Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Studente: Onderhoudvrae en hoe jy dit kan bemeester
Deur Lize-Mari Verster
Die wêreld van werk kan vir studente soos ʼn ingewikkelde doolhof voel, veral wanneer die eerste groot uitdaging aanbreek: Die werkonderhoud. Goeie voorbereiding is egter die sleutel tot sukses. Deur voorbereid te wees vir moeilike en interessante onderhoudvrae, kan jy selfversekerd en professioneel voorkom.
Voordat ons met die deur in die huis val en die meer uitdagende vrae bespreek, is dit belangrik om ʼn stewige fondament te lê deur eers die algemene vrae te bemeester. Hierdie vrae is ontwerp om jou persoonlikheid, vaardighede en motivering te peil.
“Vertel my van jouself.”
Hierdie vraag is dikwels die afskop van die onderhoud. Vermy die versoeking om jou lewensverhaal te deel. Fokus eerder op jou akademiese agtergrond, relevante ervarings (selfs vrywilligerswerk of deeltydse betrekkings) en waarom jy in die spesifieke rol of bedryf belangstel.
Voorbeeldantwoord:
“Ek is ʼn finalejaarstudent in Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria. Gedurende my studie het ek ʼn passie vir digitale bemarking ontwikkel, veral nadat ek ʼn internskap by ʼn plaaslike agentskap voltooi het. Ek het gehelp sosiale mediaveldtogte te bestuur. Ek is leergierig, kreatief en op soek na ʼn geleentheid waar ek my akademiese kennis in die praktyk kan toepas en ʼn daadwerklike bydrae kan lewer.”
“Wat is jou sterk- en swakpunte?”
Wanneer jy jou sterkpunte bespreek, kies eienskappe wat direk verband hou met die posbeskrywing en gee praktiese voorbeelde. Wanneer jy jou swakpunte bespreek is dit belangrik om eerlik en strategies te wees. Kies ʼn werklike swakpunt waaraan jy aktief werk om te verbeter.
Voorbeeldantwoord:
“My grootste sterkpunt is my vermoë om goed in ʼn span saam te werk. Tydens ʼn onlangse groepsprojek het ek die inisiatief geneem om take volgens elkeen se sterkpunte te delegeer, wat gelei het tot ʼn finale produk waarop ons almal trots was. Wat my swakpunte betref, is ek geneig om aanvanklik te veel detail in ʼn projek te wil insluit. Ek het egter geleer om die groter prentjie eerste te prioritiseer en ek is besig om projekbestuurstegnieke aan te leer om my tyd en fokus beter te bestuur.”
“Waarom wil jy vir hierdie maatskappy werk?”
Hierdie vraag toets of jy jou navorsing gedoen het. Dit toon of jy die maatskappy se waardes, missie en onlangse prestasies verstaan. Verduidelik hoe jou persoonlike doelwitte en vaardighede met dié van die maatskappy belyn is.
Interessante en moeilike vrae
Onderhoudvoerders vra dikwels ongewone vrae om te sien hoe jy onder druk dink en om jou kreatiwiteit en probleemoplossingsvaardighede te assesseer. Die doel is nie noodwendig om die “regte” antwoord te gee nie, maar om jou denkproses te demonstreer.
“As jy enige dier kon wees, wat sou jy wees en waarom?”
Hierdie tipe vraag lyk dalk ligsinnig, maar dit is ʼn geleentheid om jou persoonlikheid en werketiek te openbaar. Verbind die eienskappe van die dier met positiewe en professionele eienskappe.
Voorbeeldantwoord:
“Ek sou ʼn dolfyn kies. Hulle is uiters intelligent, werk in spanne (‘pods’) om probleme op te los en is bekend vir hul goeie kommunikasievaardighede. Ek glo dat samewerking en duidelike kommunikasie noodsaaklik is vir sukses in enige werkomgewing.”
“Beskryf ʼn tyd waar jy misluk het en wat jy daaruit geleer het.”
Werkgewers wil sien dat jy verantwoordelikheid kan neem en uit jou foute kan leer. Kies ʼn opregte voorbeeld waar iets nie volgens plan verloop het nie. Fokus op dit wat jy geleer het en hoe jy daardie les in die toekoms kan toepas.
Voorbeeldantwoord:
“In my eerste jaar op universiteit het ek my tydsbestuur vir ʼn groot eksamen onderskat. Ek het nie so goed gevaar soos ek gehoop het nie en dit was ʼn groot teleurstelling. Hierdie ervaring het my egter gedwing om my studiemetodes te herevalueer. Ek het sedertdien ʼn streng studielys begin gebruik en geleer om my take meer effektief te prioritiseer. As gevolg daarvan het my punte aansienlik verbeter en ek het ʼn belangrike les oor voorbereiding en dissipline geleer.”
“Hoeveel gholfballe kan in ʼn skoolbus pas?”
Hierdie is ʼn tipiese voorbeeld van ʼn vraag wat ontwerp is om jou probleemoplossingsvaardighede te toets. Die onderhoudvoerder verwag nie ʼn presiese antwoord nie, maar wil hoor hoe jy die probleem benader. Breek die probleem in kleiner, logiese stappe af.
Voorbeeldantwoord:
“Om dit te beantwoord, sal ek eers die gemiddelde volume van ʼn gholfbal moet skat en dan die interne volume van ʼn tipiese skoolbus. Ek sal die sitplekke en ander interne voorwerpe van die bus se totale volume moet aftrek. Deur die beskikbare volume van die bus deur die volume van een gholfbal te deel, kan ek ʼn redelike skatting maak.”
Dit gaan alles oor die logiese proses om by ʼn antwoord uit te kom.
“Wat sal jy doen as jy die enigste oorlewende in ʼn vliegtuigongeluk is?”
Onderhoudvoerders gebruik hierdie ongewone vraag om jou deernis en emosionele intelligensie te peil. Hulle wil sien hoe jy in ʼn krisis reageer en of jy die groter prentjie in ag neem, eerder as om net op jouself te fokus.
Voorbeeldantwoord:
“Dit sou natuurlik ʼn geweldige traumatiese ervaring wees. My eerste prioriteit sou wees om die owerhede ten volle by te staan met die ondersoek om te help bepaal wat verkeerd gegaan het, sodat ons daaruit kan leer en hopelik kan verhoed dat dit weer gebeur. Ek sou dit ook as ʼn persoonlike verantwoordelikheid beskou om diegene wat nie oorleef het nie, se nagedagtenis te eer. Hierdie ervaring sou my laat besef hoe kosbaar die lewe is en my motiveer om elke geleentheid wat ek kry, ten volle te benut.”
Bemagtig jouself vir sukses
Jou studie is die eerste stap op jou loopbaanpad. ʼn Werkonderhoud is jou geleentheid om te wys wat jy kan bied. Deur deeglik voor te berei kan jy hierdie uitdaging met selfvertroue aanpak en jouself bemagtig om jou loopbaandrome te verwesenlik.
Solidariteit se Studente-aanbod is ontwerp om jou voor te berei vir ʼn blink en voorspoedige toekoms. Ons bied die nodige kennis, geleenthede en netwerke om jou te help om jou tersiêre studie met mag en mening aan te pak, en voorbereid te wees vir die wêreld van werk. Saam kan ons ʼn toekoms bou waarin elkeen sy volle potensiaal kan bereik.
Sluit vandag nog aan by die Studentelewegroep en bemeester #JouStudie, raak voorbereid vir #JouWerk en vind #JouStem.