Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
TopMatriek: Afrikaanse matrieks se plekkie in die son
Deur Ané Janse van Rensburg
Agter elke uitsonderlike matriekpunt skuil jare se harde werk, deursettingsvermoë en die ondersteuning van onderwysers en ouers. Met TopMatriek 2026 wil Solidariteit juis hierdie prestasies vier en Afrikaanse matriekuitblinkers hul welverdiende plekkie in die son gee.
Die inisiatief, wat oorspronklik uit die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jaarlikse nasionale matriekverslag ontstaan het, sal na verwagting in Januarie 2027 amptelik bekend gestel word wanneer die klas van 2026 se matriekuitslae bekend gemaak word.
Volgens Mari Ferreira, digitale netwerkorganiseerder vir Solidariteit se Onderwysernetwerk en Skoliere-aanbod, gaan TopMatriek oor meer as net akademiese erkenning.
“Ons wil nie net hul prestasies erken nie, maar hulle ook help om die volgende tree op hul lewens- en loopbaanpad met selfvertroue te gee. Akademiese uitnemendheid behoort immers nie die einde van ’n suksesverhaal te wees nie, maar die begin van nuwe geleenthede.”
Erkenning vir vakuitblinkers
TopMatriek bou voort op die SOS se jaarlikse nasionale matriekverslag en wil uitsonderlike prestasies in bepaalde vakgebiede onder ’n breër gehoor se aandag bring.
Die beoogde vakgebiede sluit Rekeningkunde, Inligtingstegnologie, Afrikaans Huistaal, Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Ekonomie, Landboutegnologie, Landboubestuurspraktyke en Ingenieursgrafika en -ontwerp in.
Die inisiatief fokus op Afrikaanse matrikulante, maar dit beteken nie dat slegs leerders van enkelmedium- Afrikaanse skole erken kan word nie. Die SOS se definisie van Afrikaanse skole sluit ook parallelmedium- en dubbelmediumskole met minstens 15 Afrikaans Huistaal-kandidate in, asook Engelse skole wat Afrikaans Huistaal aanbied.
Ferreira sê die erkenning strek verder as die individuele leerder. “Wanneer ’n jongmens se prestasie gevier word, kan dit ook ander leerders inspireer om doelgerig te werk, hul vermoëns te ontwikkel en met groter vertroue oor hul eie toekoms te droom.”
Elana Kriel, opvoedkundige sielkundige by Akademia, meen erkenning vir akademiese prestasie kan leerders motiveer om hul akademiese potensiaal verder te ontwikkel. “Dit versterk hul selfvertroue, bevestig hul vermoëns en kan hulle motiveer om hul akademiese potensiaal steeds verder te ontwikkel deur ná matriek met hul studie voort te gaan.”
Hoe word toppresteerders gekies?
Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, verduidelik dat skole hul topkandidate deur middel van ’n Google-vorm sal inskryf. Slegs kandidate wat Afrikaans Huistaal as matriekvak neem, sal vir die toekennings oorweeg word.
Kandidate se finale NSS-eksamenpunt vir 2026 sal eerste oorweeg word, gevolg deur hul eksamenvraestelpunt, skoolgebaseerde assesseringspunt en finale graad 11-eksamenpunt.
Indien kandidate steeds gelykop eindig, sal hulle dieselfde posisie op die ranglys beklee. “Die beoordeling geskied dus suiwer op meriete en ons vertrou die skoolhoofde se integriteit met die afteken van die GoogleForm-inskrywing,” sê Vermeulen.
’n Voorspoedige toekoms in Afrikaans
Vir Solidariteit bied TopMatriek ook ’n geleentheid om die waarde van Afrikaans as onderrigtaal te beklemtoon.
“Akademiese erkenning help om die boodskap uit te dra dat Afrikaans nie net ’n taal van kultuur en identiteit is nie, maar ook ’n taal waarin jongmense kan leer, presteer, innoveer en hul toekoms bou,” sê Ferreira.
Die inisiatief word in samewerking met onder meer die SOS, Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding, Maroela Media en PretoriaFM beplan.
Volgens Ferreira beskik Solidariteit se Skoliere-aanbod oor loopbaanontwikkelingshulpmiddels wat leerders kan help om hul sterkpunte en moontlike studierigtings te verken. Pryse sal ook aan die eerste drie presteerders in elke deelnemende vakgebied toegeken word.
Dr. Lizán Maree, bestuurder van Bemarking by Akademia, moedig matrikulante wat onseker is oor hul volgende stap aan om krities te besin oor hul belangstellings, sterkpunte en die bydrae wat hulle graag eendag wil lewer. “’n Goeie studiekeuse begin immers nie nét by dit waarin jy goed presteer nie, maar óók by dit wat jou nuuskierig maak, jou inspireer en betekenis aan jou toekoms gee.”
“By Akademia beskou ons akademiese uitnemendheid egter as méér as net bloot goeie prestasie. Dit omvat óók die toekomsgerigte ontwikkeling van selfstandige denke, leergierigheid, selfdissipline, deursettingsvermoë en ʼn verantwoordelike studie-ingesteldheid.”
Die bewusmakingsveldtog begin reeds in November 2026, terwyl die volledige kompetisiereëls en nominasiebesonderhede in Januarie 2027 bekend gemaak sal word.
Matrikulante kan intussen op Maroela Media en PretoriaFM se webblaaie registreer om hul matriekuitslae te ontvang. Dié registrasie is nie ’n inskrywing vir TopMatriek nie. Met TopMatriek wil Solidariteit aan Afrikaanse matriekuitblinkers veel meer as net ’n plek op die ranglys gee. Dit gaan oor die erkenning van hul harde werk, die viering van hul talent en
Hou ook S dop vir meer inligting oor TopMatriek 2026.