Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Markverwante salarisse en meriete: Sleutel tot beter aanstellings
Deur Nico Strydom
In ’n arbeidsmark wat al hoe meer kompeterend raak, is dit nie meer genoeg vir werkgewers om bloot poste te vul nie – dit gaan oor hoe en oor wie jy aanstel.
Die jongste Pnet-salarisgids vir 2026 bied waardevolle insigte oor markverwante salarisse vir meer as 100 rolle in 11 verskillende sektore. Die data is gegrond op werklike vakatures en gee werkgewers en werksoekers ’n realistiese prentjie oor billike vergoeding. Salarisse is egter net een deel hiervan, en die groter vraag is eerder hoe werkgewers verseker dat die regte mense in die regte poste beland.
Volgens die Pnet-verslag bly senior bestuurders en direkteure die hoogste verdieners, met maandelikse pakkette van tot R125 000. Administratiewe poste wissel tussen ongeveer R14 000 en R30 000 per maand terwyl ontwerp- en kreatiewe rolle dikwels by R15 000 begin. Tegniese en gespesialiseerde rolle verdien aansienlik meer.
Die uiteenlopende salarisvlakke beklemtoon ’n belangrike punt: vaardighede en skaars kundigheid dryf waarde in die arbeidsmark. In hierdie konteks word dit al hoe belangriker dat aanstellings gebaseer word op meriete – dit wil sê vaardighede, ervaring en die vermoë om waarde te skep.
Wanneer werkgewers hiervan afwyk en ander faktore prioritiseer, loop hulle die risiko om minder produktiewe aanstellings te maak, spanprestasie te benadeel en groei en innovasie te vertraag
Solidariteit glo dat ’n gesonde arbeidsmark gebou word op billikheid en geleentheid vir almal – maar dat die uiteindelike maatstaf vir aanstelling steeds bekwaamheid moet wees.
Wanneer poste op meriete geadverteer en gevul word, kry werkgewers toegang tot die beste beskikbare talent, word werksoekers aangemoedig om hul vaardighede te ontwikkel, en word vertroue in die arbeidsmark herstel.
Nog ’n belangrike aspek is hoe poste geadverteer word. Werkgewers wat duidelik fokus op vaardighede, ervaring en werklike werksvereistes – eerder as vae of beperkende kriteria – trek beter kandidate. Deursigtige, merietegedrewe advertensies skep vertroue en moedig meer mense aan om aansoek te doen, wat uiteindelik die kwaliteit van aanstellings verbeter.
Terselfdertyd plaas dit ook verantwoordelikheid op werksoekers om hulself beter te posisioneer. In ’n arbeidsmark waar vaardighede toenemend die verskil maak, is dit noodsaaklik dat individue hul profiele, ervaring en praktiese vermoëns duidelik kan demonstreer. ’n Sterk, opgedateerde aanlyn teenwoordigheid en bewys van vaardighede kan dikwels die deurslag gee – veral in ’n omgewing waar werkgewers toenemend op prestasie en potensiaal fokus.
Solidariteit-aanlyn is ʼn werkgemeenskap en speel ook ’n belangrike rol in hierdie proses. Dit help om eendersdenkende werkgewers en werksoekers bymekaar te bring, netwerke te bou en geleenthede meer toeganklik te maak.
Belangriker nog, dit skep ’n ruimte waar vaardighede en meriete sentraal staan. Met beter data oor salarisse en ’n hernude fokus op merietegedrewe aanstellings, kan werkgewers meer mededingend wees, beter talent lok en volhoubaar groei.
Moenie langer wag nie – die tyd is nou om jou aanstellingsproses te vergemaklik! Skep ʼn gratis profiel op Solidariteit en begin vandag nog na die beste kandidate vir jou organisasie soek. Kyk hierdie video vir volledige instruksies vir hoe jy jou werkgewerkprofiel reg moet opstel. Moenie stres nie, dis vinnig en eenvoudig!