek glo dat ek waarde het, wat kan ek nou vir myself doen?”
Dit kan beteken om hulp te vra, ʼn grens te stel, te rus of eenvoudig weer te probeer.
Selfwaarde word dikwels sigbaar in die keuses wat ons maak. Help jou kind om raak te sien wat wél goed gaan. Tieners fokus maklik op wat verkeerd geloop het, wat hulle nie bereik het nie of waar hulle tekortgeskiet het. Ouers kan help om die fokus te verbreed.
Moedig jou kind byvoorbeeld aan om aan die einde van elke week oor drie dinge na te dink:
- • Waar het ek moed aan die dag gelê?
- • Watter moeilike situasie het ek hanteer>
- • Hoe het ek myself of iemand anders goed behandel?
Dit help om die fokus te verskuif van “Wat het ek bereik?” na “Wat sê dit van wie ek is?”
Jou kind se waarde strek verder as punte, voorkoms, talent of prestasie.
Wat kan jy as ouer doen?
Ouers bedoel dit gewoonlik goed wanneer hulle vra: “Het jy gewen?” of “Wat sê Meneer van jou mondeling?” Maar wanneer prestasie die fokus van gesprekke word, kan ʼn tiener maklik begin voel dat wat hulle bereik belangriker is as wie hulle werklik is.
Gee daarom ook erkenning aan dinge wat nie op ʼn rapport verskyn nie: volharding, verantwoordelikheid, vriendelikheid en die moed om hulp te vra.
Wanneer ʼn tiener sê: “Ek kan nie meer byhou nie,” help dit om die druk in kleiner, meer hanteerbare dele op te breek:
Vra saam:
- • Wat moet ek vandag hanteer?
- • Wat kan wag?
- • Wat hoef ek nie alleen te dra nie?
Luister voordat jy raad gee
Ouers se natuurlike reaksie is dikwels om oplossings aan te bied. Soms het ʼn tiener egter eers nodig om gehoor te word. Aanhoudende druk, gevoelens van hopeloosheid, onttrekking of selfbesering moet egter nie as gewone tienerstres afgemaak word nie; neem hierdie tekens ernstig op en kry professionele hulp.
Moenie die standaard verlaag nie, verander eerder wat sukses beteken.
Die antwoord is nie om tieners te leer dat prestasie onbelangrik is nie, maar eerder dat prestasie nie hul waarde bepaal nie. Jy kan hard werk én rus. Jy kan ambisieus wees én foute maak. Jy kan suksesvol wees én onseker voel.
Wanneer jong mense leer om na hul innerlike stem te luister, realistiese verwagtinge te stel en hul waardes deur hul keuses uit te leef, ontwikkel hulle ʼn vaardigheid wat hulle lank ná hul skooljare kan gebruik: die vermoë om hulself met meer begrip en selfrespek deur moeilike tye te dra.
Solidariteit se Skoliere-aanbod wil jou kind bemagtig om nie net hul toekoms te beplan nie, maar ook om die mens te verstaan en te ontwikkel wat hulle op pad daarheen word.
Skep vandag nog jou profiel op Solidariteit-aanlyn en kry gratis toegang tot inhoud en hulpmiddels wat Solidariteit se Skoliere-aanbod spesiaal vir jou en jou kind ontwikkel het om onder meer gesprekke oor welstand, loopbaanontwikkeling, selfkennis en die toekoms te begin.