Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Amsa se verliese krimp, maar onsekerheid oor voortbestaan bly groot
Deur Robin-Lee Maré
Die sluiting van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) se langstaalaanlegte in Newcastle en Vereeniging, asook die gevolglike aflegging van duisende werknemers, het landwyd opslae gemaak en gemeenskappe swaar getref. Vir talle gesinne beteken dit nie net die verlies van ʼn inkomste nie, maar ook toenemende onsekerheid oor hul toekoms in ʼn reeds sukkelende staalbedryf.
Solidariteit het in dié tyd sy ernstige kommer uitgespreek oor die volhoubaarheid van die vervaardigingsindustrie – en Amsa spesifiek. Volgens Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris, is die kernvraag nie bloot wat die jongste finansiële syfers wat Amsa bekend gemaak het aandui nie, maar of daar werklik ʼn volhoubare toekoms vir werkers bestaan.
Volgens Venter plaas Solidariteit toenemende druk op die regering om duidelikheid te verskaf oor ’n meer omvattende strategiese plan vir die staalbedryf. “Ons staan skepties teenoor die blykbare verbetering wat verlede jaar aangekondig is, juis omdat daar nog geen konkrete duidelikheid oor die pad vorentoe is nie. Werknemers en hul gesinne kan nie op vae vooruitsigte staatmaak nie,” sê hy.
Teen hierdie agtergrond het Amsa wel ʼn beduidende vermindering in sy finansiële verliese vir die boekjaar op 31 Desember 2025 aangekondig. Die maatskappy het sy verlies tot R2,6 miljard verklein. Tog waarsku Amsa self dat daar steeds ʼn wesenlike onsekerheid bestaan oor sy vermoë om as ʼn lopende saak voort te gaan.
Venter meen die sogenaamde verbetering moet met groot omsigtigheid benader word. “ʼn Vermindering in verliese bly steeds ʼn verlies. Die volhoubaarheid van werk hang direk af van die volhoubaarheid van Amsa. Sonder ʼn stabiele en winsgewende maatskappy is daar geen werklike sekerheid vir werknemers nie,” benadruk hy.
Intussen is Amsa in oorname-onderhandelinge met die staatsbeheerde Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK), wat na verwagting ʼn niebindende aanbod vir die onderneming sal indien. Die partye het reeds in 2025 onderhandel, maar ʼn informele voorstel van R8,5 miljard – wat R7 miljard se skuld aan Amsa se moedermaatskappy sou insluit – is destyds van die hand gewys.
Terwyl hierdie gesprekke voortduur, verduidelik Venter, bly die kernvraag nie net of Amsa sy finansiële posisie kan stabiliseer nie, maar of ʼn volhoubare toekoms vir die Suid-Afrikaanse staalbedryf, en die duisende werkers wat daarvan afhanklik is, verseker kan word.
Volgens Venter sal Solidariteit in hierdie klimaat van aanhoudende onsekerheid nie bloot toekyk hoe werkers die prys betaal vir beleidsonduidelikheid en finansiële wankelrigheid nie. “Die vakbond sal aanhou druk uitoefen vir deursigtige onderhandelinge, ʼn geloofwaardige bedryfsplan en tasbare oplossings wat werksekerheid eerste stel.”
Vir Solidariteit bly die fokus onveranderd: om sy lede te beskerm, hul regte te verdedig en seker te maak dat hul stem duidelik gehoor word terwyl die toekoms van die staalbedryf op die spel is.