Foto Krediet: QCTO | Facebook
Gekopieër
Solidariteit se Ambagnetwerk waarsku oor regsaksie weens gesloer met rooiseëlsertifikate
Die Solidariteit Ambagnetwerk waarsku oor formele regsaksie teen die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) en ander rolspelers in die sertifiseringsketting oor die onaanvaarbare vertragings in die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan jong ambagslui.
Die regsaanmaning volg nadat dit duidelik geword het dat die probleem sistemies is en al vir jare voortduur, ondanks herhaalde beloftes dat dit opgelos sou word.
Tientalle jong ambagslui – nou nagenoeg 100 – het reeds by ʼn groepsgeding teen die QCTO aangesluit.
Solidariteit se aanmaning wys daarop dat betrokke ambagslui steeds op sertifikate wag wat volgens beleid binne 21 dae uitgereik moes word. Hierdie ambagslui het reeds hul opleiding voltooi, hul vaktoetse geslaag en aan alle vereistes voldoen.
Volgens Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk, is hierdie vertragings onregmatig, onredelik en uiters nadelig vir die betrokke jong werkers.
“Ons hoor slegs verskonings en vingerwysery en sien nie dat iemand verantwoordelikheid vir die proses neem nie. Uiteindelik moet die QCTO verseker dat die prosesse vlot verloop en toesien dat hy by sy eie beleid hou sodat sertifikate uitgereik word aan diegene wat dit verdien het,” sê Pretorius.
“Die gevolge is duidelik. Dit sit jong ambagslui se loopbane soms met jare terug. Daar is ook finansiële implikasies, aangesien hulle dikwels nie vir ambagsposte kan aansoek doen nie en op die vakleerlingsalarisvlak moet bly.
“In enkele gevalle kom spesifieke werkgewers die werkers finansieel tegemoet omdat hulle wéét hulle behoort na regte reeds ʼn rooiseëlsertifikaat te hê. Hierdie werknemers kan egter steeds nie vir ander poste by ander werkgewers as erkende ambagslui aansoek doen sonder die sertifikaat nie.”
Solidariteit eis met hierdie aanmaning volledige rekenskap van elke betrokke instelling in die sertifiseringsproses, asook ʼn duidelike plan om die agterstand dringend uit te wis.
Indien daar nie binne vyf werksdae ʼn bevredigende antwoord ontvang word nie, sal verdere regsaksie sonder kennisgewing volg.
Sien die aanmaning hier aangeheg.
Die Solidariteit Ambagnetwerk doen intussen ʼn beroep op alle geaffekteerde jong ambagslui om by die groepsgeding aan te sluit deur ʼn e-pos te stuur na ambag@solidariteit.co.za.