loading
avatar
Artikels
2 jaar gelede
solidariteit

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit eis miljoene namens lid ná bitter kollegas hom sy werk kos

Deur Heléne Leonard

ʼn Lid van Solidariteit, wat kort voor sy aftrede op ʼn onbillike wyse afgedank is, het danksy Solidariteit ʼn toekenningsbedrag gelykstaande aan sowat 21 maande se salaris by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gekry.

Dié onlangse oorwinning van dr. Anton de Villiers, ʼn voormalige werknemer van die Raad op Mediese Skemas (RMS), is nie al uitvloeisel van dié geskil nie. Solidariteit beoog om ʼn verdere bedrag van etlike miljoene aan vergoeding wat De Villiers volgens sy indiensnemingskontrak moes toekom, terug te kry. De Villiers is in 2018 afgedank ná besware van twee junior werknemers in die Navorsing- en Moniteringseenheid oor sy bestuurstyl.

Ten tyde van sy tugverhoor is “onversoenbaarheid” met sy junior werknemers as die rede vir sy afdanking aangevoer.

Danksy Solidariteit se toetrede is die saak na die KVBA verwys wat bevind het dat daar geen fout gevind kan word met die wyse waarop De Villiers sy personeel behandel het nie.

Volgens die uitspraak is dit inderdaad duidelik De Villiers is iemand wat gehaltewerk van sy werknemers verwag. Daar is ook bevind die swak persoonlike verhouding was nie weens sý optrede nie, maar is eerder weens die toedoen van die werknemers wat óf swak presteer het, óf nie bereid was om billike en sinvolle opdragte uit te voer nie.

Die vergoedingsbedrag vir De Villiers se afdanking en vergoeding vir sy verlore inkomste vir die tydperk was gelykstaande aan ongeveer 21 maande van sy salaris.

Solidariteit het ook daarin geslaag om De Villiers se diensvoorwaardes weer geldig te maak, en die KVBA het in Maart 2020 beslis dat De Villiers weer in sy pos by die RMS aangestel moet word. ʼn Senior beampte het De Villiers egter by sy terugkeer weggewys en die KVBA se bevinding is na die arbeidshof verwys. Die raad het egter lank gesloer om hulle insette wat vir die litigasie benodig is, te gee en De Villiers se diensooreenkomskontrak vir die tydperk van Maart 2020 tot en met Februarie 2024 het verstryk.

Die arbeidshof het op 29 Februarie 2024 beslis dat die redes wat die RSM aangevoer het vir die vertragings wat hulle veroorsaak het om die saak verhoor te kry nie goed genoeg was nie. Die KVBA se arbitrasietoekenning bly gevolglik van krag en Solidariteit het tot verdere regstappe oorgegaan om die res van De Villiers se vergoeding, wat etlike miljoene beloop, ook te verhaal.

“Die uiteinde van hierdie sage onderstreep Solidariteit se onwrikbare toewyding aan die belange van sy lede en bevestig ons vasberadenheid om teen kwaadwilligheid in die werksomgewing op te tree,” sê Mariesa Janse van Rensburg, Solidariteit se litigant in die saak.

“Solidariteit kon ook danksy volharding wat die meer tegniese punte in die saak betref nóg verdere positiewe uitkomste verseker – alles vir ʼn lid wat andersins sy werk en reputasie kwyt sou wees weens kleinlike en vals beskuldigings,” sê Janse van Rensburg.

Solidariteit is daar vir sy lede en sal lede wie se sake oor onregverdige behandeling by die werk  meriete het, bystaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel