loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
akademia-toppresteerders-vereer-met-solidariteit-se-praestantia-toekenning

Foto Krediet: Akademia (Facebook)

Akademia-toppresteerders vereer met Solidariteit se Praestantia-toekenning

Deur Kyla-Ann du Toit

Hakke, pakke en uitnemendheid in hul sakke!

Op die vooraand van Akademia se kwalifikasieplegtigheid is toppresteerders op 6 Mei 2026 tydens ʼn prestigegeleentheid in Pretoria vereer vir hul harde werk, akademiese uitnemendheid en deursettingsvermoë.

Dit was ook by hierdie geleentheid waar Solidariteit se splinternuwe Praestantia-toekenning amptelik bekendgestel is – ʼn inisiatief wat daarop gemik is om hoëpresterende studente verder in hul studiereis te ontwikkel en te ondersteun.

Praestantia, wat “uitnemendheid” beteken, is ʼn merieteprogram wat akademiese prestasie en leierskap onder studente erken en bevorder. Vanjaar het 24 studente vir die eerste keer hierdie nuwe gesogte toekenning ontvang.

“Ons gaan die res van die jaar ʼn pad saam met hierdie studente stap en ʼn program saam met hulle volg,” sê Chereé Meyer, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod. “Ons is vreeslik opgewonde om te sien wat die toekoms vir hierdie studente inhou.”

Solidariteit se Praestantia-merieteprogram fokus op akademiese prestasie, asook op die ontwikkeling van toekomstige leiers en professionele persone. Studente wat deel van die program vorm, kry toegang tot unieke geleenthede wat hul persoonlike en professionele groei kan bevorder.

Die program sluit onder meer deelname aan adviesrade in verskeie beroepsvelde, netwerkgeleenthede met kundiges, toegang tot leerkursusse en blootstelling aan professionele insigte in. Deelnemers sal ook deel word van die Praestantia-erevereniging en ʼn kongres vir toppresteerders kan bywoon.

Om vir die program te kwalifiseer, moes studente ʼn akademiese gemiddeld van minstens 75% behaal en onder die topdrie-studente in hul program tel.

Vir Solidariteit gaan die program oor veel meer as net goeie punte. Hierdie studente het reeds bewys dat hulle bereid is om hard te werk en uitnemendheid na te streef. Solidariteit wil hulle dus help om verder te groei, hul potensiaal te ontwikkel en ʼn netwerk te bou wat hulle in hul toekomstige loopbane kan ondersteun.

Die bekendstelling van die Praestantia-toekenning vorm deel van Solidariteit se breër fokus om jong mense vir die wêreld van werk voor te berei en om ʼn kultuur van uitnemendheid onder studente te bevorder.

Met die eerste groep ontvangers wat binnekort met Solidariteit se merieteprogram gaan begin, lyk die toekoms reeds belowend. Dit is duidelik dat hierdie toekenning nog vir baie jare ʼn merkwaardige rol in studente se ontwikkeling kan speel.

Kyk hier en hier wat twee van die ontvangers van Solidariteit se Praestantia-toekenning te sê gehad het.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel