
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Akademia vier sy dertiende verjaarsdag
Akademia vier sy dertiende bestaansjaar en spog met indrukwekkende mylpale, van sy eerste studente in 2012 tot die aankondiging van ʼn Wes-Kaapse kampus in 2024. Solidariteit is ʼn trotse vennoot van hierdie kennisinstelling en glo dat Afrikaanse hoër onderwys ʼn sleutelrol speel in ʼn selfstandige toekoms. Solidariteit bou aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die Afrikaanse gemeenskap. Lees hier hoe jy saam kan bou.
Deur Kyla-Ann du Toit
Solidariteit vier met trots saam met Akademia sy dertiende bestaansjaar. Sedert Akademia se stigting in 2012 het hierdie Afrikaanse hoëronderwysinstelling ʼn onwrikbare verbintenis getoon om ʼn akademiese tuiste te bou waar denke en hart gevorm word met die oog op ʼn vrye en selfstandige toekoms. Hierdie visie is nie net ʼn droom nie, maar ʼn werklikheid wat deur toewyding, innovasie en doelgerigte aksie bewaarheid word.
“Baie geluk aan Akademia,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “Ek wil vir al ons ondersteuners en ons gemeenskap, asook ons personeel en ons studente, baie dankie sê vir jul ongelooflike ondersteuning aan Akademia. Ons glo dat Akademia nog vir baie jare in die toekoms ʼn groot bydrae tot ons Afrikaanse gemeenskap gaan lewer.”
Met twee onderrigleermodelle, vyf fakulteite, verskeie programme, ʼn bruisende studentelewe en binnekort ʼn Wes-Kaapse kampus, het Akademia oor die afgelope dertien jaar sterk fondamente gelê vir Afrikaanse hoër onderwys.
Hierdie prestasies is duidelik sigbaar in die 13 hoogtepunte wat oor ʼn tydperk van 13 jaar bereik is:
- • 3 Maart 2012: Akademia verwelkom sy eerste 42 studente tydens dié instelling se heel eerste kontaksessie.
- • 11 Januarie 2016: Die instelling verhuis na ʼn nuwe perseel in Centurion.
- • 30 Mei 2017: Akademia word amptelik as ʼn hoëronderwysinstelling geakkrediteer.
- • 24 Februarie 2019: Akademia publiseer sy eerste boek, ʼn Afrikaanse vertaling van Plato se Verdediging van Sokrates.
- • 24 Februarie 2019: Die Winkel, Akademia se aanlyn winkel, word bekendgestel.
- • 5 Februarie 2022: Leriba-koshuis verwelkom sy eerste inwoners en skep ʼn akademiese tuiste vir studente.
- • 4 Januarie 2023: Die instelling bied sy eerste honneursprogram, BComHons (Ondernemingsbestuur), aan.
- • 18 April 2023: Akademia se eerste koffiewinkel, Sowel As, open sy deure.
- • 25 Mei 2023: Die NP van Wyk Louw-sentrum word bekendgestel as ʼn ruimte vir akademiese en kulturele ontwikkeling.
- • 12 Februarie 2024: Die eerste studente begin met klasse op die splinternuwe Leriba-kampus.
- • 11 April 2024: Akademia ken ʼn rekordgetal van 465 kwalifikasies toe.
- • 13 Junie 2024: Akademia kondig aan dat sy Wes-Kaapse kampus in die Paarl gevestig gaan word – ʼn groot stap vorentoe vir Afrikaanse hoër onderwys.
- • 1 Augustus 2024: Die Toekomsbouer-veldtog word bekendgestel, wat studente en ondersteuners aanmoedig om saam aan Akademia se toekoms te bou.
Loer hier na Akademia se tydlyn.
Hierdie mylpale is ʼn bewys van wat moontlik is wanneer ʼn gemeenskap saam aan ʼn gedeelde visie bou. Solidariteit glo dat kennis die sleutel is om ons gemeenskap te beskerm te midde van ʼn onsekere ekonomiese klimaat. Ons het ʼn verantwoordelikheid om ʼn suksesvolle toekoms vir ons kinders te verseker, en daarom is Solidariteit se Boufonds van stapel gestuur.
Hierdie fonds stel Solidariteit in staat om instellings soos onder meer Akademia te bou – ʼn plek waar jong mense met die nodige kennis en vaardighede bemagtig word om as ʼn minderheidsgroep in ʼn meederheidsgemeenskap te floreer. Met die steun van ons gemeenskap bou Solidariteit daadwerklik aan ʼn toekoms waar Afrikaans én Afrikaanse onderrig kan voortbestaan.
“As ons onseker is oor die toekoms, bou ons dit.” Dít is die woorde van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en dít is presies wat Solidariteit doen. Solidariteit is ʼn trotse vennoot van Akademia en sien uit na nog vele jare van groei en sukses.
Raak vandag nog betrokke en verseker ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir jou én jou nageslag, want #JyHoortHier.