loading
avatar
Artikels
8 maande gelede
drie-goue-reels-vir-jou-eerste-onderhoud

Foto Krediet: OkayDeer

Drie goue reëls vir jou eerste onderhoud

Deur Leré Nel

Voel jy gereed vir jou eerste werksonderhoud? Vir baie studente voel hulle eerste onderhoud soos ʼn berg wat voor hulle lê. Maar dit hoef nie so te wees nie! Met deeglike voorbereiding en drie slim strategieë kan jy kop en skouers bo die ander kandidate uitstaan.

Wanneer jy binnekort in die spreekwoordelike “warm stoel” sit, hou hierdie drie goue reëls in gedagte en verweef dit natuurlik in jou antwoorde:

  1. 1. Beklemtoon jou sterkpunte
    Moenie bloot ʼn lys van jou sterkpunte aframmel nie. Verduidelik eerder vir die onderhoudvoerder hoe jou vermoëns met die pos ooreenstem. Dit beklemtoon nie net jou geskiktheid vir die rol nie, maar demonstreer ook vertroue in jou vermoë om die werk te kan doen.
  2. 2. Koppel jou vaardighede aan die pos
    Hier moet jy weer vir die onderhoudvoerder help om die kolletjies te verbind. Verduidelik hoe jou akademiese agtergrond, praktiese ervaring en vaardighede jou in staat stel om aan die eise van die pos te voldoen. Deur dit te doen wys jy dat jy verstaan wat die werk behels.
  3. 3. Verduidelik hoe dit by die maatskappy se groter doel en kultuur inpas
    Nadat jy jou sterkpunte en vaardighede aan die pos gekoppel het, neem dit ʼn stap verder deur te verduidelik hoe dit by die maatskappy se groter doel en kultuur inpas. Werkgewers hou van kandidate wat die groter prentjie kan sien. Hulle wil sien dat jy navorsing oor die maatskappy gedoen het en dat jou waardes en visie met hul kultuur en doelwitte strook.

As jy hierdie drie elemente natuurlik deel van die gesprek kan maak, sal jou antwoorde meer gewig dra en vir die werkgewer wys dat jy goed vir die onderhoud voorberei het.

Gebruik die hulpbronne tot jou beskikking om voor te berei

As jy gratis by Solidariteit se Studentelewegroep geregistreer is, is ʼn wye reeks hulpbronne beskikbaar om jou te help om deeglik vir jou eerste onderhoud voor te berei.

Met hierdie wapens in jou arsenaal, kan geen werkgewer jou onkant betrap met onverwagse vrae nie – geen verrassings vir jou nie!


Bly ingeskakel by Solidariteit se Studentelewegroep en gaan voort om jou profiel te bou om toegang te kry tot nóg hulpbronne, geleenthede en netwerke wat jou loopbaan ʼn hupstoot kan gee.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel