loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
juffrou-wat-moet-ek-kies-onderwysers-hoef-nie-al-die-antwoorde-te-he-nie

Fotokrediet: Unsplash

“Juffrou, wat moet ek kies?” Onderwysers hoef nie ál die antwoorde te hê nie

Deur Leré Nel

“Juffrou, wat dink Juffrou moet ek kies?”

Menige onderwyser ken dié vraag. Soms gaan dit oor vakke vir graad 10, soms oor ʼn studierigting en soms oor ʼn loopbaan na skool.

Leerders vra hierdie vraag omdat hulle hul onderwysers vertrou. Onderwysers sien in watter rigting en in watter vakke leerders uitblink, hoe hulle uitdagings aanpak en wat hul belangstelling prikkel. Dié insig kan waardevol wees, maar daar behoort nie verwag te word dat onderwysers al die antwoorde moet hê nie.

“ʼn Onderwyser hoef nie die loopbaanadviseur, vakadviseur én studiekeusekenner te wees nie,” sê Mari Ferreira, organiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod. “Die belangrikste bydrae is dikwels om leerders te help om die regte vrae te vra en verdere ondersteuning te kry.”

Waarom dié gesprekke moeilik kan wees

“Goeie akademiese prestasie vertel iets oor ʼn leerder se hardwerkendheid, maar nie alles oor sy of haar belangstellings en loopbaanverwagtinge nie,” sê Ferreira. Twee leerders wat ewe goed in Wiskunde op skool presteer, kan uiteenlopende loopbaanpaaie volg.

Vakkeuses kan ook toegang tot sekere studierigtings beïnvloed. Toelatingsvereistes verskil tussen instellings en kan verander. Daarom behoort hierdie gesprekke ruimte vir navorsing te skep, eerder as om ʼn vinnige antwoord te probeer gee.

Praktiese raad vir onderwysers

Ferreira gee ʼn paar stukkies advies oor hoe onderwysers hierdie gesprekke beter kan hanteer:

Begin by belangstellings en sterkpunte. Vra watter aktiwiteite die leerder geniet, ook buite die klaskamer. Deel konkrete waarnemings, soos: “Ek sien jy geniet dit om probleme op te los.” Dit bied ʼn vertrekpunt vir verdere ondersoek.

Kyk dieper as een goeie eienskap. Moenie ʼn loopbaan slegs op grond van prestasie in een vak aanbeveel nie. Gesels ook oor die soort werk wat die leerder geniet – al is dit nie skoolwerk nie.

Verbreed die leerder se perspektief. Moedig leerders aan om minder bekende beroepe en verskillende opleidingsroetes, insluitend die ambagte, te ondersoek. Ope dae, skaduwerk en gesprekke met beroepslui kan waardevolle insig bied.

Maak navorsing prakties. Help die leerder om moontlike rigtings te lys en amptelike vak- en toelatingsvereistes na te gaan. Moedig gesprekke met ouers of voogde aan.

Verwys wanneer nodig. Wanneer ʼn vraag buite die onderwyser se kundigheid val, is dit goed om die leerder na ʼn kenner – soos ʼn beroepsvoorligter – te verwys.

Solidariteit se Skoliere-aanbod help verder

Onderwysers en skole kan Solidariteit se Skoliere-aanbod se hulpbronne by hul begeleiding betrek en ouers en leerders daarna verwys.

Die belangstellingbepaler help leerders om hul belangstellings en moontlike loopbaanrigtings te ondersoek. #Vakkeusevideo’s verduidelik aan leerders wat verskillende vakke behels. Vir individuele begeleiding kan leerders die netwerk van loopbaanvoorligters en toetskundiges verken.

Die #LeerMyLeierskap-reeks, vir graad 7- tot 11-leerders, ondersteun persoonlike ontwikkeling deur onder meer kommunikasie en verantwoordelikheid te bevorder.

Die volgende tree is genoeg

Die doel is nie dat elke leerder onmiddellik ʼn finale antwoord moet kry uit ʼn gesprek met sy of haar onderwyser nie. ʼn Beter vraag of duidelike volgende stap kan reeds ʼn verskil maak.

“Onderwysers help leerders om ingeligte toekomsbesluite te neem, maar hoef nie dié verantwoordelikheid nie alleen te dra nie,” sê Ferreira.

Klik hier om al die nuttige hulpbronne te verken wat Solidariteit se Skoliere-aanbod beskikbaar het om leerders in hul skoolloopbaan te ondersteun of stuur ʼn e-pos na skolier@solidariteit.co.za vir meer inligting.

Bly ingeskakel by die Solidariteit Onderwysernetwerk vir nog waardevolle wenke en relevante nuus in jou beroep!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel