loading
Artikels
2 weke gelede
apteker-jy-kan-ook-n-besigheidsman-of-vrou-wees

Foto Krediet: OkayDeer

Apteker, jy kan ook ʼn besigheidsman of -vrou wees!

Is jy ʼn apteker wat al gewonder het hoe dit sal wees om jou eie apteek te besit of te bestuur? Solidariteit het met Johan van Wyk, die bestuurder van Ackermans Apteek, gaan gesels om daaroor uit te vind. Lees verder om sy insigte te kry!


Deur Leré Nel

Aptekers en medici is gewoonlik nie die eerste ding waaraan mense dink as hulle aan ʼn besigheidsman of -vrou dink nie. Daarom is baie medici en aptekers soms ʼn bietjie skrikkerig vir die “besigheid”-gedeelte van hul beroep – maar dit moenie so wees nie! Aptekerswese is ʼn bedryf nes enige ander, en ʼn apteek is immers ʼn besigheid.

Dalk het jy as apteker al stilweg gewonder: Het ek wat nodig is – nie net om medikasie uit te gee nie, maar om ’n besigheid te bou, ’n span te lei en ’n gemeenskap op te hef? As jy al daaroor gewonder het, dan is hierdie artikel vir jou geskryf – en Johan van Wyk van Ackermans Apteek is jou bewys dat dit moontlik is.

Ackermans Apteek – wenner van Solidariteit se 2023 Apteek van die Jaar – is ʼn gemeenskapsbaken en besigheidsukses. Maar agter dié storie van groei en impak is ʼn nederige, passievolle apteker wat die moed gehad het om groter te droom.

ʼn Familiebesigheid én baken vir die gemeenskap

Johan van Wyk se pad het begin op ʼn plek wat vir hom aanvanklik ontmoedigend was. Sy pa was self die eienaar van Ackermans Apteek, en Johan onthou hoe hard sy pa moes werk – dikwels na ure, en dikwels ten koste van gesinstyd. Maar net twee maande voor sy matriekeksamen het iets in hom verander. “Ek het net een dag wakker geword en besluit: ek wil ook aptekerswese studeer,” vertel Johan. “Nie net om ʼn apteker te wees nie, maar om saam met my pa in die apteek te werk en te bou aan ons familie se besigheid.”

Vanaf sy internskap in 1996 het Johan ʼn passie vir kliëntediens, bemarking en besigheid begin ontwikkel. Hy het geweet hy is ʼn gebore sakeman en dat hy die apteek as besigheid tot nuwe hoogtes sal kan neem.

Wat jy moet weet voor jy jou eie apteek begin

Om ʼn apteek oor te neem of self van nuuts af te begin, verg basiese kennis, strategiese denke en die regte ondersteuning.

Johan se raad? Leer oor die basiese finansiële begrippe soos bruto wins, winsmarge en netto wins – en moenie huiwer om vrae te vra nie. Vind mense wat dit al gedoen het om mee te gaan gesels – deur byvoorbeeld aan te sluit by die Solidariteit Aptekersnetwerk. En veral: moenie dit alleen probeer doen nie. “Sluit aan by ʼn netwerk of groep soos AlphaPharm,” sê hy. “Hulle het uitstekende nuwe programme ontwikkel. Met nuwe tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI) is dit vandag moontlik om jou winkel meer doeltreffend te bestuur. Die KI kan selfs vooruitskattings maak oor watter produkte jy moet aanhou, hoeveel van elke produk, teen watter prys jy moet verkoop om jou mededingend te hou in die mark, en jou selfs waarsku oor nuwe tendense wat in die mark en op sosiale media opduik. Dit maak jou as apteker vry om baie aandag aan al jou waardevolle kliënte te gee, verhoudings te bly bou en te versterk, terwyl jou voorraad, jou aankope, jou pryse en selfs die uitleg van jou apteek deur rekenaarstelsels met kunsmatige intelligensie bestuur word.”

Bestuur met ʼn hart – en ʼn visie

Vir Johan is bestuur nie net pryse vergelyk en voorraad bestel nie. Dis ʼn kans om te droom, te innoveer en te dien. “Die gevoel van eienaarskap bring groter verantwoordelikheid,” sê hy. “Maar dit gee jou ook die vryheid om nuwe idees te toets, om groter te droom – en as dit werk, om die vrugte daarvan te geniet.”

Wat hom egter dryf, is nie wins nie, maar roeping. “My geloof is die hoeksteen van my besigheidsbesluite. Ek begin elke droom met gebed – en ek wag vir bevestiging. Dan weet ek dat ek voluit kan gaan.”

Gemeenskap eerste – altyd

Johan het ʼn hart vir mense. Sopkombuise, straatprojekte, stolpverpakking (“blister packaging”) vir ouetehuise – dit het alles voortgespruit uit die apteek.

“Die Here plant die droom in my hart,” sê Johan. “Ons moet net luister – en gehoorsaam wees. Jy sal verbaas wees hoe vinnig iets kleins in iets groots kan groei as jy net bereid is om te begin.”

Johan bly ook nederig en sy rol as apteker is steeds vir hom baie belangrik en vervullend. “Ek spot dikwels dat ek my apteek vanaf toonbank nommer 12 in ons resepteerafdeling in die apteek bestuur waar ek bestuursbesluite neem tussendeur voorskrifte wat ek vir kliënte resepteer.”

Jy kan dit ook doen!

Vir enige apteker wat wonder of hulle hul eie apteek kan begin, sê Johan: Ja, jy kan! Die speelveld verander vinnig – en die hulpbronne, platforms en mentors is daar om jou te ondersteun. “Die dae van teen mekaar meeding is verby. Dit is nou die tyd om saam te staan, te droom en ’n verskil in jou gemeenskap te maak. Doen jou huiswerk, en gaan daarvoor!”

Of jy nou pas jou loopbaan begin het of al jare lank in die beroep is – as jy ʼn visie, ʼn hart vir mense en ʼn gewilligheid het om te leer, is daar niks wat jou keer om jou eie apteek te begin nie.

Sluit aan by die Solidariteit Aptekersnetwerk en vind mense wat hierdie opwindende pad saam met jou kan stap. Ons is hier om saam met jou te droom, te bou en te groei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel