Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Die waarde van aanhoudende leer: ʼn belegging in jouself
Deur Annélize Schoeman
In ʼn wêreld wat voortdurend verander, glo ek dat een van die grootste geskenke wat ons onsself kan gee, die bereidwilligheid is om aan te hou leer. Dit maak nie saak of jy 18 of 68 jaar oud is nie – daar is altyd iets nuuts om te ontdek, iets om te ontwikkel of iets om te verbeter.
Ek het onlangs my sertifikaat in Projekbestuur in Praktyk deur een van Akademia et al se kortkursusse verwerf. Dit was vir my ʼn besondere prestasie, nie net omdat ek die kursus voltooi het nie, maar ook omdat dit my weer aan die waarde van groei en persoonlike ontwikkeling herinner het.
My laaste formele, langer studietydperk was in 2023, toe ek my BCom in Bestuurswetenskappe met Bemarking en Toerismebestuur voltooi het. Sedertdien het ek verskeie kortkursusse op S voltooi. Toe die geleentheid kom om weer ʼn formele kursus aan te pak, was ek eerlikwaar onseker. Dit kan uitdagend wees om weer in ʼn studieroetine te kom, veral wanneer jy reeds werkverantwoordelikhede het.
Ek is tans sewe maande swanger. Het dit my gekeer? Glad nie. Inteendeel, hierdie nuwe fase van my lewe het my nóg meer gemotiveer om die beste weergawe van myself te wees – nie net ter wille van my eie loopbaan nie, maar ook sodat ek ʼn goeie voorbeeld vir die volgende geslag kan stel.
Jy hoef nie alles te weet nie
Ons leef soms met die idee dat ons alles moet weet. Die waarheid is egter dat niemand alles weet nie. Elke persoon wat vandag op ʼn bepaalde gebied kundig is, was eens ʼn beginner.
As daar iets is wat jy nie verstaan nie, vra vrae. As iemand rondom jou oor kennis beskik wat jy nie het nie, vra hulle om jou iets te leer. Om vrae te vra, is reeds die begin van leer.
Ek sê dikwels dat iets wat jy nog nie kan doen nie, nie ʼn swakheid is nie. Dit is bloot ʼn ontwikkelingsarea waaraan jy nog kan werk. Daardie eenvoudige verandering in denkwyse maak die wêreld se verskil.
Leer neem baie vorme aan
Wanneer mense aan leer dink, dink hulle dikwels onmiddellik aan universiteite, eksamens en kwalifikasies. Hoewel formele opleiding baie waardevol is, is dit nie die enigste manier om te leer nie.
Leer kan onder meer die volgende behels:
- • ʼn Kortkursus, diploma, graad of sertifikaat
- • ʼn Mentor wat jou begelei en sy of haar ervaring met jou deel
- • ʼn Werkskollega wat bereid is om jou iets nuuts te wys
- • ʼn Vriend of familielid wat kennis met jou deel
- • ʼn Gratis aanlyn kursus of webinaar
- • ʼn Boek, podsendingsreeks of artikel wat jou perspektief verbreed
- • Praktiese ervaring wat jy opdoen deur eenvoudig iets nuuts aan te pak
Moenie bang wees om hulp te vra nie. Die meeste mense is meer as bereid om hul kennis te deel. Hulle onthou immers ook hoe dit gevoel het om iets vir die eerste keer te leer.
Dit begin by jou
Solidariteit glo in die waarde van lewenslange leer en moedig mense aan om aan te hou leer, ongeag in watter fase van hul lewe of loopbaan hulle hul bevind. Of jy nou onlangs gematrikuleer het, jou eerste werk soek, reeds in jou beroep gevestig is, van loopbaan wil verander of selfs nader aan aftrede is, daar is altyd iets nuuts om te leer en nuwe geleenthede om jouself verder te ontwikkel.
Alles begin by geloof in jouself en die moed om die volgende stap te neem. Dit maak nie saak waar jy vandag in jou loopbaan of lewe staan nie. Wat saak maak, is dat jy bereid is om vorentoe te beweeg. Of jou volgende stap ʼn graad, diploma, sertifikaat, kortkursus of mentor is, of selfs net ʼn nuwe vaardigheid wat jy by iemand anders aanleer, die belangrikste is dat jy begin.
Dit is nooit te vroeg of te laat om in jouself te belê nie. Aan die einde van die dag is die beste belegging wat jy ooit kan maak, die belegging in jou eie groei.
Jy doen dit vir jouself! Begin sommer vandag nog met ʼn kursus op S.