Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
ʼn Fiets, ʼn droom en die onderwyser wat in haar glo
ʼn Verhaal van hoop, deursettingsvermoë en die krag van onderwys in Suid-Afrika
Deur Jo-Ann Potgieter
In ʼn klein dorpie in die Oos-Kaap, waar maatskappye hul deure een ná die ander sluit en ouers die pyn van afleggings ervaar, leef gemeenskappe in onsekerheid – waar hoop broos is, geleenthede al hoe skaarser word, brandstofpryse onbekostigbaar is en elke dag ʼn stryd om oorlewing is. Teen hierdie agtergrond ry ʼn jong meisie elke dag byna 20 kilometer skool toe en weer 20 kilometer huis toe.
Sy en haar jonger sussie pak die lang pad saam op hul fietse aan, omdat hulle geen ander vorm van vervoer het nie. In die reën en die koue hou hulle aan trap – vasbeslote om by die skool uit te kom.
Sy dra haar boeke in ʼn verslete sak; haar skoene is stukkend, en die meeste dae is daar geen kos in haar skooltas nie. Sommige aande is daar ook geen kos in die huis nie, maar haar vasberadenheid wankel nie.
Haar ma werk ʼn paar dae per week by ʼn motorwassery en verdien die minimum loon. Tog bly sy dankbaar vir enige inkomste, aangesien werk skaars is in die dorpie. Hierdie karige inkomste is hul enigste bron van oorlewing, en elke sent moet versigtig aangewend word om ʼn dak bo hul koppe te hê en kos op die tafel te sit.
Haar naam is nie belangrik nie, want haar verhaal is nie uniek nie.
Regoor Suid-Afrika staar duisende leerders soortgelyke uitdagings in die gesig. Wat hierdie verhale van swaarkry egter in verhale van hoop omskep, is nie net deursettingsvermoë nie – dit is die vasberadenheid van leerders wat weier om toe te laat dat hul omstandighede hul toekoms bepaal.
In die hart van hierdie verhaal staan ʼn onderwyser wat die meisie se potensiaal raaksien waar ander slegs beperkinge en tekortkominge sou sien. Ten spyte van oorvol klaskamers en beperkte hulpbronne, bly hierdie onderwyser ná skool, bied ekstra klasse en ondersteuning en skep ʼn veilige ruimte waar leerders verder as hul huidige werklikheid kan droom.
Dit is nie net ʼn beroep nie – dit is ʼn roeping.
Hierdie onderwyser help haar om weer te glo – om te glo dat daar, selfs in die donkerste tye, altyd hoop is en dat harde werk ʼn deur na iets beter kan oopmaak. Sy begin glo dat sy saak maak, dat sy die kringloop van swaarkry kan verbreek en dat sy nie net haar eie toekoms kan verander nie, maar ook hoop vir haar gemeenskap kan skep.
En daardie geloof verander alles.
ʼn Vuur word in haar aangesteek – ʼn begeerte om eendag dieselfde lig vir ander te wees. Ten spyte van haar moeilike omstandighede, werk sy onverpoos om uit te blink, want sy weet dat sy eendag wil teruggee. Sy wil haar ma en sussie finansieel ondersteun en hul laste ligter maak. Sy wil die een wees wat ʼn kind laat glo dat hul drome ook moontlik is.
Sy droom daarvan om eendag voor haar eie klas te staan – om dieselfde omgee, hoop en vasberadenheid oor te dra wat haar lewe verander het. Sy sal haar leerders verstaan, omdat sy self die pad gestap het. Sy sal nie net kennis oordra nie – sy sal hoop kweek.
Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat onderwys nie bloot ʼn stelsel is nie, maar ʼn kragtige instrument van verandering – waar onderwysers, selfs in die moeilikste omstandighede, leerders se hande versterk, hulle help om te droom en die weg na ʼn nuwe en beter toekoms te baan.
Vir Solidariteit, as vakbond in die onderwyssektor, is dit die verhaal waarvoor ons staan. Dit is die verhaal van onderwysers wat bo verwagtinge uitstyg – dikwels sonder erkenning – om te verseker dat elke kind ʼn kans kry.
Terwyl ons hierdie verhale vier, moet ons ook die dringende behoefte erken om onderwysers te ondersteun met die hulpbronne, billike werksomstandighede en respek wat hulle verdien. Geen onderwyser behoort slegs op persoonlike opoffering staat te maak om ʼn verskil te maak nie.
Die toekoms van Suid-Afrika word elke dag in klaskamers gebou. Wanneer ons hande vat en saamwerk, kan ons verseker dat dié wat hierdie verantwoordelikheid dra nie alleen staan nie, maar die ondersteuning, waardering en bemagtiging ontvang wat hulle verdien.
Want wanneer ons in onderwysers belê, belê ons in die nasie.