loading
avatar
Artikels
1 week gelede
solidariteit-vier-25-jaar-en-stel-s-op-nasionale-kongres-bekend

Fotokrediet: Solidariteit

Solidariteit vier 25 jaar en stel S op Nasionale Kongres bekend

Deur Marice de Jager

Van 25 jaar se bouwerk tot ʼn nuwe digitale wêreld vol geleenthede!

Solidariteit se Nasionale Kongres, wat op 30 Oktober gehou is, was vanjaar ʼn besondere geleentheid waartydens die organisasie op sy geskiedenis en suksesse teruggekyk en sy visie vir die komende jare gedeel het.

Solidariteit vier vanjaar 25 jaar sedert die voormalige Mynwerkersunie in 2001 die naam Solidariteit aangeneem het. Dié mylpaal is tydens vanjaar se kongres gevier, terwyl die bekendstelling van S, Solidariteit se nuwe app en digitale bymekaarkomplek, ʼn nuwe hoofstuk ingelui het.

Henk Kruger is op ʼn vergadering van Solidariteit se Nasionale Raad as die nuwe president van Solidariteit verkies, met Blackie Swarts as visepresident. Dié aanstellings lui ook ʼn nuwe hoofstuk vir Solidariteit se leierskap in.

Henk Kruger, nuwe president van Solidariteit.

25 jaar van bou, beskerm en groei

In sy toespraak het Solidariteit se uitvoerende hoof, dr. Dirk Hermann, teruggekyk op die organisasie se geskiedenis, wat reeds in 1902 met die stigting van die Transvaal Miners’ Association begin het.

Wat eens hoofsaaklik ʼn vakbond vir mynwerkers was, het tot ʼn organisasie ontwikkel wat werknemers in verskeie bedrywe beskerm en terselfdertyd aan ʼn netwerk van opleidingsinstellings, beroepsgemeenskappe en werksgeleenthede bou.

Hermann het onder meer verwys na die groei van instellings soos Sol-Tech, Akademia en Bo-Karoo Opleiding, asook Solidariteit se beroepsnetwerke en regsdienste. Hy het dit duidelik gemaak dat Solidariteit se hart by die gemeenskap lê, en dat elkeen se individuele bydrae help om klein drome in konkrete realiteite te verander.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.

Volgens Hermann is sowat 40 000 sake die afgelope 25 jaar namens Solidariteit-lede hanteer, waarvan ongeveer 90% gewen is.

“Baie dinge het verander, maar ons bestaansdoel bly dieselfde. Ons beskerm mense se werk,” het Hermann beklemtoon.

S: Jou aanlyn wêreld!

Een van die groot hoogtepunte van die kongres was die bekendstelling van S, Solidariteit se digitale wêreld waar mense toegang tot praktiese hulpmiddels, geleenthede en ʼn Afrikaanse werksgemeenskap kry.

Hennie Bierman, Solidariteit se adjunk- uitvoerende hoof van die Platform en Kommersialisering, het verduidelik hoe S mense, kennis en geleenthede binne die gemeenskap met mekaar verbind.

Hennie Bierman, adjunk- uitvoerende hoof van die Platform en Kommersialisering by Solidariteit.

“S is nie net nog ʼn platform nie. S is ook nie Solidariteit se projek nie. Dit behoort aan ons gemeenskap!” het Bierman gesê.

S rus op vier pilare: Werk, Leer, Beskerm en Behoort. Gebruikers kan onder meer werksgeleenthede ontdek, hul professionele profiele bou, kursusse voltooi, toegang tot regshulp kry en by beroepsgemeenskappe aansluit.

Bierman het beklemtoon dat die waarde van S nie bloot in die tegnologie lê nie, maar in die verskil wat dit in mense se lewe maak.

“Dit gaan gemeet word aan die mense wat daardeur gehelp word.”

Die komende jare: Ons sal self!

Hoewel die kongres ʼn geleentheid was om op Solidariteit se prestasies terug te kyk, was die boodskap vir die toekoms duidelik: Ons werk is nog nie klaar nie.

Solidariteit se fokus vir die pad vorentoe is om die instellings, netwerke en geleenthede wat reeds geskep is, verder tot voordeel van lede en hul gemeenskappe te laat saamwerk.

Laai S af en vat jou werk, toekoms en gemeenskap verder!

S, Solidariteit se nuwe app, is tydens die kongres bekendgestel.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel