loading
avatar
Artikels
22 uur gelede
wat-is-n-onderwyser-se-plig-as-hul-vermoed-dat-iets-fout-is-by-die-huis

Foto Krediet: OkayDeer

Wat is ʼn onderwyser se plig as hul vermoed dat iets fout is by die huis?

René van der Vyver

In die lig van die groeiende maatskaplike krisis in ons land, word onderwysers al hoe meer gekonfronteer met moeilike situasies soos mishandeling en verwaarlosing in hul klaskamers. Maar weet opvoeders altyd presies wat hulle te doen staan wanneer die waarskuwingsligte begin flikker? Marlize Holtzhausen, ʼn maatskaplike werker by Eureka Skool, ʼn LSOB-skool (Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes) in Vereeniging, deel haar eerstehandse insigte en praktiese riglyne.

Baie onderwysers huiwer om mishandeling of verwaarlosing aan te meld uit vrees dat hulle verkeerd is. Wat sê Suid-Afrikaanse wetgewing oor ʼn onderwyser se plig om ʼn vermoede van mishandeling of verwaarlosing aan te meld?

Volgens artikel 110 van die Kinderwet (No. 38 van 2005) is dit egter ʼn wetlike verpligting om enige vermoede van mishandeling of verwaarlosing onmiddellik aan te meld. Die wet beskerm opvoeders in hierdie verband: hulle kan nie wetlik aanspreeklik gehou word as ʼn amptelike ondersoek uiteindelik bevind dat daar geen gronde vir die vermoede was nie. Dit is altyd beter om die kind se veiligheid te prioritiseer.

Waarna moet ʼn onderwyser spesifiek oplet in ʼn leerder se gedrag of voorkoms wat verder strek as net ʼn “slegte dag” en eerder dui op ʼn dieper krisis by die huis?

Krisisse by die huis toon dikwels eerste sigbare tekens in ʼn leerder se daaglikse gedrag of voorkoms. Marlize noem die volgende belangrike aanwysers waarna onderwysers moet oplet:

  • • Skielike, konstante slaperigheid gedurende die skooldag.
  • • ʼn Drastiese verandering in voeding, soos kinders wat voorheen genoeg kos gehad het en wat skielik min of niks kos skool toe bring nie.
  • • ʼn Verwaarloosde voorkoms, soos vuil of gekreukelde klere by leerders wat gewoonlik netjies is.
  • • Skielike aggressie, bakleiery, of om maats te slaan en te stamp.
  • • Gereelde, onverklaarbare afwesigheid.
  • • Onttrekking en isolasie by kinders wat voorheen spontaan en deurlopend betrokke was.
  • • ʼn Toename in die erns of aantal blou kolle, veral aangesien sommige LSOB-leerders reeds lomp is en makliker kneusplekke opdoen.
  • • Selfbesering, of om dik truie en baadjies in die middel van die somer te dra om merke weg te steek.
  • • Aandagsoekende gedrag, huilerigheid, ʼn depressiewe gemoed of gereelde psigosomatiese klagtes (waarvan maagpyn en hoofpyn die algemeenste is).

Sodra ʼn onderwyser onraad merk, wat is die eerste drie praktiese stappe wat binne die skoolkonteks gevolg moet word om te verseker dat die saak korrek en veilig hanteer word?

Sodra ʼn onderwyser onraad merk, moet die omstandighede onmiddellik skriftelik aan die graadhoof of adjunkhoof gerapporteer word. Van daar af sal die hoër gesag, saam met beraders of die maatskaplike werker, besluit oor die beste onmiddellike optrede om die leerder se veiligheid te verseker. Moenie sake informeel hanteer nie; die praktyk toon dat as sake nie skriftelik en deur amptelike kanale hanteer word nie, dit vaag raak en die leerder uiteindelik weens ontoereikende kommunikasie ly.

Waarvoor moet onderwysers versigtig wees wanneer hulle met so ʼn situasie te doen het, veral wat betref die insameling van inligting of gesprekke met die betrokke gesin?

Dit is belangrik om altyd met feite te werk. Konfronteer ʼn leerder saggies met die werklikheid van die situasie, byvoorbeeld: “Ansie, ek sien jy was hierdie kwartaal reeds nege dae afwesig. Vertel my wat gaan aan?” Let fyn op die antwoord sowel as nie-verbale leidrade. Hou ook akkuraat rekord van fisiese merke en die frekwensie van psigosomatiese klagtes.

Onderwysers moet egter nooit probeer om die saak self te ondersoek of feite by die kind probeer uitvis nie. Die getraumatiseerde geheue is dikwels gefragmenteerd, en onprofessionele ondervraging kan belangrike inligting kontamineer omdat die kind maklik verward kan raak oor tyd, plek en rolspelers. Hierdie feite-insameling moet aan maatskaplike werkers, beraders, toepaslike niewinsgewende organisasies of die polisie oorgelaat word.

Indien ʼn ouer-onderwyser-vergadering wel nodig is, moet dit nooit een-tot-een plaasvind nie. Maak seker die graadhoof of maatskaplike werker is teenwoordig en dat volledige notules geneem word.

Hoe kan ʼn onderwyser die leerder emosioneel ondersteun terwyl die formele ondersoek of proses deur maatskaplike dienste en die polisie hanteer word?

In hoofstroomskole moet die onderwyser die kind van streng vertroulikheid verseker. Moenie die saak met enigiemand bespreek sonder die kind se medewete en toestemming nie, tensy die amptelike proses dit wetlik vereis. In LSOB-skole is die dinamika soms anders, aangesien hierdie leerders dikwels ʼn behoefte het om hul storie wyd en syd met maats of vreemdelinge te deel. In sulke gevalle moet die kind saggies begrens word en na die skool se maatskaplike werker of berader verwys word om ʼn veilige, gestruktureerde omgewing te verseker waarin die saak bespreek kan word.

Om die eerste verdedigingslinie te wees in ʼn land wat in ʼn maatskaplike krisis vasgevang is, is ʼn swaar wetlike en emosionele verantwoordelikheid vir enige opvoeder. Gelukkig hoef onderwysers nie hierdie las alleen te dra nie. Deur inisiatiewe soos Solidariteit se Onderwysernetwerk kry onderwysers toegang tot die regte professionele leiding, regshulp en ondersteuning van kollegas om kwesbare situasies veilig te hanteer. Dit gee onderwysers die gemoedsrus dat hulle reg optree, terwyl hulle steeds dien as die veilige hawe wat kwesbare kinders so dringend nodig het.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel