
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Bemark jou besigheid vir sukses met LinkedIn en KI
Op 29 Mei 2025 het Solidariteit ʼn verrykende netwerksessie vir werkgewers aangebied, met die fokus op twee belangrike hulpmiddels: LinkedIn en ChatGPT. Lees hier meer.
Deur Leré Nel
In ʼn era waar besighede toenemend digitaal funksioneer, het bemarking ʼn nuwe gedaante aangeneem. Tydens Solidariteit se onlangse Werkgewersnetwerksessie het twee kenners – Irma Karsten en Marnus de Klerk – waardevolle insigte gedeel oor hoe werkgewers en besigheidseienaars LinkedIn én kunsmatige intelligensie (KI) doeltreffend kan aanwend om hul besigheid te laat groei. Hier is ʼn paar lesse en praktiese wenke uit hul aanbiedings.
LinkedIn: Jou 24/7 netwerk- en bemarkingsplatform
Volgens Irma Karsten is LinkedIn bloot nie meer ʼn platform om werk te soek nie – dit is ʼn bemarkingsinstrument, ʼn netwerkgeleentheid en ʼn verhoudingsbouer, alles in een. Sosiale verkope – die kuns om deur verhoudings verkope op sosiale media aan te dryf – is ʼn onmisbare deel van moderne sakebedrywighede.
Waarom LinkedIn werk:
- • Jy kan verhoudings bou met mense wat jy moontlik nooit persoonlik sou ontmoet nie.
- • Daar is nie meer “hekwagte” nie – jy kan direk met besluitnemers konnekteer.
- • Om kliënte te kry, moet jy wees waar hulle is – aanlyn.
Wenke vir sukses op LinkedIn:
- • Profieloptimalisering: Jou persoonlike profiel moet professioneel en volledig wees – dit is jou aanlyn verkoopsinstrument. Gebruik ʼn onlangse foto, wees spesifiek in jou titel, en fokus op konkrete vaardighede.
- • Wees aktief: Bestee daagliks minstens 15 minute op LinkedIn. Interaksie (kommentaar, die deel van plasings, ensovoorts) maak jou meer sigbaar.
- • Bou verhoudings: Moenie net bemark nie – luister, leer en reageer. Kyk waaroor mense gesels en praat saam!
- • Koppel jou profiele: Jou persoonlike profiel móétaan jou besigheid se profiel gekoppel wees. Jou voornemende klante wil jou loopbaanreis kan sien – hulle wil sien met wie hulle besigheid doen! Wees dus jouself. Moenie jouself forseer om byvoorbeeld video’s van jouself te plaas as jy kamerasku is nie. Vind uit met watter vlak van aanlyn sigbaarheid jy gemaklik is, en doen dit.
- • Dink soos jou klant: Fokus jou inhoud op wat jou kliënte régtig wil hê – gemoedsrus, oplossings, ervaring – nie net die produk self nie.
Kunsmatige intelligensie: Jou nuwe digitale assistent
Marnus de Klerk het die gehoor gerusgestel: “KI gaan nie jou werk wegneem nie – dit gaan dit makliker maak. Spesifiek met behulp van gereedskap soos ChatGPT kan jy slim en tydsdoeltreffende besluite neem en jou bemarkingspogings só verbeter.”
Wat jy met KI kan doen:
- • Inhoudgenerering: Skryf sosialemediaplasings, e-posse, advertensietekste of selfs volledige artikels – vinnig en professioneel.
- • Profieloptimalisering: Koppel jou LinkedIn-profiel aan ChatGPT. ChatGPT sal jou wys waar jy jou profiel kan verbeter.
- • Datahantering: Laat KI help met Excel-sigblaaie, dokumentomskakelings en die uitruil van inligting tussen platforms.
- • Posadvertensies: Gebruik ChatGPT om gehalte, volledige posadvertensies te skryf wat die regte talent na jou onderneming sal lok.
Hoe om dit slim aan te wend:
- • Verpersoonlik jou KI: Vertel vir ChatGPT wie jy is, wat jou besigheid doen, en in watter formaat jy graag inligting wil ontvang. Dit leer jou styl en voorkeure aan.
- • Wees versigtig met sensitiewe data: Moenie finansiële of persoonlike besonderhede gee nie – dit is steeds ʼn oop platform waar inligting gesteel kan word.
- • Gebruik KI as ʼn mentor: As jy nie weet hoe om ʼn vraag te stel nie, vra eenvoudig hoe om die vraag te stel – KI sal help.
Die kombinasie wat saak maak
LinkedIn en KI werk baie goed saam. Jou sigbaarheid op LinkedIn versterk jou handelsmerk, terwyl KI jou help om daardie sigbaarheid slim en strategies te bestuur. Die belangrikste is egter om jouself te wees wanneer jy hierdie aanlyn platforms gebruik.
Onthou: Kliënte koop nie van ʼn handelsmerk nie – hulle koop by mense. Wees die persoon wie se aanlyn teenwoordigheid vertroue skep. Laat jou digitale stem die persoon wie jy in die regte lewe is, weerspieël.
Doen dit nou:
- • Gaan hersien jou persoonlike- en besigheidsprofiel op LinkedIn.
- • Stel ʼn KI-assistent, soos ChatGPT, op om jou met inhoud en take te help.
- • Begin aan verhoudings bou – een “like”, een kommentaar, een gesprek op ʼn slag.
Met die regte strategie en hulpmiddels is jou besigheid gereed vir die toekoms – en die toekoms ís digitaal.
Hou Solidariteit se platforms dop vir nog insiggewende wenke vir die werkplek. Hou ook ʼn oog op sosiale media sodat jy nie netwerksessies soos hierdie misloop nie.