loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-bewerkstellig-vergoeding-vir-lid-ondanks-maatskappy-se-likwidasie

Foto Krediet: OkayDear

Solidariteit bewerkstellig vergoeding vir lid ondanks maatskappy se likwidasie

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit het onlangs daarin geslaag om geregtigheid vir Martin Burger te verseker nadat hy aanvanklik onbillik ontslaan is én sy voormalige werkgewer daarna enige vergoeding weens likwidasie wou vryspring.

Burger is ná vyf jaar se diens by sy voormalige werkgewer ontslaan op grond van beweerde wangedrag, spesifiek nalatigheid en oneerlikheid.

Solidariteit het egter die feite nagegaan en die saak as ʼn onbillike ontslag geïdentifiseer. Dit is toe na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys vir verdere hantering.

Die situasie het egter ʼn verdere wending geneem toe die maatskappy tydens die proses in likwidasie geplaas is. In sulke gevalle word litigasie teen die maatskappy dikwels beëindig, wat dit vir werknemers aansienlik moeiliker maak om hulle op hul regte te beroep en vergoeding te ontvang.

Volgens Karla Endres, ʼn spesialis litigant verbonde aan Solidariteit, het dit aanvanklik gelyk asof die lid nie geregtigheid sou ontvang nie.

“Ons het gevrees dit gaan die einde van ons lid se pad tot geregtigheid wees. In die meeste gevalle waar ʼn maatskappy gelikwideer word, word prosesse eenvoudig gestaak en werknemers met leë hande gelaat. Dit laat lede magteloos en onregverdig behandel voel,” sê Endres.

Solidariteit was egter oortuig van Burger se onskuld en het besluit om die saak verder op die spits te dryf. Die saak van onbillike ontslag is na die KVBA verwys en daar is ook besluit om die likwidateurs by die proses te voeg om aanspreeklikheid in die aangeleentheid te verseker.

Dit is ʼn situasie wat geen werknemer sonder kundige ondersteuning moet trotseer nie.

“Dit is betreurenswaardig hoe sommige maatskappye aanspreeklikheid ontduik deur in likwidasie geplaas te word,” verduidelik Endres.

“Ons het egter volhard en die saak tot die einde toe deurgevoer, juis omdat ons glo dat geregtigheid vir ons lede nie onderhandelbaar is nie.”

Solidariteit het voortgegaan met die arbitrasieproses, wat uiteindelik gelei het tot ʼn toekenning in Burger se guns ter waarde van R198 864,50. Daarna is ʼn eis teen die insolvente boedel van die maatskappy ingestel, waarna die likwidateurs ʼn beduidende gedeelte van die bedrag aan Burger uitbetaal het.

Volgens Endres beklemtoon hierdie saak Solidariteit se volgehoue verbintenis om lede by te staan, selfs onder moeilike omstandighede waar dit lyk asof alle opsies uitgeput is.

“Solidariteit bly toegewyd daaraan om elke moontlike regsroete te volg om te verseker lede word nie benadeel nie, selfs wanneer werkgewers probeer om hul verantwoordelikhede te ontduik.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel