loading
avatar
Blogs
1 jaar gelede
as-die-rne-nie-die-ngv-stop-nie-sal-ons-moet

Foto Krediet: Solidariteit

As die RNE nie die NGV stop nie, sal óns moet

Dirk Hermann

Die minister van gesondheid is aandadig aan ongelyke mediese sorg. Nou wil hy méér beheer hê. Dit kan mos nie? Die regering van nasionale eenheid (RNE) moet die nasionale gesondheidsversekering (NGV) stop, anders moet óns dit in die hof doen.

Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, is van mening dat dit nou tyd is om die Nasionale Gesondheidversekering te implementeer. Volgens hom moet dit gebeur omdat toegang tot gesondheidsorg so ongelyk is.

Wel, almal hét toegang tot gesondheidsorg. Die rede hoekom pasiënte wat van openbare gesondheidsorg gebruik maak ongelyke behandeling ontvang, is omdat die einste minister se gesondheidsorgstelsel inplof. Dit is departement van gesondheid se hopeloosheid wat soveel smart veroorsaak. Hulle was obsessief oor ras, het vaardighede verjaag, die dienste word swak bestuur, en hulle het gesteel. Hulle het mense se gesondheid geplunder.

Die minister se aanspraak is ʼn selfaanklag en -skuldigbevinding. Hy moes in skande bedank, nou wil hy méér hê. Dit maak geensins sin om meer van die gesondheidsorgstelsel in die hande van die staat te plaas wat reeds daarmee misluk het nie. Die nuwe stelsel gaan nie nét oor sentrale befondsing nie – dit is ʼn sentraal-bestuurde gesondheidsorgmodel.

Die staat is die enigste aankoper van mediese dienste en skryf voor waar dokters mag praktiseer, wat hul mag voorskryf en na watter dokter of hospitaal ʼn pasiënt mag gaan. Dit is dieselfde staat met ʼn droewige verlede wat gesondheidsorgbestuur betref. Die uitkoms gaan net meer tragies wees. Ek hoef nie ʼn profeet te wees om die uitkoms te sien nie – minder mense gaan toegang tot gehalte- mediese dienste hê.

Die antwoord lê op ʼn ander vlak. Die privaat sektor moet eerstens in staat gestel word om meer dienste te lewer. Hoe meer privaat dienslewering daar is hoe meer vermoë het die staat.

Tweedens moet daar ook ingrypend na die privaat sektor en mediese fondse gekyk word. Hulle word dikwels self verblind deur ʼn winsmotief.

Derdens moet privaat bekostigbare gemeenskapmodelle vir gesondheidsorg gevind word. Daar is reeds gevallestudies oor sukses in die verband.

Laastens, en baie belangrik, moet die land se openbare gesondheidsorg reggeruk word. Bekwame mense, net die beste, moet betrek word en korrupsie durf nie geduld word nie. nie. ʼn Paar oranje oorpakke sal help.

Die NGV se staatsbeheerde stelsel is egter gedoem tot mislukking. Ek vertrou dat dit ʼn kwessie is waaroor daar nie voldoende konsensus in die RNE sal wees nie. Die RNE moet die NGV stop. Die DA en kie kan nie hieraan aandadig wees nie.

Indien nie, moet ons dit in die hof stop voor dit met tragiese gevolge inplof.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel