loading
avatar
Artikels
19 uur gelede
selfs-n-graad-is-nie-meer-n-waarborg-vir-werk-nie

Foto Krediet: Solidariteit

Selfs ʼn graad is nie meer ʼn waarborg vir werk nie

Deur Reon Janse van Rensburg

Die meeste van ons het grootgeword met ʼn eenvoudige idee – kry ʼn kwalifikasie agter jou naam, werk hard en dinge sal uitwerk. Vir baie Suid-Afrikaners was dit die “veilige” plan: Studeer, verwerf ʼn graad en bou jou loopbaan.

Die werklikheid begin egter al hoe harder met daardie plan bots. ʼn Onlangse verslag deur ITWeb wys dat selfs gegradueerdes toenemend sukkel om werk te kry, terwyl mense sonder kwalifikasies nóg verder agter raak. Die probleem is nie meer net werkloosheid nie; dit het deesdae ook ʼn groeiende vaardigheids- en verwagtingskrisis geword.

Baie jong mense sit vandag met ʼn graad, studieskuld en ʼn CV wat stof opgaar, terwyl hulle wonder wat van die belofte geword het dat formele opleiding loopbaansekuriteit sou bring. Hulle stuur CV ná CV, voltooi aanlyn aansoeke en hoor óf niks terug nie óf dat hulle “meer ervaring” nodig het.

Die gevaar is dat jong mense begin glo die probleem lê nét by hulle – dat hulle lui is of dat hulle nie hard genoeg probeer nie. Die werklikheid is egter baie meer kompleks. Suid-Afrika se ekonomie groei te stadig, sekere kwalifikasies pas nie meer by die behoeftes van die mark nie en tegnologie verander beroepe vinniger as ooit tevore.

Terselfdertyd sien ons hoe sekere bedrywe steeds desperaat op soek is na mense met praktiese en beroepspesifieke vaardighede. Ambagte, tegniese beroepe en mense wat hul vaardighede voortdurend opskerp, bly van die mees gesogte werkers in die arbeidsmark.

Dit beteken egter nie opleiding is nutteloos nie. Inteendeel, dit beteken bloot die dae van “studeer een keer en jy is vir die res van jou lewe reg” is waarskynlik verby.

Voortgesette leer word al hoe belangriker. Mense moet hul kennis voortdurend uitbrei, nuwe vaardighede aanleer en praktiese ervaring opdoen. Daarom raak kort kursusse, beroepsopleiding, aanlyn leer en vaardigheidsontwikkeling al meer noodsaaklik vir mense wat relevant wil bly in ʼn veranderende ekonomie.

Solidariteit-aanlyn en instellings soos Sol-Tech en Akademia speel juis hier ʼn belangrike rol. Nie almal hoef noodwendig dieselfde tradisionele roete te volg om ʼn betekenisvolle loopbaan te bou nie. Vir baie jong mense lê daar steeds enorme waarde in tegniese opleiding, beroepsnetwerke en praktiese vaardighede wat direk by die arbeidsmark aansluit. Terselfdertyd is daar steeds ʼn behoefte aan personeel in meer tradisionele beroepe, mits jy dit aanpak met ʼn verbintenis om jouself aanhoudend te verbeter deur nuwe vaardighede aan te leer.

Solidariteit bied reeds verskeie vorme van voortgesette leer, beroepsopleiding en ondersteuning aan wat mense help om hul vaardighede op te skerp en meer mededingend in die arbeidsmark te wees. In ʼn tyd waar werksekerheid al moeiliker raak, word aanpasbaarheid een van die belangrikste eienskappe wat iemand kan hê.

Suid-Afrika het nie net ʼn werkloosheidskrisis nie; ons het ook ʼn verwagtingskrisis. Dit is juis waarom dit belangrik is om jou verwagtinge aan te pas by die arbeidsmark van vandag en om vaardighede aan te leer wat relevant is vir die toekoms.

Vir baie jong Suid-Afrikaners voel die toekoms al meer soos ʼn bewegende teiken. Daarom gaan die mense wat oorleef nie noodwendig die slimstes wees nie, maar eerder diegene wat bereid is om aan te pas, te leer en aan te hou bou.

Raak vandag betrokke by Solidariteit en bou ʼn suksesvolle loopbaanpad!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel