Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Oorweeg eers hierdie voor jy ja sê vir daai nuwe werk
Deur Nico Strydom
In Suid-Afrika se moeilike arbeidsmark, waar werk skaars is en werkloosheid hoog bly, is dit werklik ’n verligting om enigsins ’n werksaanbod te ontvang.
Dit is egter belangrik om te onthou: ’n werk is meer as net ’n salaris. Dit beïnvloed jou finansies, jou gesondheid, jou gesinslewe en jou langtermynloopbaan. Indien jy reeds ’n werk het en ’n nuwe werksgeleentheid kry, is dit krities om eers dit wat jy het te vergelyk met dit wat jy by die nuwe werk gaan kry.
“Wanneer werk skaars is, is dit natuurlik om net op inkomste te fokus,” sê Lindiwe Sebesho, ’n beloningspesialis by die Suid-Afrikaanse Vergoedingsvereniging (SARA). “Maar sonder ’n volledige begrip van wat jy werklik aanvaar, kan jy later met stres, uitbranding of finansiële uitdagings sit.”
Een van die grootste wanopvattings is dat ’n hoër salaris outomaties beter is. In werklikheid word jou netto inkomste bepaal ná aftrekkings soos belasting, pensioenbydraes, mediese fonds en ander koste. Dit beteken twee poste met dieselfde bruto salaris, se netto salaris kan aansienlik verskil en dus is die bedrag wat jy uitkry anders.
Volgens Sebesho is dit daarom belangrik om vir ’n voorbeeld van ’n betaalstrokie te vra, die totale pakket te verstaan en realisties te bereken wat jy werklik gaan oorhou. ’n Effens laer salaris kan soms meer werd wees as daar ander sterk voordele is.
“Mediesefondsbydraes, hoër pensioenbydraes, aansporingsbonusse, buigsaamheid en opleidingsgeleenthede kan jou finansieel én persoonlik beter posisioneer. ’n Werk wat R3 000 minder betaal, maar beter balans en groei bied, kan uiteindelik meer waarde hê,” sê Sebesho.
Baie van die werklike kostes van ’n werk verskyn nie op jou betaalstrokie nie. Dit kan onder meer insluit vervoer en brandstof, parkering, kinderversorgingsdienste, werksklere, etes, lang ure en stres.
“’n Toksiese werksomgewing of swak bestuur kan selfs lei tot gesondheidsprobleme – wat weer finansiële implikasies het. Die mense saam met wie jy werk, en die manier waarop jy bestuur word, bepaal grootliks jou werksgeluk.”
Sebesho wys daarop dat ’n ondersteunende span, goeie leierskap en ’n gesonde werkplekkultuur jou produktiwiteit kan verhoog, stres kan verminder en jou loopbaan kan bevorder.
“Indien moontlik, is dit altyd waardevol om vrae te vra oor die span en kultuur en selfs tyd saam met toekomstige kollegas deur te bring.”
Volgens Sebseho moet ’n werk jou nie net help om kop bo water te hou nie, maar moet dit jou help om vorentoe te beweeg.
“Die regte besluit is nie altyd die een met die hoogste salaris nie, maar die een wat: jou finansies verbeter, jou welstand beskerm en jou langtermyngeleenthede versterk.”
Solidariteit-aanlyn bied werkfasilitering waar die gemeenskap mekaar kan help met werk. Hier kan jy jou CV oplaai en binne minute aansoek doen vir werk waar jy op meriete gemeet word, nie jou ras nie! Klik hier en neem vandag nog die eerste tree. Dis gratis!