Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Werk ʼn toekoms oop
Deur Dr. Dirk Hermann
Emigrasie is steeds op koerante se voorblaaie. Oor die presiese getal mense wat gly is daar reuseverskille. Dat baie van ons beste kundigheid steeds die pad vat, is waar, en families word uitmekaar geskeur. Wat egter ook waar is, is dat dié wat gaan, steeds ʼn bitter klein persentasie van die totaal is. Die meeste mense gaan net hier bly. Baie wil hier bly, ander wil nie meer hier bly nie maar kan nie gaan nie, en ander het reeds gegaan, maar wil eintlik terugkom. Vir diegene soos ek en miljoene ander wat hier gaan bly, is daar net een alternatief en dit is om ons goed te vat en te bou.
Solidariteit het reeds besluit om ʼn reusetree die toekoms in te gee deur die Netwerk van Werk te bou. Ons gaan hier bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Ons gaan veg en bou. Navorsing van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wys dat veral Afrikaners weer meer kinders kry. Ons werkplan mag dus nie wees vir ʼn gemeenskap wat verouder en ontbind nie, maar vir ʼn toekoms vir Afrikaanse kindertjies wat nou nog sandkastele by die kleuterskool bou.
Twee groot veranderlikes verander die wêreld van werk onherroeplik. Die eerste is die Vierde Industriële Revolusie en die tweede is ʼn onvriendelike staat wat verswak.
Die Vierde Industriële Revolusie se hoofkenmerk is ontwrigtende kennis. Beroepe wat nog nie bestaan nie, gaan geskep word. Tegnologie gaan oplossings bring vir probleme wat onoorkombaar lyk. Jim Clifton, voorsitter van Gallup, skryf in sy boek The Coming Jobs War dat hier ʼn oorlog vir goeie werk op pad is en dat die wapentuig in hierdie oorlog kennis gaan wees. Lewenslange leer is ʼn voorwaarde vir sukses. Ontwrigtende kennis gaan die struktuur van die arbeidsmark vir altyd verander.
Die tweede groot veranderlike is die onvriendelike staat wat verswak. Die staat word al meer onvriendelik teenoor minderhede. Afrikaans word van skool- tot op universiteitvlak uit die opleidingswêreld gedruk. Solidariteit bou reeds instellings vir die bevordering en behoud van Afrikaans. Die regering raak ideologies so blind dat prestasie gestraf moet word. Die staat ontwikkel ʼn obsessie met rasseverteenwoordigendheid en Afrikaners se geskiedenis word gekriminaliseer. Solidariteit is egter besig met ʼn mediasieproses saam met die regering om op ʼn manier ooreen te kom oor regstellende aksie. Lees meer hier.
Terselfdertyd is die staat besig om te verswak. Die instellings wat burgers moet toerus om te werk, is in ʼn krisis. Studiehulpstelsels werk nie en terugbetalingskoerse beloop enkelsyfers. Die staat se regalutoriese prosesse het so ondoeltreffend geraak dat opleiding in sekere rigtings, byvoorbeeld verpleging, byna tot stilstand gekom het.
Solidariteit probeer nie soos vakbonde regoor die wêreld die veranderingsgety terugdruk nie; ons ry eerder die veranderingsgolf en rus ons lede en die gemeenskap toe om sterker in die nuwe wêreld van werk te wees. Solidariteit bou aktief kennisfabrieke wat sy lede reeds toerus om die oorlog vir goeie werk te wen. Die beroepsnetwerke koppel mense reeds aan mekaar. Jongmense word gehelp om toegang tot die werkplek te kry, voortgesette opleiding word gebied, en die beroepsnetwerke beskerm ook die belange van die onderskeie beroepsvelde. Lees meer hier oor die beroepsnetwerke. Onreg in die werkplek word aangepak en nuwe momentum word gegee aan die stryd teen die staat se rasse-ideologie.
Dit is juis die ontwrigtende kennis van die nuwe ekonomiese rewolusie wat antwoorde gaan bring in ʼn onvriendelike staat wat verswak. Dit is as gevolg van ontwrigtende kennis dat Akademia met nuwe telematiese tegnologie grade in Afrikaans bekostigbaar dwarsoor Suid-Afrika kan aanbied. Dit is as gevolg van ontwrigtende tegnologie dat Solidariteit Leer op ʼn e-leerplatform wêreldklas voortgesette opleiding kan aanbied. Dit is as gevolg van ontwrigtende tegnologie dat Solidariteit Sol-Tech, wat nou onder die voorste beroepskolleges in Suid-Afrika tel, kon bou. Dit is ook as gevolg van ontwrigtende tegnologie dat Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum nou ʼn volledige, alternatiewe, bekostigbare, wêreldklas- Afrikaanse skoolstelsel ontwikkel. Al hierdie dinge was 20 jaar gelede ondenkbaar. Nou is dit doenbaar, maar dit herinner ons ook daaraan dat ander probleme wat nou onoorkombaar lyk, deur ontwrigtende nuwe kennis oorwin kan word.
Vir ʼn gemeenskap wat bereid is om die nuwe wêreld van die Vierde Industriële Revolusie te ontdek en te gebruik, is daar oneindige geleenthede en hoop. Die nuwe kennisrevolusie erodeer die mag van die nasionale staat wêreldwyd. Nuwe tegnologie en sosiale netwerke maak dit onmoontlik vir ʼn staat om alles te reguleer, en dit is slegte nuus vir die staatsentraliste. Die nuwe wêreld skep moontlikhede vir ʼn minderheid in ʼn meerderheidswêreld – selfs in ʼn onvriendelike staat wat verswak.
Solidariteit se Nasionale Raad skep ʼn totale netwerk van werk. Wat Discovery (Vitality) met mediese dekking gedoen het, doen Solidariteit met die wêreld van werk. Dit opsigself is ʼn rewolusionêre konsep wat die wêreld van vakbondwese totaal verander. Kyk hier vir meer inligting oor Solidariteit se Netwerk van Werk.
Solidariteit-aanlyn stap die totale loopbaanpad saam met sy lede. Lees meer hier oor hoe Solidariteit dit regkry. Openbare skole se arms word regop gehou en ʼn privaat alternatief word ontwikkel. Skoliere word gehelp om loopbaankeuses te maak. Studente kan by Akademia en Sol-Tech studeer. Solidariteit Helpende Hand se Studietrust help met finansiële studiehulp. Lees meer hier oor die Studietrust.
Solidariteit help ook jong mense met loopbaanvoorbereiding. Solidariteit se beroepsnetwerke help jong mense om ʼn beroep te betree, bied mentorskappe aan en hanteer brandpunte wat in die betrokke beroep ontstaan. Voortgesette leer is ook op Solidariteit-aanlyn beskikbaar. Lees meer hier. Solidariteit beskerm mense in die werkplek en Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) verskaf werkverwante produkte soos aftreevoorsiening en mediesefondsdekking.
Solidariteit se netwerk van werk is die saamkomplek van die afgelope twee dekades se bouwerk. In die volgende paar jaar gaan meer as R4 miljard belê word sodat ʼn toekoms van werk vir die huidige geslag en die kindertjies wat nog sandkastele bou, moontlik gemaak word.
Dit help nie om in moedeloosheid verlam te raak nie. Solidariteit is daar vir hulle wat gaan bly. Die netwerk gaan werk, want ons het nie ʼn alternatief nie.