Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Die nuwe geskiedeniskurrikulum: Afrika-gesentreerd of bloot eensydig?
Deur Johnell Prinsloo
Geskiedenis was nog altyd ʼn omstrede vak, veral in Suid-Afrika. Met 11 amptelike tale en verskeie kulture en gelowe, is dit moeilik om ʼn balans te vind of dalk selfs te besluit wat belangrik genoeg is om die bladsye van ʼn kurrikulum te vul en wat eerder uitgelaat moet word.
So het die departement van basiese onderwys reeds etlike jare gelede hierdie skoolvak begin herevalueer en uiteindelik op 20 Maart 2026 voorgestelde wysigings aan die KABV-kurrikulum vir geskiedenis gepubliseer. Eg aan die Suid-Afrikaanse narratief van die afgelope dekade of wat, word dit as ʼn “dekoloniale” en “inklusiewe” dokument aangebied.
Hierdie stelling is egter van alle waarheid gestroop. Wanneer die ou KABV (2011) met die nuwe weergawe vergelyk word, sien ʼn mens nie ʼn sogenaamde “herstel van balans” nie – jy sien eerder die vervanging van een narratief met ʼn ander, wat tot ʼn eensydige weergawe lei.
Hoe lyk die voorgestelde kurrikulum?
Jan van Riebeeck se verhaal en die vroeë Europese vestiging word heeltemal uit die kurrikulum vir graad 4 tot 6 gesny. Die fokus verskuif na persoonlike geskiedenis, vroeë menslike ontwikkeling, argeologie en antieke Afrika-verhale soos Mapungubwe, Mesopotamië, Egipte, Mali en Timboektoe. Eers in graad 7 kom die VOC-vestiging aan die Kaap ter sprake – maar nou deurspek met ʼn klem op weerstand, slawerny en grondontneming. Prekoloniale handel en Khoi-Khoi-ekonomieë kry voorrang, terwyl die “ontdekkings”-narratief as vertrekpunt verdwyn.
In graad 8 word die Mfecane/Difaqane prominent vóór die minerale revolusie geplaas, met sterker klem op inheemse leiers en dinamika. Die Nywerheidsrevolusie en globale konteks word toenemend geraam in verhouding tot Suid-Afrikaanse segregasie en ongelykhede. Die klem in graad 9 en die VOO-fase (gr. 10-12) val op rassisme, vroue se protesbewegings en plaaslike weerstand, terwyl die Franse Revolusie, Koue Oorlog en breër wêreldgebeure dikwels na die agtergrond geskuif word of slegs in terme van hul impak op Afrika bespreek word.
Dit is nie ʼn subtiele aanpassing nie. Dit is ʼn doelbewuste verskuiwing na ʼn Afrika-gesentreerde lens, waar Europese en Westerse geskiedenis nie bloot gereduseer word nie, maar eerder binne ʼn raamwerk van koloniale onreg, slagofferskap en weerstand geplaas word. Die veronderstelde ou Eurosentriese vooroordele word dus nie reggestel nie – dit word bloot omgedraai.
Wat verloor ons daarmee?
Feite en konteks: Geskiedenis word nie in ʼn vakuum gemaak nie. Suid-Afrika se verhaal is onlosmaaklik verweef met die Nywerheidsrevolusie, menseregte-tradisie, globale handel en botsende wêreldbeskouings. As ons dié breër raamwerk verloor, kan leerders nie meer ons eie geskiedenis krities vergelyk of verstaan nie. Dit word ʼn geïsoleerde narratief van onderdrukking en weerstand, sonder die komplekse oorsake, ekonomiese dryfvere en onbedoelde uitkomste wat werklike begrip moontlik maak.
Verder is balans tussen meervoudige perspektiewe totaal afwesig. Die nuwe kurrikulum plaas groepe te maklik in kategorieë van “kolonialis/slagoffer” of “onderdrukker/vryheidsvegter”. Verskeie groepe, wat nie tot minderhede beperk is nie, se prestasies, foute en erfenis word nie eerlik en ten volle erken nie. Gevolglik kweek dit nie trots vir ʼn mens se eie geskiedenis nie, maar eerder ʼn gevoel van permanente skuld of permanente slagofferskap – afhangend van die kant van die narratief waarin veral jou velkleur val.
Kritiese denke: Wanneer een oorheersende lens voorgeskryf word, word primêre bronne, teenstrydighede en verskillende interpretasies minder belangrik. Geskiedenis word dan nie ʼn soeke na waarheid nie, maar ʼn instrument van ideologie. Leerders leer nie om self te dink nie; hulle leer om die “korrekte” narratief en interpretasie te herhaal sonder om dit binne ʼn breër konteks te kan evalueer.
Terwyl ongeregtigheid nie ontken moet word nie en ʼn regmatige plek in die geskiedenis toegeken moet word, kan hierdie verskynsels nie tot so ʼn mate beklemtoon word dat Westerse bydraes tot regstelsels, infrastruktuur, wetenskap, medisyne en onderwys geminimaliseer word nie. Sodanige aanpassings skep ʼn onewewigtige prentjie wat nie die volle kompleksiteit van ons geskiedenis weerspieël nie. Moderne Suid-Afrika het nie in ʼn vakuum ontstaan nie.
Wat moet ons doen?
Ek glo dat ouers en onderwys kinders moet toerus om die waarheid te soek en om nie deur ʼn nuwe ideologie beperk te word nie. Daarom maak ek die volgende aanbevelings:
- Hou feite, konteks en chronologie sentraal.
- Verseker werklike balans tussen Afrika-, Westerse en wêreldgeskiedenis.
- Onderrig meervoudige perspektiewe sonder om groepe as helde of skurke te karakteriseer.
- Kweek kritiese denke deur bronevaluering en oop debat oor interpretasies.
- Erken onregte sonder om positiewe of komplekse aspekte te ignoreer.
Ons het al voorheen gesien hoe revolusionêre idees in onderwysstelsels misbruik word. Ons moenie toelaat dat geskiedenisonderrig dieselfde pad volg nie. Ons kinders verdien ʼn kurrikulum wat hulle leer om hul erfenis te verstaan, krities te dink en die toekoms met selfvertroue te bou – nie een wat hulle beperk tot nuwe narratiewe van slagofferskap of skuld nie.
Ouers, onderwysers en gemeenskappe kan ook kommentaar lewer deur die voorgestelde dokumente te lees en die vorm op die departement se webwerf te voltooi.
Honderd-en-vyf jaar gelede het ons self skole gestig toe ons taal en erfenis ontken is. Vandag beskerm ons weer die plek van ons herkoms in die verhaal van Suid-Afrika, want ons glo in gebalanseerde, eerlike onderwys.