Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit help lid ná korrektiewe dienste-kontrak nie hernu word
Deur Robin-Lee Maré
ʼn Lid van Solidariteit, mnr. Sarel Strydom, het onlangs suksesvol teruggeveg nadat sy werkgewer, die departement van korrektiewe dienste (DKD), versuim het om sy kontrak ná jare se diens te hernu.
Mnr. Strydom was as adjunkdirekteur van sekuriteit aangestel. Sy vastetermynkontrak is meer as twee keer hernu en hy het vir meer as vier jaar op ʼn kontrakbasis vir die departement gewerk. Ten spyte van hierdie geskiedenis en die verwagting dat sy kontrak onbepaald hernu sou word, het die DKD uiteindelik versuim om sy kontrak te hernu.
Die saak is na ʼn bedingingsraad verwys, waar mnr. Strydom aangevoer het dat die besluit neerkom op ʼn onbillike ontslag. Die raad het saamgestem en bevind die werkgewer se versuim om mnr. Strydom onbepaald in diens te hou, neerkom op ontslag ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995, spesifiek artikel 186(1)(b)(ii).
Die bedingingsraad het verder bevind dat die ontslag onbillik was.
Die DKD het daarna die saak op hersiening geneem in die arbeidshof van Suid-Afrika, maar was onsuksesvol. Die bevinding van die bedingingsraad kon gevolglik as ʼn hofbevel afgedwing word.
Solidariteit het ook ʼn verdere saak na die arbeidshof verwys vir die betaling van uitstaande salaris wat voortspruit uit die onbillike beëindiging van mnr. Strydom se kontrak.
Volgens Annika Labuschagne, litigant verbonde aan Solidariteit, wys die saak hoe belangrik dit is dat werknemers hul regte ken wanneer werkgewers ʼn redelike verwagting skep dat ʼn werknemer se kontrak hernu sal word of dat ʼn permanente aanstelling sal volg.
“Wanneer ʼn werknemer oor ʼn lang tydperk op ʼn vastetermynkontrak werk wat herhaaldelik hernu word, en die werkgewer die onderneming gee om die werknemer permanent aan te stel, kan ʼn redelike verwagting ontstaan dat die kontrak hernu of in ʼn permanente pos omgeskakel sal word,” sê Labuschagne.
“Indien ʼn werkgewer dan versuim om die kontrak te hernu of die werknemer permanent aan te stel sonder ʼn geldige rede, kan dit ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge as ontslag beskou word.”
Danksy Solidariteit se regsoptrede het mnr. Strydom uiteindelik R864 095,35 as vergoeding en uitstaande salaris ontvang.
“Dit sou nie moontlik gewees het sonder Solidariteit se ondersteuning, bystand en professionele advies nie. Dankie aan Solidariteit en die personeel wat hierdie oorwinning moontlik gemaak het,” sê mnr. Strydom.
Labuschagne sê die saak dien as ʼn belangrike herinnering dat werknemers nie weerloos is wanneer werkgewers kontrakte onregverdig beëindig nie.
“Met die regte ondersteuning kan werknemers hul regte suksesvol afdwing,” sluit sy af.