loading
avatar
Artikels
1 jaar gelede
akademia-se-ngos-program-kwaliteit-onderrig-kraai-koning

Foto Krediet: OkayDeer

Akademia se NGOS-program: Kwaliteit-onderrig kraai koning!

Deur Ané Janse van Rensburg

Die waarde van topkwaliteit Afrikaanse onderwysers is in vandag se samelewing, onmiskenbaar. Daarom juis behoort die kwaliteit-opleiding van sulke onderwysers van kardinale belang te wees.

Akademia se Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) bied presies hierdie voordeel – ʼn program wat nie net fokus op teoretiese onderrig nie, maar wat ook praktiese opleiding in die klas insluit.

Solidariteit gesels met Susan O’ Reilly, departementshoof vir Opvoedkundige studies asook die huidige programkoördineerder vir die NGOS-program by Akademia oor dié program en die waarde wat dit vir die onderwyssektor inhou.

Wat presies behels die NGOS-program?

Die NGOS-program word reeds vanaf 2021 deur Akademia se Fakulteit Opvoedkunde via die nauurse afstandsmodel aangebied. Die program is toegespits op die opleiding van onderwysers vir graad agt tot twaalf.

Hierdie program is ʼn belangrike brug tussen teorie en praktyk juis vanweë die feit dat studente reeds oor ʼn kwalifikasie in ʼn skoolverwante vak as hoofvak moet beskik om toelating tot die NGOS-program te verkry. Op hierdie manier geniet studente dus reeds ʼn vakkundige onderleg nog voordat hulle hulself verder in die onderwysveld bekwaam.

Afgesien van deurlopende aktiwiteite in die ter saaklike modules, moet die studente voorts vir agt weke praktiese sessies by skole voltooi. Alle proefonderwys moet by Suid-Afrikaanse skole afgehandel word wat kontakonderrig in die KABV-kurrikulum (“CAPS”) aanbied. Hierdie voorwaarde geld ook vir studente in die buiteland wat hierdie program voltooi. Akademia identifiseer die skole waar die proeftydperk voltooi moet word en plasings word skriftelik en formeel vanuit die Fakulteit Opvoedkunde met die skole bevestig.

Die praktiese komponent word in drie dele verdeel:

•         ʼn Praktiese sessie van twee weke voor die aanvang van die akademiese jaar

•         Twee weke in April

•         Vier weke in Julie en/of Augustus

As die student hom- of haarself reeds in die onderwys bevind, kan die praktiese deel van vier weke in Julie en/of Augustus by die betrokke skool plaasvind waar die student werksaam is.

Die sluitingsdatums vir die 2025 akademiese jaar se aansoeke wat die NGOS-program betref, is soos volg:

•         15 November | vir studente wat die program in ʼn jaar wil voltooi

•         23 Desember | vir studente wat via die nauurse afstandsmodel die program oor ʼn tydperk van twee jaar wil voltooi

Wat is die waarde van die NGOS-program vir die Suid-Afrikaanse onderwyssektor?

Die NGOS-program speel ʼn sentrale rol in die versterking van die plaaslike onderwyssektor. Dit bied ʼn geleentheid vir individue met kwalifikasies in ander spesialisvelde om die nodige pedagogiese kennis en onderwysmetodes op ʼn doeltreffende en pragmatiese manier te bemeester. Op dié manier kan hulle as goed gevormde onderwysers die klaskamer met selfvertroue en kennis betree.

Die program verseker voorts dat onderwysers nie net oor diepgaande vakkennis beskik nie, maar ook oor die relevante pedagogiese vaardighede om hierdie kennis doeltreffend oor te dra.

Hoe dra die NGOS-program by tot die ontwikkeling van onderwysers se vaardighede en kennis, veral in die senior fase asook verdere onderwys en opleiding (VOO)?

Die NGOS-program bied spesialisering in verskeie vakke vir die senior fase en VOO, wat onderwysers se bestaande vakkennis aansienlik verdiep. Deur te fokus op pedagogiese inhoudskennis, word onderwysers toegerus om méér as net effektiewe en doelgerigte vakinhoud oor te dra. Hierdie oordrag word op só ʼn wyse gedoen dat dit nie net begrip verbeter nie, maar ook die relevansie van die inhoud duidelik maak.

Hierdie integrasie van inhoudskennis en pedagogiek is van kardinale belang vir die ontwikkeling en vorming van suksesvolle onderwysers wat binne ʼn veelheid van onderrigkontekste kan funksioneer en leiding neem. Die NGOS-program plaas ook ʼn baie spesifieke klem op die ontwikkeling van leerders in die senior fase en VOO, met ʼn fokus op leerteorieë en die toepaslikheid daarvan binne elk van hierdie fases.

Wat onderskei die NGOS-program by Akademia van ander soortgelyke programme?

Akademia se NGOS-program prioritiseer kwaliteit terwyl daar terselfdertyd ʼn sterk fokus op pedagogiese inhoudskennis geplaas word. Aangesien die program via die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word, bied dit voorts toegang aan ʼn groot verskeidenheid studente. Dit sluit in werkende professionele persone wat hul studie kan aanpak en voltooi terwyl hulle hul huidige beroepe aktief beoefen, of ander belangstellings voltyds nastreef. Dit is juis hierdie vryheid wat dié onderrigmodel so aanpasbaar maak.

Studente het gevolglik ook die opsie om die program in ʼn jaar of oor drie jaar te voltooi (die maksimum toelaatbare tyd).

Hierbenewens is Akademia ook bekend vir sy kleingroepbenadering en persoonlike aandag, wat verseker dat studente deurgaans goeie ondersteuning ontvang by wyse van individuele kontak en mentorskapgeleenthede.

Skoolhoofde lewer positiewe terugvoer oor dié instelling se onderwysstudente wat as goed afgerond beskou word. Danksy die praktiese ondervinding wat in verskeie kontekste opgedoen word tydens die proefonderwys, is hierdie studente-onderwysers in staat om suksesvol in uiteenlopende skoolomgewings te funksioneer.

Hoe ondersteun Akademia studente wat voltyds werk terwyl hulle die NGOS-program voltooi?

Akademia het verskeie ondersteuningsmeganismes in plek vir studente wat voltyds werk.

Die gebruik van aanlyn leerplatforms stel studente in staat om op hul eie tyd toegang tot studiemateriaal te verkry, lesings by te woon en opdragte in te dien. Kontaksessies word in die aande aangebied om dit nóg meer toeganklik te maak vir voltydse werkendes. Daarbenewens fasiliteer Akademia gereelde aanlyn interaksies met dosente via kletskamers, wat verseker dat studente op hoogte bly van hul studie, selfs te midde van besige werkskedules.

Datums van assesserings word aan die begin van die jaar reeds gekommunikeer sodat studente hul tyd doeltreffend kan beplan. Hoofassesserings word grootliks op Saterdae of in die aande afgelê om hierdie studente verder tegemoet te kom.

Watter impak het die NGOS-program op die wanpersepsie dat die onderwysberoep ʼn “maklike” keuse is?

Deur streng en hoë akademiese standaarde en praktiese vereistes te handhaaf, beklemtoon die program dat onderwys ʼn uitdagende en komplekse beroep is wat diepgaande kennis, vaardighede en toewyding vereis.

Studente word blootgestel aan gevorderde pedagogiese teorieë, intensiewe opleiding en werklike klaskamerervarings, wat die omvang en diepte van onderwysers se verantwoordelikhede in die samelewing duidelik maak. Die program fokus voorts intensief daarop om die komplekse en dinamiese aard van pedagogie en spesialis vakkennis prakties te illustreer en om só die wanpersepsie uit die weg te ruim. Hierdie toewyding bevestig verder die waarde van bekwame onderwysers en hul belangrike rol in die breër samelewing.

Solidariteit se onderwysernetwerk staan vir kwaliteit in die klaskamer – só help instansies soos Akademia om die grondslag te lê vir sukses van die leerders wat deur onderwysers gevorm word. Skep jou gratis Solidariteit-profiel en skakel in by jou beroepsnetwerk, waar ons saam bou aan ʼn blink toekoms!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel