loading
avatar
Blogs
2 dae gelede
nasionale-kinderbeskermingsweek-die-mense-agter-ons-kinders

Foto Krediet: LM Photography

Nasionale Kinderbeskermingsweek: Die mense agter ons kinders

Deur Anlia Archer

ʼn Rukkie terug het my dogtertjie een Saterdagmiddag by my spieëlkas gesit en teken terwyl ek luilekker op die bed gelê en storie kyk het. Die bure se kinders het haar kom roep om te speel en ek het die “prentjie” gesien wat sy besig was om te teken. Daar het gestaan: “Vorm deel van my groepie. Ons gaan vir mense van Jesus virtel. Ons gaan die wêrild vol rys en vriendelik wees met amal. Jesus is koning!”

Aanvanklik het ek geglimlag, want dit is kostelik – spelfoute en al! Die bedoeling daaragter is so mooi en eerbaar, maar ek het oombliklik bekommerd geraak oor die verwerping wat sy dalk kan voel as hierdie “groepie” van haar nie na wense gevorm word nie. Mense kan soms wreed wees en ek wil nie hê dat sy daardie ontnugtering op negejarige ouderdom reeds moet beleef nie.

Daar is min dinge wat ʼn mens so diep en definitief verander soos ʼn kind. Dit verander jou waaghalsigheid in konserwatiewe oorweging omdat iemand anders se welstand nou volkome van jou afhanklik is. Dit verander jou ambisie om die korporatiewe leer te klim in ʼn diep behoefte om ʼn goeie tuiste te skep waarin jou kind veilig kan voel. En dit verander jou benadering tot die lewe van een sonder inhibisie tot een van versigtige oorweging en deeglike oorlegpleging.

Kinderbeskermingsweek herinner my nie net aan kinders se kwesbaarheid nie – dit herinner my ook aan die enorme verantwoordelikheid wat ons, as volwassenes, dra om na ons kinders se veiligheid, harte, toekoms en welstand om te sien. Nie net as ouers nie, maar as familie, vriende, opvoeders, maatskaplike werkers, verpleegkundiges, terapeute, bure, mentors en gemeenskapslede.

As ʼn ouer het ek baie gou geleer dat kinders meer as net kos, klere en ʼn dak oor hul koppe nodig het. Hulle het iemand nodig wat teenwoordig en geduldig is, sagte woorde en grense wat ʼn gevoel van veiligheid skep. Hulle het oë nodig wat hulle raaksien as hulle stil word en arms wat hulle troos wanneer die wêreld net ʼn bietjie te groot voel.

Terwyl ons hierdie week kinders vier en beskerm, moet ons ook erken dat die mense wat na kinders omsien, dikwels self uitgeput, oorlaai en emosioneel moeg raak. Agter elke kind wat floreer, presteer en gelukkig is, staan daar ʼn volwassene wat aanhou om op te daag – selfs op die moeilike dae.

Kinderbeskermingsweek is vir my dus ook ʼn herinnering aan diegene wat versorgingsrolle volstaan:

  • • Die maatskaplike werker, wat dikwels die las van swaar en hartseer stories dra ten koste van hulself;
  • • Die onderwyser, wat dikwels baie meer gee as wat verwag word;
  • • Die verpleegkundige, wat liefdevol versorg en stilletjies agter ʼn gordyn wegkruip om saam met die familie te huil;
  • • Die ma wat haar beste gee – selfs al voel dit asof dit nooit goed genoeg gaan wees nie;
  • • Die pa wat doelbewus kies om ten volle teenwoordig te wees;
  • • Die ouma wat inspring en help as niemand anders kan nie;
  • • Die versorger wat stil-stil liefde gee sonder erkenning;
  • • Die vriendelike tannie, wat instinktief haar hand teen ʼn skerp kant hou as ʼn baba verby haar kruip;
  • • Die mense wat werklik omgee as ʼn tweede natuur uitleef.

Daarom vereer ek tydens Kinderbeskermingsweek ook die volwassenes wat hierdie rolle met passie en oorgawe vervul. Kinderbeskerming begin nie eers wanneer daar gevaar is nie, maar wanneer ons luister, kinders ernstig opneem, veilige ruimtes skep, kies om teenwoordig te wees en ander ouers ondersteun sonder om hulle te oordeel … en bekommerd raak oor potensiële seerkry en ontnugtering – selfs al is die bedoelings eerbaar.

Kinderbeskermingsweek is belangrik! Vra jouself hierdie week af: Watter soort volwassene kies ek om vir ander weerbare kinders om my te wees?

Mag ons kinders waarvoor ons verantwoordelikheid neem nooit nodig hê om te twyfel dat hulle waardevol, beskermd en geliefd is nie. En mag ons as gemeenskappe hande vat om nie net die kinders te dra nie, maar ook die mense wat elke dag vir hulle sorg.

Anlia is die netwerkorganiseerder van Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk. Klik hier en raak vandag nog betrokke!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel