Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe raak kinders se trauma, gedrag en huislike omstandighede die welstand van onderwysers?
René van der Vyver
Onderwysers is dikwels die eerste linie van ondersteuning wanneer kinders trauma ervaar. Of dit nou ʼn egskeiding of ʼn sterfte in die gesin is, die onderwyser moet vertroosting bied en eerste agterkom as ʼn kind se gedrag skielik verander. Hierdie konstante blootstelling aan ander se pyn laat egter diep letsels. Marlize Holtzhausen, ʼn maatskaplike werker by Eureka Skool, ʼn LSOB-skool (Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes) in Vereeniging, deel haar insigte oor hoe onderwysers hul sielkundige welstand te midde van hierdie druk kan beskerm.
Wat is sekondêre trauma?
Sekondêre traumatiese stres (STS) vind plaas wanneer iemand getraumatiseer word bloot deur te hoor van, te sien of te wete te kom van ʼn ander persoon se trauma. Artikel 150 van die Kinderwet (No. 38 van 2005) omskryf kinders wat sorg en beskerming benodig as diegene wat verlaat of verwees is sonder sigbare middele van ondersteuning; wat onbeheerbare gedrag toon; aan dwelmmiddels verslaaf is; of fisies, emosioneel, seksueel of finansieel uitgebuit word. In ʼn LSOB-skool is leerders se verstandelike en fisiese vermoëns dikwels beperk, wat hulle uiters weerloos maak. Omdat alternatiewe sorg vir hierdie kinders moeilik is om vinnig te reël, raak die trauma vir sowel die kind as die onderwyser langdurig.
In ʼn LSOB-omgewing is kinders se emosionele behoeftes dikwels baie intens. Hoe beïnvloed die konstante blootstelling aan hierdie leerders se trauma mettertyd ʼn onderwyser se eie sielkundige welstand?
Om skool te hou vir kinders met laer kognitiewe vermoëns is reeds ʼn uitdaging, veral omdat hul versorgers se vermoëns dikwels ook op opvoedkundige en finansiële vlak beperk is. Wanneer trauma bygevoeg word, word die sielkundige las op die onderwyser nóg swaarder. ʼn Opname onder personeel by Eureka Skool toon dat onderwysers gereeld emosioneel uitgeput en afgestomp voel. Hulle ervaar gevoelens van hulpeloosheid, angs, hoë kwesbaarheid en buierigheid. Dit kan daartoe lei dat hulle onnodig krities teenoor ander raak en hul interne motivering verloor.
Wat is die subtiele tekens van sekondêre trauma waarna onderwysers by hulself moet oplet voordat hulle heeltemal uitgebrand raak?
Voor totale uitbranding intree, is daar vroeë waarskuwingstekens waarna onderwysers by hulself moet oplet:
- • Konstante moegheid en swak slaappatrone of slapeloosheid
- • Verlaagde immuniteit en gereelde hoofpyn
- • Verswakte konsentrasie en lusteloosheid
- • ʼn Depressiewe gemoed
Onderwysers voel dikwels skuldig as hulle probeer om emosionele afstand te skep. Watter praktiese tegnieke of grense kan hulle instel om hulself te beskerm sonder om hul hart vir die kinders te verloor?
Onderwysers is dikwels van nature mense wat wil red. Dit kan soms vir hulle teenstrydig voel met Galasiërs 6:2 se opdrag om mekaar se laste te dra as hulle probeer om emosionele afstand te skep. In ʼn LSOB-omgewing het die woord grense egter dikwels min betekenis vir leerders. Die oplossing vir skuldgevoelens en die afwesigheid van grense lê in effektiewe spanwerk, waar kollegas mekaar aan gesonde grense herinner.
Marlize stel ʼn duidelike standaard hanteringsprosedure voor wanneer ʼn onderwyser vermoed ʼn kind is in nood, soos wanneer klein Sannie kla haar lyf is te seer om te sit:
- 1. Die klasonderwyser roep ʼn klasassistent in om toesig te hou oor die klas.
- 2. Die juffrou vra Sannie om verskoning vir haar ongeduld en neem haar na ʼn maatskaplike werker, verpleegkundige of graadhoof wat met seerplekke kan help.
- 3. Ten minste twee personeellede moet saam na die kind luister sodat beserings akkuraat aangeteken kan word. Sannie se persoonlike grense moet gerespekteer word terwyl sy haarself in ʼn geslote badkamer ondersoek, en die personeel se reaksie op enige beserings moet neutraal en nie-emosioneel wees.
- 4. As die beserings duidelike tekens van mishandeling toon, moet albei personeellede ʼn beëdigde verklaring aflê met presiese tye aangeteken. Die maatskaplike werker kontak dan die polisie se kinderbeskermingseenheid.
- 5. Indien vermoed word dat die ouers die kind sal aanhou mishandel, moet die departement van maatskaplike ontwikkeling die saak onmiddellik ondersoek.
In die praktyk is dit dikwels moeilik om hierdie stappe te volg en eerder ʼn geval van raap, skraap en bid, maar spanwerk help om die sekondêre trauma te deel sodat een persoon nie alles alleen dra nie.
As ʼn onderwyser besef hulle dra die swaar las van ʼn leerder se huislike omstandighede, wat is die eerste stap wat hulle moet neem om die emosionele herstelproses te begin?
Ideaal gesproke moet onderwysers nie tot op die punt van uitbranding kom nie; die skoolspan moet sensitief genoeg wees om die waarskuwingstekens vroegtydig raak te sien. Uitbranding van die “pakdier” wat almal se laste dra, word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as ʼn werkstoestand beskryf met simptome wat baie soos depressie lyk.
Om te verhoed dat jy die las huis toe dra, stel Marlize die volgende riglyne voor:
- • Kry ʼn aanspreeklikheidsmaat: Werk twee-twee saam, deel weekliks vir ʼn halfuur julle diepste gedagtes en soek saam na oplossings.
- • Skryf dit van jou af: Skryf elke aand drie sinne in ʼn joernaal om jou sorge te laat gaan.
- • Sorg vir jou liggaam: Stap vier keer per week minstens ʼn kilometer, eet gesond en moenie uitgeput werk toe gaan nie.
- • Daaglikse mini-vakansie: Sit elke dag 60 minute opsy om te lees, te brei of kuns te doen.
- • Moenie huil onderdruk nie: Trane stel serotonien en oksitosien vry, wat help om emosies te reguleer.
- • Beplan vooruit: Gaan slaap vroeg, begin jou dag rustig en voorbereid, rus doelbewus tydens vakansies en moenie jou dagboek oorbeplan nie.
Onderwysers is die ankers in ons skole, maar jy kan nie aanhou gee uit ʼn leë beker nie. Om na die trauma van ons kinders om te sien, moet ʼn onderwyser se eie welstand eers beskerm word. Dit is presies waar Solidariteit se Onderwysernetwerk ʼn praktiese verskil maak. Deur opvoeders te ondersteun met die nodige hulpbronne, riglyne en ʼn sterk netwerk van kollegas, verseker hulle dat geen onderwyser hierdie emosionele las alleen hoef te dra nie. Saam kan ons verseker dat die harte wat die toekoms bou, self heel bly.