Fotokrediet: Die Voortrekkers/Facebook
Gekopieër
Meer as net ʼn kenteken: wat Die Voortrekkers vir jong mense beteken
Deur Mari Ferreira
Wat het ʼn kamp, ʼn staptoer, ʼn kenteken, ʼn span en ʼn stuk tou met ʼn jong mens se toekoms te doen? Dalk meer as wat jy dink.
Die Voortrekkers is veel meer as net kampe, avontuur en kentekens. Dit is ʼn moderne jeugorganisasie wat daarop fokus om jong mense se karakter te vorm, vaardighede te ontwikkel en hulle toe te rus om diensbare leiers te wees.
Só word jong mense vir die toekoms toegerus
Ek het met dr. Karin Stoffberg, hoofleier van Die Voortrekkers, gesels oor die rol wat die organisasie in jong mense se ontwikkeling speel.
Volgens haar is die doel eenvoudig: om jong mense toe te rus met die vaardighede, Christelike waardes en kennis om in ʼn vinnig veranderende wêreld te floreer. Die Voortrekkers beskryf dit aan die hand van die ABCD: jong mense moet ontwikkel tot moderne Afrikaners, positiewe Burgers, standvastige Christene en Diensbare leiers.
Een van die grootste waardes van Die Voortrekkers is dat jong mense nie net leer wat iets beteken nie – hulle kry die geleentheid om dit prakties te ervaar. Deur kampe, uitstappies, staptoere, spanaktiwiteite en kentekens ontwikkel jong mense onder meer weerbaarheid, kommunikasie, probleemoplossing, aanpasbaarheid en verantwoordelikheid. Hulle leer ook praktiese vaardighede soos noodhulp, spoorsny, kampkook en touwerk.
En dan gebeur iets belangriks: ʼn jong mens ontdek dat hy of sy kán.
Kan ʼn probleem oplos.
Kan ʼn uitdaging aanpak.
Kan verantwoordelikheid neem.
Kan saam met ander werk.
Kan volhard wanneer dinge moeilik raak.
Dit is vaardighede wat elke leerder en jong mens nie net op skool nodig het nie, maar regdeur die lewe.
Een van die sterkste boodskappe wat Die Voortrekkers aan jong mense oordra, is dat leierskap nie ʼn posisie is nie. Jy hoef nie hoofseun, hoofmeisie, kaptein of leerlingsraadslid te wees om ʼn leier te wees nie. Elke jong mens kry die geleentheid om verantwoordelikheid te aanvaar, ander te dien en hul potensiaal te ontwikkel. Want ware leierskap begin wanneer jy bereid is om verantwoordelikheid te neem.
Hierdie fokus op diensbaarheid en die ontwikkeling van jong mense as leiers is iets wat Solidariteit se Skoliere-aanbod ook sterk ondersteun. Dit is juis die uitgangspunt van ons #LeerMyLeierskap-reeks: om jong mense te help besef dat leierskap nie iets is wat eers begin wanneer jy ʼn balkie kry nie. Dit begin by jou karakter, jou keuses en die manier waarop jy elke dag teenoor ander optree.
Jou toekoms gaan oor meer as jou beroep
By Solidariteit Skolier help ons skoliere om vrae te beantwoord soos: Watter vakke moet ek kies? Wat moet ek studeer? Watter beroep pas by my? Maar daar is ʼn vraag wat selfs belangriker is: Wie wil ek word?
Want jou toekoms gaan oor veel meer as die beroep wat uiteindelik op jou CV staan. Dit gaan oor jou karakter, waardes, vaardighede, verantwoordelikhede en die verskil wat jy in die wêreld wil maak.
Daarom is geleenthede soos dié wat deur Die Voortrekkers aangebied word, so waardevol. ʼn Jong mens se ontwikkeling gebeur nie net in die klaskamer nie. Dit gebeur wanneer hulle nuwe dinge probeer, uitdagings aanpak, verantwoordelikheid aanvaar, ander help en leer om op hul eie voete te staan.
Jong mense wat kan bou, lei en dien
Suid-Afrika het jong mense nodig wat nie net oor kennis beskik nie, maar ook veerkragtig, verantwoordelik, aanpasbaar en diensbaar is. Jong mense wat bereid is om uitdagings en probleme aan te pak eerder as om daarvan weg te hardloop; wat hul potensiaal ken en dit doelgerig gebruik om iets groter as hulself te bou.
Dít is die soort jong mense wat Die Voortrekkers help vorm en toerus.
En dít is ook die groter doel van Solidariteit se Skoliere-aanbod: om jong mense nie net te help om ʼn studierigting of beroep te kies nie, maar om hulle toe te rus om hul toekoms met selfvertroue en doelgerigtheid aan te pak.
Want uiteindelik begin ʼn mens se loopbaan nie op die eerste dag van universiteit of by jou eerste werk nie. Dit begin lank voor dit … by die mens wat jy besig is om te word.
Jou toekoms gaan nie net oor wat jy eendag wil wees nie. Dit gaan oor wie jy vandag besig is om te word.
Wil jy meer weet?
Ontdek meer oor Die Voortrekkers, hul waardes en die geleenthede wat hulle aan jong mense bied by www.voortrekkers.co.za.
En wat jou eie toekoms betref, hoef jy nie die pad vorentoe alleen te probeer uitwerk nie. Solidariteit se Skoliere-aanbod help jou met vakkeuses, loopbaanvoorligting, studiegeleenthede en die volgende stap op jou pad.
Jou toekoms begin met die keuses wat jy vandag maak. Verken al die hulpbronne wat Solidariteit se Skoliere-aanbod vir leerders bied op Solidariteit-aanlyn.