Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Matriek: Die groot oorgang na die wêreld daarbuite
Deur Yorey Senekal
Vir 13 jaar lank was die skoolmure ons fort. Binne hierdie mure was ons beskerm teen die uitdagings en verantwoordelikhede van die grootmenswêreld. Daar was reëls, roetines en klokke wat presies vir ons gesê het wat om te doen. Maar skielik, in jou matriekjaar, voel dit asof daardie mure begin wegval. Vir elke matriekleerder is dit die eerste werklike tree van die grootmenswêreld, en dit kom met ʼn konstante knoop in die maag.
Alhoewel matriek dikwels as die “beste jaar van jou lewe” voorgehou word, ervaar baie dit eerder soos ʼn veldbrand wat van alle kante af naderkom. Die stres begin gewoonlik by aansoeke. Elke keer as ʼn klasmaat noem dat hulle by ʼn universiteit aanvaar is, trek daardie knoop in jou maag net stywer. Jy begin jouself vra: “Wanneer gaan dit my beurt wees?” of “Is my punte dalk nie goed genoeg nie?” Dit voel asof jy in ʼn wagkamer sit terwyl die res van die wêreld by jou verbygaan.
Die grootste bron van bekommernis bly egter die vraag: “Wat gaan jy volgende jaar doen?” Daar is enorme druk op agtienjariges om reeds te weet wat hulle vir die res van hul lewe wil doen. As jy nie weet wat jy wil studeer nie, voel die toekoms nie soos ʼn oop pad nie, maar eerder soos digte mis. Jy is bang dat jy jouself in die voet gaan skiet deur die verkeerde keuse te maak, of dat jy jou ouers – en jouself – gaan teleurstel. Die idee dat almal rondom jou presies weet wat hulle wil doen, vergroot jou angs.
Tussen die aanhoudende stres en die hope boeke lê daar ook ʼn diep hartseer: die besef dat jy besig is met jou heel laaste “laastes”. Van die laaste interhuis tot die finale eksamenvraestel tref die werklikheid jou dat jy almal moet groet wat ʼn impak op jou lewe gemaak het – van vriende tot onderwysers. Skielik is dit nie meer net skoolklokke en reëls wat julle bind nie, maar ʼn gedeelde onsekerheid oor die onbekende wat buite die skoolhekke wag.
Tesame met hierdie emosionele afskeid hang die finale eksamen soos ʼn dreigende oordeel oor jou kop. Dit voel nie meer na net nog ʼn toetsreeks nie, maar na die eindpunt van 12 jaar se harde werk. In hierdie tyd word die biblioteek jou tweede tuiste, en die reuk van koffie en “highlighter”-ink die amptelike parfuum van jou matriekjaar. Dis ʼn tyd waarin jou hele menswees soms tot ʼn enkele persentasie op ʼn skerm verskraal word, en die vrees dat daardie syfers nie jou volle potensiaal weerspieël nie, kan jou snags laat wakker lê. Die veldbrand is nou op sy warmste, en die druk om te presteer voel soms oorweldigend.
Selfs die idee van ʼn oorbruggingsjaar het verander. Waar dit vroeër dalk oor reis gegaan het, beteken dit vir baie matrieks nou om dadelik te begin werk. Dit kan voel asof jy agterbly terwyl jou vriende gaan studeer, maar die werklikheid is anders. Om in ʼn werkomgewing te leer terwyl jy nog jou pad soek, gee jou lewenservaring wat geen handboek jou kan bied nie. Dit is nie ʼn verlore jaar nie; dit is ʼn jaar waarin jy jouself ontdek – sonder die beskerming van die skoolmure.
Miskien is die grootste les van matriek nie wat in die handboeke staan nie, maar juis hoe om in daardie digte mis vorentoe te beweeg sonder om jouself te verloor. Die knoop in jou maag is nie ʼn teken van swakheid nie, maar ʼn teken dat jy omgee oor jou toekoms. Of jy nou volgende jaar in ʼn studielokaal sit, ʼn nuwe ambag aanleer, of jou eerste salaris verdien – die waarheid is dat niemand op 18 regtig al die antwoorde het nie.
Die mure wat wegval, is nie daar om jou bloot te stel aan gevaar nie, maar om vir jou ʼn uitsig te gee wat jy so lank nie gehad het nie. Dit is skrikwekkend om groot te word, maar dit is ook die oomblik waarin jy die vryheid kry om jou eie pad te kies.