loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
kougom-in-die-klas-slim-hulpmiddel-of-slegte-gewoonte

Foto Krediet: OkayDeer

Kougom in die klas: slim hulpmiddel of slegte gewoonte?

Deur Mari Ferreira

Ek het onlangs op ’n Facebook-plasing afgekom wat my laat stilstaan het. ’n Juffrou het vir ’n leerder kougom gegee omdat dit hom glo help om beter te konsentreer. Natuurlik het dit verskeie reaksies uitgelok. Party mense het dadelik gedink dit is ’n swak keuse van dissipline, maar ander het weer gesê ons moet bly wees ’n onderwyser probeer iets prakties om ’n kind te help.

Die waarheid lê waarskynlik iewers in die middel. Kougom is nie ’n toweroplossing nie, maar dit kan in sekere gevalle ’n sinvolle hulpmiddel wees. Om dié gesprek bietjie meer regverdig en ingelig te maak, het ek met Carla Grobler, ’n arbeidsterapeut, gesels oor wat agter die stellings “Hy konsentreer nie” of “Hy vroetel heeltyd” kán skuil.

Wat my dadelik opgeval het, is dat Carla nie by etikette begin nie. Wanneer ’n onderwyser sê ’n kind fokus nie, vra sy nie eerste “Wat is fout met hom?” nie, maar eerder “Wat probeer die kind se brein en liggaam vir ons sê?” Sy doen ’n volledige evaluasie om te kyk of die leerder neurologies en op ontwikkelingsvlak reg is vir die graad waarin hy of sy tans is. Sy noem ook iets wat ouers nie altyd graag wil hoor nie, maar wat belangrik bly: Kinders word soms te vroeg in die skool gesit en dan kan die eise van die klaskamer soos “swak konsentrasie” lyk, terwyl dit eintlik ’n skoolgereedheidskwessie is.

Van daar af kyk sy na posturale beheer, iets wat ons maklik miskyk juis omdat dit so basies klink. Dit verwys na ’n kind se vermoë om sy of haar liggaamshouding stabiel te hou wanneer hulle sit, staan of beweeg. Dit is meer as net “regop sit”. Wanneer posturale beheer swak is, sak die kind maklik af in hulle stoel, skuif rond, raak gou moeg, en sukkel dikwels met fyn motoriese vaardighede soos skryf. En as ’n liggaam heeltyd besig is om net te probeer “reg” bly, is dit logies dat konsentrasie tweede kom.

Carla kyk ook na sensoriese sisteme, en dit was vir my een van die interessantste dele van ons gesprek. Die meeste van ons dink outomaties aan ons vyf sintuie, maar sy werk met agt. Buiten sig, gehoor, reuk, smaak en tas, is daar ook die vestibulêre sisteem wat met balans te doen het, die proprioseptiewe sisteem wat liggaamsbewustheid en drukinsette ondersteun, en interosepsie wat handel oor hoe dit binne in jou voel, bv. honger, dors, moegheid en emosies. Wanneer hierdie sisteme nie lekker aanpas by die omgewing nie, begin baie kinders onbewustelik vir hulself insette skep. Dit is dikwels wanneer ons sien dat hulle vroetel, wikkel, tik of heeltyd kou.

Dit bring ons dan by die kougom. Vanuit ’n arbeidsterapie perspektief maak dit sin dat kougom vir sommige kinders help. Carla verduidelik dat kou ’n sterk proprioseptiewe inset gee, omdat die kaakspiere intens en ritmies werk. Hierdie tipe inset het vir baie kinders ’n organiserende, kalmerende effek en help die brein om meer gereguleer te voel. Vir ’n kind wat sensoriese inset soek, kan kougom dus ’n aanvaarbare manier wees om daardie behoefte te bevredig, eerder as om heeltyd te praat, rond te beweeg of aan alles te vat. Sy noem ook dat kou waaksaamheid liggies kan verhoog en dat die herhalende aksie spanning kan verminder.

Dit is egter belangrik om balans te handhaaf. Carla is duidelik daaroor dat dit nie vir alle kinders werk nie en dat skoolreëls ook ’n rol speel. As kougom wel toegelaat word, is suikervrye opsies gewoonlik beter. Vir kleiner kinders wat nog nie veilig kougom kan kou nie, gebruik terapeute soms “chewy” hangertjies wat spesiaal ontwerp is om veilig aan gekou te word.

’n Groot deel van die gesprek gaan oor hoe ons gedrag interpreteer. Carla gee tekens wat kan wys dat ’n kind beweging of sensoriese inset soek eerder as om bloot ongehoorsaam te wees. Dit is dikwels herhalende, outomatiese gedrag en jy sien gereeld dat die kind ná beweging kalmeer en beter fokus. Sommige kinders soek druk in hul liggame, daarom leuen hulle teen goed, druk hard met ’n potlood, of bots maklik en lyk lomp. Ander kan eintlik werk gedoen kry, maar hul liggame kan nie stilbly nie. Hierdie leidrade help ’n onderwyser om met ondersteuning te reageer, eerder as met skande.

En as kougom nie vir ’n klas sin maak nie, beteken dit nie daar is geen opsies nie. Carla verkies dikwels stil hulpmiddels wat nie ander leerders se aandag aftrek nie, soos ’n stil “fidget toy”. Soms is eenvoudige aanpassings genoeg, soos ʼn beter sitposisie, kort bewegingspouses, of klein helper take wat vir ’n kind daardie nodige druk inset gee.

By die huis lê Carla se raad ook in die basiese dinge wat ons onderskat. ’n Konsekwente roetine, genoeg slaap, minder skerms voor slaaptyd, en daaglikse beweging kan ’n merkbare verskil maak aan aandag en selfregulering. Diepdruk aktiwiteite soos ’n ferm drukkie of om hulle in ’n kombers toe te draai kan ook help, en ’n huiswerkopset met min afleidings en kort werkblokke is dikwels meer effektief as lang, uitgerekte sessies.

Wanneer is dit tyd vir verdere hulp? Carla se rooi vlae is prakties: As prestasie nie by potensiaal pas nie, as onderwysers gereeld bekommernisse uitspreek, of as ’n kind sukkel om in te pas of konsekwent nie sy of haar potensiaal bereik nie, is dit sinvol om ’n professionele assessering te oorweeg. Sy beklemtoon ook dat ADHD ’n kliniese diagnose is wat deur ’n gekwalifiseerde professionele persoon gemaak moet word. Kinders is van nature besig, nuuskierig en vol energie.

Nie elke besige kind het ADHD nie, maar elke kind verdien om reg verstaan te word.

As ’n mens Carla se insette in een gedagte moet opsom, is dit soos volg: strategieë soos kougom, fidget toys en bewegingspouses werk die beste wanneer ons dit sien as hulpmiddels binne ’n groter ondersteuningsplan. Dit gaan nie oor kitsoplossings nie. Dit gaan oor ’n volhoubare, gebalanseerde benadering wat kinders help om te leer sonder om hulle te etiketteer of skaam te maak.


Solidariteit se Skoliere-aanbod bemagtig jong mense om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker. Help jou kind om hul toekoms in hul eie hande te neem! Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel