loading
avatar
Artikels
3 jaar gelede
die-wereld-van-werk-verander-hiers-ons-oplossing

Foto Krediet: OkayDeer

Die wêreld van werk verander: Hier’s ons oplossing!

Jim Clifton, die voorsitter van Gallup, voer in sy boek The Coming Jobs War aan dat die uitdaging in die wêreld is om goeie werk te skep en entrepreneurskap te bevorder. Almal in die wêreld is op soek na ʼn goeie werk. Goeie werk definieer ons, dit skep welvarendheid en voorspoed. Hy voer aan dat ʼn wêreldwye oorlog na goeie werk op pad is en dat daar nie tyd is om te mors nie.

In ʼn studie wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) onder leiding van Charles Schwab onder duisende besigheidsleiers onderneem het, en wat in sy boek The Fourth Industrial Revolution vervat is, is daar bevind dat die mens, te midde van die Vierde Nywerheidsrevolusie (4NR), deel wil wees van iets groter as hulleself en wil voel dat hulle ʼn doel in die lewe het. Die Vierde Nywerheidsrevolusie gaan gepaard met die Internet van Dinge, tegnologiese vooruitgang, robotika en om bestaande vaardighede met tegnologie te verweef.

Die mens is verbind maar tog alleen, en binne die warboel van tegnologie moet ʼn mens relevant en verbind bly met die regte mense. Hoe doen ʼn mens dit?

Solidariteit se beroepsnetwerke bied juis dít – ʼn netwerk van werk waarbinne mense in dieselfde beroepe ʼn netwerk vorm. ʼn Solidariteit-beroepsnetwerk is ʼn gemeenskap wat jou nie net versterk in jou beroep nie; dit is ook ʼn gemeenskap waar jy tuis kan voel, saam kan werk en saam kan leer. Dit is ʼn gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, vir jongmense loopbaangeleenthede te skep, as waghond toesig te hou oor die beroep én met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom.

Die beroepsnetwerke neem die tradisionele waardes naamlik kwaliteit, behoud, gemeenskapsgevoel en trots ter harte sodat elkeen die geleentheid het om hulself op hul loopbaanpad na meesterskap onmisbaar en uitnemend te maak. Gemeenskaplike waardes bied aan elke lid van ʼn beroepsnetwerk iets om in te glo, asook ʼn platform om terug te ploeg en kennis te deel deur netwerkgeleenthede, werkskepping of mentorskap. As ʼn Solidariteit-lid het jy outomaties toegang tot ʼn beroepsnetwerk wat weer vir jou toegang gee tot bykomende voordele uniek aan dié spesifieke beroepsnetwerk wat op jou beroep van toepassing is.

Die sewe pilare van Solidariteit se beroepsnetwerke

  1. Plasings – Deur ons aanlyn portaal help ons jou nie net om werk te kry nie; ons help ook jongmense om ʼn beroep te kan betree.
  2. Netwerk – Beroepsnetwerke bied geleenthede vir jou om saam met ander in jou beroep te kan netwerk en kennis te deel.
  3. Mentorskap – Deur mentorskap bied ons ʼn morele rugsteun aan ons jongmense en kan jy leer van meesters in jou beroepsveld.
  4. Internskap – Beroepsnetwerke help jongmense om toegang tot internskappe in hul betrokke beroepsveld te bekom.
  5. Opleiding – Deur Solidariteit Leer kan lede hul persoonlike ontwikkeling en kennis uitbrei, en is daar ook geleentheid om by Akademia kwaliteit-kwalifikasies te bekom.
  6. Inligting – Kennis is mag, dus deel ons graag relevante inligting.
  7. Waghond – Ons beskerm jou in jou beroep, en staan op vir kwessies wat die sekuriteit, regverdigheid en kwaliteit van jou beroep mag beïnvloed.

Elke individu binne ʼn betrokke beroepsnetwerk kan sy of haar eie loopbaanpad bepaal en relevant in sy of haar professie bly. Hoe sal dit werk?

ʼn Groot komponent wat Solidariteit se Beroepsnetwerke ondersteun, is voortgesette leer deur Solidariteit Leer wat elke lid bemagtig om relevant in sy of haar beroep te bly en ʼn goeie werk te kry en dit te behou.

Die vermoë om vinniger as jou mededinger te leer, mag dalk jou enigste volhoubare, mededingende voordeel wees.

’n Kwalifikasie is steeds ʼn gesogte kommoditeit en dit sal in die toekoms so bly, maar dit gaan moontlik in die arbeidsmark van die toekoms nie meer die alfa en die omega wees nie. Die wêreld se voorste tegnologie-entrepreneur, Elon Musk, het verklaar dat grade nie ʼn voorvereiste is om groot hoogtes te bereik nie. Hy sê die belangrikste is die ontwikkeling en instandhouding van relevante vaardighede. Omdat grade in tegniese dissiplines vinnig uitgedien raak as gevolg van die vinnig ontwikkelende aard van dié sektor is lewenslange leer van kritieke belang.

Die aard van werk is besig om te verander. Hoewel mense steeds skeppend, sosiaal, mobiel en fisiek handvaardig is, moet hierdie menslike eienskappe, wat nooit gaan verdwyn nie, verweef word met nuwe tegnologie. Daar is net een antwoord op lewenslange verandering en dit is lewenslange leer.

Lewenslange leer is gebou op vier pilare, naamlik: basiese onderrig, hoër onderrig, voortgesette opleiding en heropleiding. Solidariteit Leer fokus op die laaste twee pilare en sluit in beroepspesifieke opleiding, heropleiding en voortgesette opleiding. Solidariteit Leer bemagtig lede met ekstra vaardighede wat jou onmisbaar in jou beroep sal maak.  Kursusse sluit onder andere in: rekenaarvaardighede in Microsoft Excel en Word, sagte vaardighede soos probleemoplossing en konflikbestuur, beroepspesifieke vaardighede soos verpleegsteropleiding, kommunikasie, bestuursvaardighede en vele meer. Dit sluit ook ander relevante kursusse in soos skryfvaardighede, finansiële kennis, leierskap, projekbestuur en selfs ’n derde taal. Dit is maklik, modern en relevant.

Solidariteit maak gebruik van moderne leermetodes wat webinare en e-leer-kursusse insluit. Die gemengde leermodel is ook uniek en gee die lewenslange leerder die geleentheid om kennis in te win deur interessante nuwe maniere van leer.

Voordele van lewenslange leer sluit die volgende in:

  1. Jy bly relevant.
  2. Jy berei jouself voor vir die onverwagse.
  3. Dit verhoog jou profiel.
  4. Bevoegdheid lei tot selfvertroue.
  5. Dit maak jou ontvanklik vir nuwe idees.
  6. Dit verander jou perspektief.
  7. Jy kan voordeel trek in die toekoms.

Lede van Solidariteit se beroepsnetwerke kry tot en met 40%-afslag op alle leerprogramme wat deur Solidariteit aangebied word en waardeur jy jou toekoms oop kan leer.

Raak vandag nog betrokke by jou beroepsnetwerk en ontvang voortgesette leer aangebied deur Solidariteit Leer. Sluit aan, klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel