Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
7 uur gelede
departement-se-slaple-laat-pretoriase-skole-sonder-krag

Foto Krediet: OkayDeer

Departement se slaplê laat Pretoriase skole sonder krag

Dit verg krisisbestuur deur skoolhoofde en beheerliggame by sommige skole in Pretoria om die ligte aan te hou nadat die kragtoevoer na skole afgesny is weens die Gautengse onderwysdepartement se wanbestuur. 

Solidariteit se Onderwysernetwerk het met groot kommer kennis geneem van etlike skole in die hoofstad wat noodplanne moet maak, aangesien hulle die prys betaal vir die departement se versuim om erfbelasting te betaal.

Hierdie situasie raak tans duisende leerders én onderwysers regstreeks en ontwrig onderrig en leer by die betrokke skole.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, is dit ondenkbaar dat skole hierdie straf moet verduur as gevolg van die departement se administratiewe en finansiële wanbestuur. 

“Skole verkeer reeds op verskeie vlakke onder groot druk. En nou dít,” sê Botha.

“Sonder krag kan onderwysers nie hul werk behoorlik verrig nie, aangesien basiese funksies van ʼn moderne skoolomgewing – soos digitale toegang, rekenaar-administrasie, kommunikasie en selfs sekuriteitstelsels – in die gedrang kom.”

Botha sê uiteindelik is leerders weereens die grootste slagoffers in ʼn situasie wat sonder enige toedoen van skole self ontstaan het. Hy beskryf dit as uitsluitlik die gevolg van die departement se versuim om sy verantwoordelikhede na te kom.

“Dit is onaanvaarbaar dat skole letterlik in die duister gelaat word weens die departement se nalatigheid. Onderwysers en skoolbesture doen alles in hul vermoë om die stelsel staande te hou, maar word telkens deur die departement in die steek gelaat,” sê Botha.

“Hoofde en beheerliggame moet nou krisisbestuur toepas en doen alles moontlik om onderrig onder moeilike omstandighede te laat voortgaan. Bykomende fondse moet aan onder meer kragopwekkers toegewys word om die druk wat onderwysers ervaar te verlig.” 

Solidariteit se Onderwysernetwerk beklemtoon dat hierdie krisis deel vorm van ʼn groter probleem. 

“Soos ons reeds gewaarsku het, is die Gautengse onderwysstelsel besig om te steier onder die gewig van swak beplanning, onvoldoende infrastruktuur en die departement se onvermoë om sy basiese pligte na te kom. 
“Hierdie jongste krisis bevestig daardie bekommernisse,” sê Botha.

Die Onderwysernetwerk werk tans saam met vennote binne die breër Solidariteit Beweging om oplossings te vind om die onmiddellike elektrisiteitsvoorsieningskrisis te verlig en te verseker dat onderwys nie verder ontwrig word nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel