
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
ANC sê 70 000 wit mans moet padgee uit werksmag
Volgens die nuwe 2025-rasseregulasies moet sowat 70 000 wit mans hul poste in verskeie sektore ontruim – nie oor swak werkverrigting nie, maar bloot oor hul ras en geslag. Die impak van hierdie beleid is veral sigbaar in sektore soos elektrisiteit, konstruksie en openbare administrasie, waar gesoute kundigheid eenvoudig weggegooi word. Lees hier meer.
In ʼn beleid wat voorgee om geregtigheid te bring, word een groep nou openlik geteiken: wit mans. Volgens die nuutste rasseregulasies wat in April 2025 aangekondig is, moet ongeveer 70 000 wit mans in alle sektore en op alle posvlakke vervang word. Nie omdat hulle onbekwaam is nie, nie omdat hulle onderpresteer nie, maar bloot omdat hulle die “verkeerde” kleur en geslag is.
*Laai die verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut hier af.
70 000 mans te veel – slegs op papier
Volgens die minister se sektorteikens moet wit mans as’t ware uit die arbeidsmark verdwyn. Hierdie vervanging raak nie net bestuurders nie, maar veral middelklaswerkers – dié op professioneel opgeleide en vaardige posvlakke.
Om die teikens te bereik, moet:
- • bykans 75% van wit mans op professioneel opgeleide vlak in die elektrisiteitsbedryf vervang word
- • 62% van vaardige wit mans uit konstruksie verdwyn
- • ongeveer 64% van professioneel opgeleide wit mans in die openbare administrasie vervang word
- • 59% van wit mans op professioneel opgeleide vlak in administratiewe ondersteuning vervang word
- • tussen 47% en 57% van wit mans uit landbou, inligtingstegnologie en die professionele sektor verwyder word.
Geen realistiese groeipad beskikbaar nie
Die alternatief vir vervanging sou wees dat die ekonomie só vinnig groei dat die aangewese groepe eenvoudig in die teikens kan “ingroei”. Maar dit is ʼn fantasie. Die Departement van Arbeid se eie statistieke toon dat daar die afgelope dekade feitlik geen werklike groei in indiensneming was nie. Inteendeel – die werksmag het sedert 2018 gekrimp. Vervanging is dus nie opsioneel nie, maar die implisiete vereiste van die beleid.
Eensydige toepassing van “gelykheid”
Die 2023-skikking tussen Solidariteit en die Departement van Arbeid het uitdruklik bepaal dat niemand afgelê mag word vir die bereiking van indiensnemingsteikens nie. Die 2025-regulasies sluit hierdie beskerming egter doelbewus uit. Die staat gee dus de facto-toestemming dat duisende wit mans afgelê mag word om rasseteikens te bereik.
Maar waarvoor? ʼn Verskil van 0,3%?
Indien elke wit man in Suid-Afrika summier uit sy werk ontslaan en met ʼn werklose swart persoon vervang word, sal swart werkloosheid volgens die regering se eie syfers net met 0,3 persentasiepunte daal – van 36,98% tot 36,64%. Dit is nie transformasie nie.
Die ideologiese prys van werk
Hierdie teikens is nie ontwerp vir inklusiwiteit nie – dit is ontwerp om ʼn demografiese kaart van die verlede op ʼn dinamiese arbeidsmark van die toekoms af te dwing. Daar word nie gevra of mense bevoeg is nie. Daar word nie na prestasie gekyk nie. Daar word bloot getel: ras, geslag – en niks meer nie.
ʼn Beleidsraamwerk wat werklik geregtigheid nastreef, kan nie op wettige uitsluiting op grond van kleur berus nie. Ware gelykheid beteken nie dat een groep doelbewus benadeel moet word nie. Die 2025-rasseregulasies het nie bloot ʼn lyn oorgesteek nie – dit het die pad van redelikheid verlaat.